Brink-gesin se ongeluk: Lise se operasie uitgestel oor longontsteking

Danie, sy vrou Lise en van voor Rachel, Daniël, André, Johann en Mieke.

Danie, sy vrou Lise en van voor Rachel, Daniël, André, Johann en Mieke.

Lise Brink se rugoperasie is Sondag uitgestel nadat sy longontsteking opgedoen het.

Lise is die vrou van dr. Danie Brink, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand. Die egpaar en hul vyf kinders was op 16 Desember 2016 in ʼn ernstige motorongeluk. André (13) en Rachel (8) is in die ongeluk dood. ʼn Gedeelte van Lise se linkerbeen is reeds geamputeer ná die ongeluk.

“Die operasie was geskeduleer vir 13:00,” het dr. Dirk Hermann, voorsitter van die direksie van Solidariteit Helpende Hand en bestuurshoof van Solidariteit wat as familiewoordvoerder optree, aan Maroela Media gesê. “Die operasie is noodsaaklik, maar nie kritiek nie en dus nie dringend nie.”

Volgens Hermann het Lise eergistermiddag reeds ʼn ligte koors begin ontwikkel. “Die chirurg het besluit om eerder nie die risiko te vat nie, en die rugoperasie uitgestel. ʼn Besluit sal na verwagting vandag geneem word wanneer sy geopereer sal word. Ons is dankbaar dat sy steeds stabiel is.”

Johann (9) is intussen ook weer in die hospitaal opgeneem nadat hy ʼn infeksie opgedoen het. “Hy het tydens die ongeluk ʼn redelike lang sny in sy kop opgedoen. Ons verwag dat hy vandag reeds ontslaan sal word,” het Hermann bygevoeg.

Die gesin was op pad om by hul familie aan te sluit vir die Kersvakansie en het beplan om op Theunissen in die Vrystaat oor te slaap. Brink het buite Theunissen beheer oor die voertuig verloor, waarna dit die pad verlaat en verskeie kere gerol het, voordat dit in die veld langs die pad tot stilstand gekom het. Die linkeragterwiel het vermoedelik losgekom of ʼn band het gebars.

Johann het reeds ʼn operasie in die Mediclinic Welkom ondergaan, maar is die Maandag, 19 Desember reeds ontslaan en het saam met sy pa, Mieke (15) en Daniël (2) weer teruggekeer na Pretoria.

“Die gesin het Kerstyd saam met die familie deurgebring, en dit was goed vir die kinders om vir ʼn oomblik uit die omstandighede te kon tree,” het Hermann bygevoeg. “Dit was vir die gesin moontlik om binne hierdie moeilike omstandighede steeds die vreugde van die boodskap van Kersfees te kon oordra.”

Hermann het gesê die Kersboodskappe op ʼn Facebook-ondersteunersgroep, wat Helpende Hand begin het, was ook oorweldigend. “Mens sien met dankbaarheid hoeveel liefde uitgestraal is. Mense is hierdie Kersfees deur trane aan mekaar gebind. Mense het deur die trane van die Brink-gesin liefde aan mekaar en die gesin bewys en só is daar op ʼn manier ʼn mooi boodskap op Kersfees oorgedra.”

Volgens Hermann is Danie dankbaar vir die mediese sorg en toegewyde mediese personeel van Unitas-hospitaal wat hul eie tyd oor Kersfees opoffer om ander mense te help. “Die engele van Kersfees is inderdaad die mediese personeel wat absoluut onbaatsugtig optree,” het Hermann bygevoeg. “Hulle verdien spesiale vermelding. Die dokter en spesialis, wat self sekerlik ook geliefdes het by wie hulle graag Kersfees wou deurbring, het gesê die tyd maak nie saak nie. Die personeel en verpleegsters het ook gereed gestaan.”

Hy het bygevoeg Danie is bekommerd oor Lise se longongsteking, maar danksy sy familie en gemeente, wat werklik simbolies in hierdie tyd Danie se hande omhoog hou, maak dit vir hom moontlik om self ook te genees en om genoeg tyd aan Lise se sy deur te bring.

Lees alle vorige berigte oor die Brink-gesin op Maroela Media.
Volg die ondersteunersgroep op Facebook.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.