Brink-gesin se ongeluk: ‘Hul geloof gee hul krag’

Danie, sy vrou Lise en van voor Rachel, Daniël, André, Johann en Mieke.

Danie, sy vrou Lise en van voor Rachel, Daniël, André, Johann en Mieke.

Dr. Danie Brink, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, se vrou, Lise, kan moontlik Maandag na Pretoria oorgeplaas word ná die tragiese ongeluk wat die lewe van twee van die egpaar se kinders geëis het op pad na hul Kersvakansie saam met familie.

Volgens dr. Dirk Hermann, voorsitter van die direksie van Solidariteit Helpende Hand en bestuurshoof van Solidariteit, gaan dit beter met Lise (42) en is sy nie meer in lewensgevaar nie. “Sy begin reageer veral as die verdowing gelig word. Sy probeer selfs haar oë oopmaak en reageer op die pyn. Mens kan duidelik sien dat daar verbetering van gister tot vandag is.”

Lise het ernstige kopbeserings, breuke aan haar linkerarm en ʼn ontwrigte linkerknie opgedoen. Hermann het gesê Lise moet na ʼn hospitaal in Pretoria oorgeplaas word om verdere chirurgie aan haar kaak te ondergaan. “In dié stadium is die dokters so tevrede met haar vordering dat sy moontlik al môre oorgeplaas kan word. Almal sal baie dankbaar wees, want dit sal beteken Lise se toestand het verbeter en dan kan hulle huis toe kom.”

Volgens Hermann gaan dit ook baie beter met die egpaar se seun Johann (9). Hy het ook kopbeserings opgedoen. “Hy sal waarskynlik ook môre ontslaan word aangesien die dokters baie tevrede is met sy vordering.” Hermann het gesê dit gaan in die omstandighede goed met die ander kinders, Mieke (15) en Daniël (2).

“Danie ervaar nog pyn weens die ongeluk en het natuurlik ʼn ongelooflike klomp emosies wat hy moet hanteer. Sy vrou is nog in ʼn ernstige toestand en hy moet die verlies van sy twee kinders hanteer. Hy moet ook die ander kinders bystaan om hul verlies te verwerk. Maar hy doen dit absoluut uit sy geloof en kry so sy krag.”

Volgens Hermann is die ondersteuning wat die Brink-gesin plaaslik en internasionaal ontvang het oorweldigend. “Van die ontvangsdame by die hospitaal tot elke verpleegster, familie, vriende, die plaaslike Helpende Hand-tak en gemeente, gebedsgroepe deur vreemdes, ou vriende, nuwe vriende, die vroue by die gastehuis wat broodjies maak en nog meer. Dis daardie dubbele emosie, die pyn en hartseer, maar ook dankbaarheid vir liefde. Danie en Lise se predikant het vir drie dae in ʼn gastehuis kom bly om hulle te ondersteun.”

Hermann het gesê André (13) en Rachel (8), wat in die ongeluk dood is, se begrafnis is onbepaald uitgestel. “Die familie wil Lise die kans gee om te herstel en haar kinders se begrafnisse by te woon. Sy weet nog nie hulle is dood nie.”

Brink, sy vrou en vyf kinders, was op pad om by hul familie aan te sluit vir hul Kersvakansie en het beplan om op Theunissen oor te slaap. Brink het buite Theunissen beheer oor die voertuig verloor, waarna dit die pad verlaat en verskeie kere gerol het, voordat dit in die veld langs die pad tot stilstand gekom het. Die linkeragterwiel het vermoedelik losgekom of ʼn band het gebars.

Lees alle vorige berigte oor die Brink-gesin op Maroela Media.

  • Die Solidariteit Beweging het intussen ‘n Facebook-blad geskep om die publiek op hoogte te hou met nuus oor die Brink-gesin en Lise se vordering, en waar die publiek hul ondersteuning kan uitspreek. Besoek die Facebook-blad hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

ada ·

Dit bly n ramp en ek vertrou dat die Here sterkte sal gee vorentoe met al die verskriklike hartseer.

MCS ·

Sjoe, dit moet so vreeslik wees, arme mamma! Mag God haar krag en kalmte gee as sy die nuus hoor. Sterkte aan die familie, net die krag van die drie enige God kan mens deurdra!

Michiel ·

Sterkte dr Brink! Ons hou jou en die gesin in ons gedagtes! Mag julle ondenkbare pyn beter word deur almal se gebede!

Sarie ·

Ek dank ons Vader, vir die verbetering in Lise & Johann se toestand & wèèt dat Hý gebede verhoor. Ek glò dat, netsoos Hý fisiese genesing teweeg bring, Hý dit op àlle ànder gebiede in hierdie gesin se lewens ook sal doen. Hý sal vir Dr Danie die krag gee, om die bittere nuus aan sy vrou oor te dra… Ek bid steeds vd herstel van àlmal se beserings & bowenal vir krag & genade vir die pappa, wat sèlf beseer is, maar die ànker vir sy vrou & kinders moet wees… Vader, laat U wil geskied… Àmen…

wilma ·

Vader ons smeek U om die gesin styf styf vas te hou en vi Danie die woorde in sy mond te le wanneer hy vi sy vrou die tragiese nuus moet oordra van hul kindertjies wat gesterf het. Dankie Here. Amen

Joe ·

Sjoe …. het nie woorde om te beskryf hoe tragies hierdie ongeluk is nie , emosies , hartseer & trane le vlak in my ! Dit is uiters skokkend & tragies om hierdie tyd van die jaar deur sulke hartseer omstandighede te gaan . Baie sterkte aan die gesin & familie , mag elkeen van julle styf vas gehou word & mag Jesus se liefde julle om vou in hierdie stukkende tyd !

Michele ·

Ek ken jul as familie van geen kant af nie. Maar die gebeure rondom jul familie het my diep geraak.
Woorde is te min.
Ek bid en vra God se groot genade oor jul familie. Dat Hy vir julle sal dra en omvou met Sy groot genade en liefde in hierdie tyd.

Liedie ·

Dit is verskriklik hartseer, my hart gaan uit na die gesin, Danie en die kinders wat tans soveel hartseer beleef. Lise wat nog nie eers weet van die 2 kinders nie, en self nog herstel. Hulle is in my gebede, bid dat God hierdie gesin net styf sal toevou in Sy arms en styf teen sy bors sal vasdruk en vertroos.

Rina Kotze ·

Ai, dis klaar hartseer om ‘n geliefde te verloor aan die dood, en so naby Kersfees is eers erg!

Baie simpatie met die Brink familie en veral vir Danie. Sterkte ook aan Llise wanneer sy die nuus moet ontvang van haar 2 kinders.
Mag die Heer met julle wees in hierdie hartseer tyd.
My gebede is met julle.

Sebastiaan ·

Dit is ‘n absolute ramp en het ons diep geskok. ‘n Mens weet nie wat om te sê nie, behalwe dat ons vir die Brink-gesin bid vir herstel en dat hulle in ons gedagte is. Hulle geloof sal hulle deur die donkerte dra. Sterkte, Danie, Lize en kinders.

Linda ·

Onse Vader vou asb hierdie gesin en familie in U hande toe en beskerm hulle in hierdie tyd van hartseer en verdriet! Net U kan hulle help in hierdie tyd.

Gert en Marieta Enslin ·

Danie, Lisa en familie. Ons is saam met julle in hierdie tyd. Mag julle die krag en genade ontvang om die omstandighede te verwerk. Ons ken julle as besonderse mense met stewige grondbeginsels. Baie sterkte.

Margaret van Wyk ·

O dit is terrible teriible terrible. Ek dink aan julle

BOLANDER ·

My gebede is dat HY almal van julle sal dra deur hierdie moeilike tyd. Baie sterkte.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.