Brink-gesin se ongeluk: Lise na Pretoria oorgeplaas

Dr Brink en sy vrou, Lise en hul kinders. Links onder is Rachel, baba Daniël, André, Johann en agter hom Mieke

Dr Brink en sy vrou, Lise en hul kinders. Links onder is Rachel, baba Daniël, André, Johann en agter hom Mieke

Lise Brink, vrou van dr. Danie Brink, is Maandagaand ná ʼn dag van talle uitdagings in die Life Wilgers-hospitaal in Pretoria opgeneem.

Dr. Dirk Hermann, voorsitter van die direksie van Solidariteit Helpende Hand en bestuurshoof van Solidariteit, het gesê ʼn helikopter het Maandag gereed gestaan om Lise (42) van die Mediclinic Welkom na Pretoria te vervoer. “Sy is van die intensiewesorgeenheid na die helikopter geneem. Daar was egter fout met die helikopter en dit kon nie opstyg nie. Lise het intussen ʼn koors begin ontwikkel en sy is teruggeneem na die intensiewesorgeenheid.”

Volgens Hermann is die helikopter herstel en is Lise weer ingelaai voor dit na Pretoria begin vlieg het. “Die helikopter kon egter weens stormweer nie in Pretoria land nie en het teruggedraai na Johannesburg om by Milpark-hospitaal te land. Lise is van daar met ʼn ambulans na die Wilgers-hospitaal geneem.”

Hermann het gesê die drukking op Lise se been is by die Wilgers-hospitaal verlig voor sy na Unitas-hospitaal oorgeplaas is vir ‘n noodoperasie. “Sy moet so gou moontlik kaakchirurgie en ‘n operasie aan haar been kry. Die feit dat sy suksesvol oorgeplaas is, is ʼn baie groot stap maar uit die aard van die saak is dit nog ʼn baie lang pad wat voorlê. Sy is nog onder verdowing en sal moontlik nog vir ʼn hele ruk lank wees. Die dokters is ook nog bekommerd oor die beserings aan haar nek.”

Dr. Brink, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, en sy drie kinders, Johann (9), Mieke (15) en Daniël (2), het intussen ook Maandag van Welkom na Pretoria teruggekeer nadat Johann ook uit die hospitaal ontslaan is. “Dit is gemakliker vir die familie hier, aangesien hul huis en hul ondersteuningsnetwerk hier is. Daarom is ons baie dankbaar dat Lise oorgeplaas kon word en dat daar ook nou voortgegaan kan word met haar herstelpad. Ons is dankbaar oor haar vordering.”

Hermann het gesê André (13) en Rachel (8), wat in die ongeluk dood is, se begrafnis is steeds onbepaald uitgestel terwyl daar gewag word dat Lise kan herstel om die begrafnisse by te woon.

Brink, sy vrou en vyf kinders, was Vrydag in ʼn ernstige motorongeluk. Hulle was op pad om by hul familie aan te sluit vir hul Kersvakansie en het beplan om op Theunissen oor te slaap. Brink het buite Theunissen beheer oor die voertuig verloor, waarna dit die pad verlaat en verskeie kere gerol het, voordat dit in die veld langs die pad tot stilstand gekom het. Die linkeragterwiel het vermoedelik losgekom of ʼn band het gebars.

  • Die Solidariteit Beweging het intussen ‘n Facebook-blad geskep om die publiek op hoogte te hou met nuus oor die Brink-gesin en Lise se vordering, en waar die publiek hul ondersteuning kan uitspreek. Besoek die Facebook-blad hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

manda ·

my trane sit vlak in my vanoggend ek bid en dink aan julle liewe DR Danie ek kan my nie indink hoe U moet voel nie weet net n gemeenstak bid vir julle en julle is nie alleen in die tragedie nie.

manda ·

my trane sit vlak in my oe vanoggend ek bid en dink aan julle liewe DR Danie ek kan my nie indink hoe U moet voel nie weet net n gemeenstak bid vir julle en julle is nie alleen in die tragedie nie.

Didi Visser ·

Ai my hart is so seer vir julle part!. Mens het nie woorde nie. Baie baie sterkte!

Odette Van Rensburg ·

Woorde het ons nie in hierdie baie hartseer tyd. Ons bid vir Danie en sy gesin. Weet net ons van Helpende Hand ✋ Kraaifontein tak bid vir u en u gesin

Odette Van Rensburg ·

Helpende Hand ✋ Kraaifontein tak bid vir u en u gesin in hierdie baie hartseer tyd.

AJ ·

Baie sterkte vir jul gesin.My hart saam jul baie seer.Ons kan net bid vir julle

Marieta ·

Baie sterkte vir die hele gesin.Ons gebede gaan uit na julle.

Linda ·

Onse Vader ek vra U om U hand van geneesing en beskerming oor hierdie gesin te hou asb U is al een wat hulle kan heelmaak!

Werner ·

My innige simpatie aan gesin en familie. Baie sterkte vir julle.

JOHANNES ·

Sterkte vir die familie veral oor die Christus fees tyd.Julle as gesin is in ons gedagtes en gebede.

Piet ·

Liewe Jesus vou u arms om die gesin en vul hulle met u liefde en krag en asb laat Lise volkome herstel Danie ons harte gaan uit na julle alle sterkte

Susan Martins ·

Moot Oos Tak bid vir u en u gesin God is in beheer!!! Mag Jesus u gesin toevou met liefde

rbee ·

as ek die berig gemis het my verskoning.
Wat het gebeur dat die voertuig net van die pad gegaan het?

Sune van Heerden ·

Dagsê rbee

Soos ons in hierdie berig ook noem, het die inkeragterwiel vermoedelik losgekom of ʼn band het gebars.
Dit is nog nie duidelik wat gebeur het nie.
Almal was met veiligheidsgordels vasgemaak.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Johan ·

Danie ek bid vir julle en so ook my kerk hier in Bloem. Sterkte

Bokkie ·

Danie en gesin ons bede is dat God u en u gesin sal toevou in Sy liefde en genade en dat Hy u in hierdie hartseer tyd sal vertroos en dat u Sy vrede sal ervaar.
Dankie ook aan Dirk wat ons op hoogte hou.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.