Brink-gesin: ‘Ons kan die gebede aan ons lywe voel’

Danie en Lise Brink by hul kinders, Johan, Mieke en Daniël (Mei 2017). Foto: René Roux

Danie Brink kom groet my by my motor toe ek voor die huis in ʼn stil woonbuurt in Pretoria stilhou. Voor in die tuin onder die heerlike koelte van die bome is ʼn trampolien, twee selfgemaakte swaaie en ʼn foefie-slide – ʼn duidelike aanduiding van die kinderstemme wat die vertrekke in hierdie huis vul.

Die beeld in my geestesoog van die ure wat laggende, uitbundige kinders al in hierdie voortuin deurgebring het, is amper genoeg om die tragiese gebeure van 16 Desember 2016 te vergeet. Maar op Danie se gesig sit die hartseer nog duidelik geëts – ʼn onmisbare teken van die donker dieptes waardeur hierdie man sy gesin elke dag, tree vir tree, steeds lei.

Die Brink-egpaar en hul vyf kinders was daardie dag op pad na hul vakansiebestemming toe een band van die motor op ʼn pad buite Theunissen in die Vrystaat losgekom en die voertuig gerol het. Die egpaar se oudste seun, André (12), en hul jongste dogter, Rachel (8), is op slag dood. Johan (10) het kopbeserings opgedoen, terwyl Lise (43) baie ernstig beseer is. Danie, Mieke (15) en Daniël (2) het slegs ligte beserings opgedoen.

Danie en Lise Brink by hul huis in Pretoria (Mei 2017). Foto: René Roux

Johan is ʼn paar dae ná die ongeluk uit die hospitaal ontslaan, maar Lise was twee weke lank in ʼn geïnduseerde koma weens die aard van haar beserings. In dié tyd is haar linkerbeen bokant die knie geamputeer en haar galblaas verwyder. Sy was 70 dae lank in die hospitaal.

Vir die duisende mense wat hulle bygestaan, boodskappe gestuur en vir hulle gebid het, het Danie en Lise net die grootste dankbaarheid – ʼn dankbaarheid wat moeilik is om te verwoord, sê Danie. “Wanneer dit swaar gaan, kan ons aan ons lywe voel hoe daardie duisende gebede ons dra. Dit is hoekom ons nie eens wil begin om spesifiek te wees oor aan wie ons almal dankie sê nie, want ons sal drie dae lank dink en steeds die helfte van die mense vergeet wat ons op ʼn manier gehelp het. Ons kan net sê ons staan verstom en is ongelooflik dankbaar.”

Daniël Brink. Foto: René Roux

Klein Daniël dartel tussen ons voete deur en flits geredelik ʼn groot glimlag op versoek van die fotograaf-tannie. “Ek het op ʼn dag besef hoe logies [Daniël] oor hierdie hele ding dink,” sê Danie. “Lise was toe nog in die hospitaal. André en Rachel is in die hemel en Daniël het geweet Lise kom binnekort terug. So toe vra hy, wanneer kom André en Rachel dan terug. Die hemel is vir hom net ʼn ander plek as waar ons is. Hy maak daardie logiese vergelyking. Dit was nie ʼn emosionele ding nie, net ʼn feitelike vraag.”

Die trane loop vinnig wanneer ek Danie en Lise vra hoe dit met hulle gaan. “Dit gaan op en af. Vandag is weer ʼn moeilike dag. Die verlange na ons kinders is op en af, maar dit is amper heeltyd moeilik,” sê Danie emosioneel. Lise se oë skiet dadelik vol trane en sy druk haar man se hand styf vas. “ʼn Mens raak hartseer as jou maatjie hartseer is. ʼn Mens kan nie net staan as jou man se hart so seer is en jy word nie geraak nie. Ons hartseer raak mekaar,” sê sy.

Johan Brink. Foto: René Roux

“Maar dit is nie ʼn slegte ding nie. Trane is genesend, dit is hoe God ons geskape het. Ons harte raak seer en jou hart is vrék seer as jou kind doodgaan. Daar is geen ander manier om dit uit te druk nie. Maar as jou hart seer is en jy huil, is dit asof God ʼn pleister op jou hart plak en jou weer gesond maak. Ek en Danie weet nie hoe baie ons nog gaan moet huil voor ons gesond is nie, hoeveel pleisters nog geplak moet word nie, maar ons weet dit is genesend en ons kan nie ons trane wegwens nie. Dit moet gebeur sodat ons weer ʼn beter ma en ʼn beter pa vir ons ander kinders kan wees.”

Terwyl Lise praat, vou Danie sy arm beskermend om haar skouers. Dit is ooglopend duidelik hoe hulle mekaar steeds elke dag deur hierdie swaarkry staande hou.

Johan, Daniël en Mieke Brink. Foto: René Roux

ʼn Groot gedenkdiens is op 22 Januarie vir André en Rachel in Pretoria gehou. Die amptelike begrafnis, wat slegs deur familie en goeie vriende bygewoon is, is op 22 April gehou. “Ons het vooraf almal knoppe op die maag gehad en geweet hoe ʼn moeilike dag dit gaan wees,” sê Lise. “Dit is ongelooflik hoeveel genade ons daardie dag beleef het. Ons kon daardie dag voel hoe baie mense vir ons bid. Gelowige mense se gebed het ʼn kragtige uitwerking en ʼn mens besef dit so duidelik. Dit is verskriklik moeilik en jy dink aan jou kinders, maar die Here gee jou regtig die krag om aan hulle te dink daar waar hulle in die hemel is en nie daar in die grond nie. Ons het dit regtig reggekry om die dag só te ervaar en daarvoor is ek bitter dankbaar.”

In ʼn stuk wat Mieke oor André en Rachel geskryf het, en wat ook op die begrafnis voorgelees is, vertel sy hoe sy uitsien om hulle eendag weer in die hemel te ontmoet. “Ek mis vir Boeta en Lalla elke minuut van die dag. Vir Lalla mis ek die meeste wanneer ek verby haar bed stap. Vir Boeta mis ek die meeste by stoei en wanneer ek en Hannie stoei toe en terug ry,” skryf sy. “Soms praat ek sag met hulle wanneer ek verby hulle foto’s loop. Meestal sê ek: ‘Ek mis jou’ drie of vier keer. Soms sê ek ‘jou liewe ding’. Nou en dan kry ek moed bymekaargeskraap en dan kyk ek video’s of foto’s van Boeta en Lalla op my foon. Dit maak my ongelooflik hartseer en ek huil elke keer.”

Danie en Lise Brink by hul kinders, Johan, Daniël en Mieke. Foto: René Roux

Intussen is die Brink-gesin stelselmatig besig om na hulle normale roetine terug te keer. Danie is terug by die werk, Johan en Mieke het hulle tuisonderrigprogram hervat en Lise ondergaan tans twee keer ʼn week fisioterapie om al hoe makliker met haar prostese oor die weg te kom. Haar arm, rug en kopwond het sonder chirurgie herstel en hoewel sy nog nie sensasie in haar kakebeen (wat sy tydens die ongeluk gebreek het) het nie, sal dit ook mettertyd terugkom.

“Ons dae begin so ʼn bietjie stadiger as gewoonlik. Waar Lise altyd sou tuisbly en alles vir my gereed kry sodat ek betyds by die werk is, vat dinge nou ietwat langer. Sy doen reeds al baie, maar my dag op kantoor begin effens later,” sê Danie. “Ek dink vanoggend terwyl ek vir haar koffie maak, sy het vir 20 jaar lank elke oggend vir my koffie gemaak. As ek vir die volgende 20 jaar elke oggend vir haar moet koffie maak, dan is ons eers gelyk.”

Danie en Lise Brink by hul huis in Pretoria (Mei 2017). Foto: René Roux

Danie sê hy verkies om Lise en die kinders in die oggende saam te neem werk toe, omdat dit byna “terapeuties” vir hulle is om by mekaar te wees. “Dit is vir my sleg as ek daar is en ek weet dit is vir haar sleg om hier te wees, so dit is vir ons albei beter om by mekaar te wees.”

Net minder as R300 000 is in Maart deur die Hardloop vir Lise-veldtog ingesamel om by te dra tot die koste van ʼn gevorderde prostese wat Lise in staat sal stel om oor ʼn paar jaar saam met Danie te kan draf. Lise verduidelik dat dit ʼn proses is om te leer hoe om normaal met die prostese te loop, maar dat sy dit al hoe beter regkry.

“Aan die begin het ek ʼn paar keer geval. ʼn Mens vergeet so ʼn bietjie of jy is gefokus op iets anders terwyl jy loop en dan val jy. Maar dit is maar net ʼn vrees wat jy moet oorkom. Jy sal nie ʼn arm of ʼn been breek van die val nie; so as jy val, staan jy maar net weer op. Ek vat dit dag vir dag en stel vir myself klein doelwitte. Ek het vandag dit reggekry om die motor self in die motorhuis in te trek sonder om ʼn muur te tref. Die moontlikheid van draf is nog baie ver in die toekoms, maar beslis vorder ek,” sê sy.

Foto: René Roux

Haar oë skiet weer vol trane en sy vroetel met die snesie op haar skoot. “Ek het vier mense om voor te lewe en dít is my grootste dryfveer. Die Here het twee van ons gevat vir wie Hy al in die hemel sorg, maar ek het my liefie en drie kinders vir wie ek lewe. Die Here het my gespaar en daar is ʼn doel daarvoor.”

Danie sê op moeilike dae dink hy soms aan die duisende mense wat vir hulle bid en dan wonder hy hoe swaar dit nie sou gegaan het as daar nie so baie was wat hulle in hul gebede aan die Here opgedra het nie. Lise is ʼn oomblik stil, voor sy byvoeg: “My boodskap aan al daardie mense wat vir ons gebid het, is om nooit op te hou glo in Jesus Christus nie, want dan gaan jy saam in hierdie ongelooflike plek in die hemel wees,” sê sy.

“Moenie dat die wêreld se strooi en swaarkry jou wegvat van die Here nie. Die Here sê vir ons, my genade is vir jou genoeg, elke dag. Gebruik die pyn van die lewe om te groei in jou geloof. En dankie. Ongelooflik baie dankie. Jul gebede het ons gedra.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

18 Kommentare

Big daddy ·

Geen trooswoord kan ooit genoeg troos bring in hulle harte. Al wat ek kan se is Joh. Dink aan julle en sal bid vir julle.

Janet ·

Goed om te hoor dit gaan ok met julle. Ja, daar moet nou n ander normaal geskep word maar ons weet God se genade is daar vir julle. En klein wonderwerke sal elke dag julle deel wees. Sterkte

al ·

Dankie Maroela deur ons van die vordering in te lig van die Brink gesin. Sterkte aan julle, julle is sulke groot ligdraers vir Christus, deur aan mense te wys aan die einde vd dag is daar tog HOOP.

Dankie ·

Dankie Maroela en Brink gesin vir die “update”, ek dink ons almal wat onverpoos vir jul gebid het, waardeer hierdie berig. Lise, ek is bly om weer ‘n glimlag om jou mond te sien, ek is bly jy leef vir Danie & die ander 3tjies wat saam julle is, dit is die belangrikste, dit wys alle gebede vir julle is verhoor. Mag dit net nog beter en beter gaan en jul met klein kinders byd ie dosyne geseen word.

Frieda ·

Julle is ‘n wonderlike voorbeeld vir ons almal – dankie!!
Sterkte met die pad vorentoe xxxx

Veronica ·

Dankie vir die opvolg! Ons gebede omvou jul nog steeds en dra julle op aan God vir troos en genesing!

Veronica ·

Dankie vir die opvolg. Ons gebede omvou jul nog steeds en dra jul op aan God vir troos en genesing. Sterkte, dapper mense.

Pop ·

Rou eindig nooit, maar dit verander. Dit
is ‘n deurgang, nie ‘n plek om te bly nie. Hartseer is nie ‘n teken van swakheid of gebrek aan geloof nie. Dit is die prys van die liefde.

BOLANDER ·

So bly dit gaan beter met julle. Die hartseer sal altyd daar wees. maar herhinneringe gaan nooit weg nie.

CHRISTA ·

Dis ook my lewensleuse: Hou jou oe op die liewe HERE en jy sal op stormwaters kan loop soos Petrus!! Sodra jy na die storm kyk wat onder jou woed, sink jy soos ‘n klip!! Die liewe HERE dra jou elke dag deur met sy genade, liefde en bystand!! Hy is ALTYD by jou – hou net sy hand vas!!!

Nicolene ·

En dan kla ons so maklik oor al ons issues, skete en pyne…..
Dan besef jy werklik waardeur hierdie mense is.
God is GOOD! Elke dag sal ek meer en meer fokus op die wonderlike dinge wat ek elke dag beleef ipv al die negatiwiteit.
Wees geseënd liewe Brink familie

Tanya ·

Job 14
“U het besluit oor die lengte van ons lewe. U het bepaal hoeveel maande ons sal leef”
Sterkte verder vir die Brink gesin.

Anna-Mart ·

Dankie vir die stuk oor die vordering. Ons bly steeds aan julle dink en vir julle bid. Baie sterkte vir die pad vorentoe.

Landa Driessen ·

Ek bid dat Jesus se genade julle sal dra deur al die moeilike tye wat nog voorle! My skoonsus het haar enigste 2 dogters amper 2 jr terug alby in n motorongeluk verloor…. en ek sien haar seer elke dag raak…dit was Carli en Lauri Huyser van Pta Noord. My man het ook sy been verloor in 2009, ook bokant die knieg…dis n lang pad na herstel maar Lize jy sal wen! Dis moeilik…klein goedtjies wat mense nie werklik verstaan nie… soos om toilet toe te gaan saans… die stompie raak seer… ag ek wens ek kan jou n drukkie gee! Sterk staan super vrou! En Danie… dankie dat jy jou familie so mooi bystaan… God kyk na julle as familie♡ liefde Landa Driessen

Joyce ·

Ons Almagtige en Alomteenwoordige God en Hemelse Vader, U is getrou Here.
Ons loof U want U maak dit moontlik vir Danie, Lise, hulle kinders, familie en vriende om op te staan in U naam. Here ons staan in geloof saam met hulle op, want ons glo dat U reeds die stryd gewen het. U maak dit moontlik vir hulle om U krag en vrede uit te straal vir die wêreld -vrede en krag wat die wêreld nie verstaan nie. (Joh 14:27)
Here, dankie dat U hulle nooit verlaat het nie (Josua 1:5) en hulle steeds elke dag vashou, deur mekaar en deur ander omring met liefde, want U is liefde. Here, dankie dat ons getuies is van U Koninkryk van liefde in hulle gesin .
Here Jesus U bou U Koninkryk deur hulle getuienis, dis hulle getuienis wat vir soveel van ons in gebrokenheid en verlatenheid HOOP gee, want U is ons Koning en U genade het geen einde nie omdat ons soos die Brinks nooit van U liefde geskei kan word nie. (Romeine 8:31-39)
Here God, ons sal saam met die Brinks opstaan in U naam as ons val, ons sal ons oë saam met die Brinks op U gerig hou op U en op die water loop, want vir U is NIKS ontmoontlik nie. Jesaja 41:10; Fil 4. Amen, Amen, Amen

Yvonne ·

Dankie dierbare Vader vir die krag van gebed. Die voorbeeld van hierdie geliefde gesin en elke belofte in U Woord wat troos bring.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.