Brink-gesin se ongeluk: Lise kan kinders se gedenkdiens bywoon

Dr Brink en sy vrou, Lise en hul kinders. Links onder is Rachel, baba Daniël, André, Johann en agter hom Mieke.

Dr Brink en sy vrou, Lise en hul kinders. Links onder is Rachel, baba Daniël, André, Johann en agter hom Mieke.

Danie Brink het Donderdag bevestig sy vrou Lise kan Sondag hul twee kinders, André (13) en Rachel (8), se gedenkdiens bywoon.

Lise, wat steeds in die hospitaal behandel word ná die gesin se motorongeluk op 16 Desember, het die afgelope Sondag vir die eerste keer eers gehoor van André en Rachel se afsterwe.

Volgens Danie het die mediese span by Unitas gister amptelik hul goedkeuring gegee. “Ons is so dankbaar vir dít wat selfs net ʼn week gelede onmoontlik gelyk het. Baie dankie aan elkeen wat gereeld aan haar dink en vir haar bid.”

Maroela Media het vroeër berig Danie, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, Lise en hul vyf kinders was verlede jaar op 16 Desember in ʼn ernstige motorongeluk betrokke. André en Rachel is in die ongeluk dood terwyl Lise kritieke beserings opgedoen het. ʼn Deel van haar linkerbeen is geamputeer.

Intussen het Ernst Vorster, woordvoerder van Solidariteit Helpende Hand, die publiek uitgenooi om ook die gedenkdiens Sondag in Pretoria by te woon. “Ons ontvang talle versoeke vanuit die publiek om die gedenkdiens vir André en Rachel by te woon,” het hy gesê. “Ons bevestig dan graag hiermee dat Danie sy wens uitgespreek het om deur die gedenkdiens troos te bied aan almal wat hul gebede en gedagtes in die moeilike tyd aan die familie gewy het en dat u welkom is om die diens by te woon.”

Vorster het die publiek versoek om die volgende skakel te besoek om hul bywoning te bevestig: klik hier om jou bywoning te bevestig
“Die kerk se fasiliteite kan ongeveer 3 500 mense akkommodeer en daar is genoegsame parkering,” het hy bygevoeg.

Dr. Jacobus de Koning van Danie se gemeente, die Antipas Gereformeerde Baptiste Kerk, neem die diens waar en sal preek uit Efesiërs 1.

Die diens sal ook regstreeks gebeeldsend word vanaf Solidariteit Helpende Hand se YouTube-kanaal en Facebook-blad, sowel as op ʼn spesiale Facebook-groep wat vir die gesin opgestel is en van Maroela Media se Facebook-blad af.

Besonderhede van die gedenkdiens:
Plek: Ouditorium van die Hatfield Christian Church (HCC)
Adres: January Masilelarylaan (voorheen Generaal Louis Botha) 551, Pretoria
Datum: Sondag, 22 Januarie 2017
Tyd: 14:30
RSVP: Klik hier om jou teenwoordigheid en getalle te bevestig

Lees alle vorige berigte oor die Brink-gesin op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Juanette ·

Prys ons GROOT GENEESHEER en VADER. Dit is fantastiese nuus! Danie en Lise, mag God julle versterk dag na dag. Mag julle vertroosting, genesing en baie seën ontvang. Dankie Hemelse Vader vir die wonderwerke wat U daagliks in hierdie gesin doen, ten spyte van die trauma en seer.

wilma ·

Asb Here ons dra hierdi gesin op aan U. Gee hul asb krag en sterkte en vou hul tu in U Liefdevolle Hande. Troos hul Asb Here en bring kalmte in hul gemoed. Dankie Here Vir U Liefde .

mel ·

By God is niks onmoontlik ni! Dankbaar dat Lise di gedenkdiens kan bywoon, ek bid dat di Here sy arms van vertroosting styf om julle sal vashou, ek dink ni daar is iets erger as di seer waardeur julle gaan ni. Baie sterkte!!

Susan ·

???? sterkte vir die hele gesin maar veral vir Lise. Want Ek self as ouer weet nie hoe Ek dit sou maak nie. …. ??? magbdie Here Sy hand verder by hul hou ????

Columbiana ·

Dis baie mooi dat mense hulle so ondersteun maar moet die vrou nie maar kans gegee word om in privaatheid te rou nie? Gaan sy ooit regtig kans kry as sy die hele tyd onder die media soeklig is? Moet ons nie miskien maar bietjie terugtree en haar kans gee om so onbeskryflike pyn saam met net haar familie te verwerk nie?

manda ·

duidelik volg jy ni die verhaal nie dis net n gedenkdiens n privaat teraards besteling sal later plaasvind vir slegs die Familie.

T ·

Ek dink Columbiana het n punt beet. Ek is vreeslik bly dit gaan soveel beter met Lise. STERKTE! Aan die Brink gesin ons sal aanhou bid vir julle.

Maria Van Dieweeck ·

Ag tog! DANIE SE WENS is tog seker belangriker as enige kommentare.

Johannes ·

Sterkte broer Jacobus! Mag die Here jou gebruik! “Here skenk u troos aan die Brinks en verheerlik u Naam!”

Rina Rossouw van Pretoria. ·

O Here vou hierdie gesin toe in U hande…..Here net U kan heel – net U kan troos. Baie sterkte en bid nogsteeds vir julle almal….Jul geloof sal jul deurdra…..

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.