Brink-gesin se ongeluk: Stap vir stap vorentoe

Danie, sy vrou Lise en van voor Rachel, Daniël, André, Johann en Mieke.

Danie, sy vrou Lise en van voor Rachel, Daniël, André, Johann en Mieke.

Lise Brink, die vrou van dr. Danie Brink, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, is steeds in ʼn stabiele toestand in die hospitaal.

Maroela Media het vroeër berig ʼn gedeelte van haar linkerbeen moes Woensdag noodgedwonge geamputeer word ná ʼn motorongeluk waarin twee van die egpaar se kinders dood is.

Dr. Dirk Hermann, voorsitter van die direksie van Solidariteit Helpende Hand en bestuurshoof van Solidariteit wat as familiewoordvoerder optree, het Vrydag aan Maroela Media gesê Lise sal binne die volgende 48 uur ʼn rugoperasie moet ondergaan.

“Ons is almal dankbaar dat sy al vir twee dae lank stabiel is. Die familie werk met ʼn filosofie van stappie vir stappie, en die afgelope twee dae is klein stappies vorentoe gegee,” het Hermann gesê.

Volgens hom het een familielid ook opgemerk dat Danie weer ʼn “veerkragtigheid” in sy stem het.

“Ons is dankbaar dat daar nie weer enige verdere terugslae was nie en sy kan nou voorberei word om die belangrike rugoperasie te ondergaan.”

Lise sal ook daarna nog ʼn gesigoperasie moet ondergaan om die breuke aan haar kakebeen te herstel.

ʼn Ondersteuningsgroep is intussen deur die Solidariteit Beweging op Facebook begin waar die publiek wat die gesin wil ondersteun, bemoedigende boodskappe aan Danie en sy gesin kan plaas. Meer as 4 000 persone het reeds by dié groep aangesluit.

“ʼn Mens besef die krag van gebed deur dié groep en mens word bewus van ʼn rustigheid wat daarmee gepaard gaan. Letterlik duisende mense bid saam vir die gesin,” het Hermann bygevoeg. “Nou, waar ons die Kersnaweek betree, is dit ʼn baie hartseer tyd vir die Brink-gesin, maar die ware gees van Kersfees omvou hulle in die vorm van mense. Dit is goed om te sien dat soveel liefde uitgestraal word tydens só hartseer insident.”

Hermann het ook bygevoeg hulle is dankbaar dat ʼn breinsensor, wat vroeër tydens ʼn prosedure geïnstalleer is om drukking op die brein te monitor, aandui dat die druk nou heeltemal onder beheer is.

Lise is steeds onder verdowing.

Lees alle vorige berigte oor die Brink-gesin op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

DPJ ·

Dit is werlik bemoedigend om die vordering te sien. Mag die Here jul ryklik vertroos in die komende weke. Ons dank God vir die verbetering.

Adam en Adelaide Boshoff ·

Ons is dankbaar vir elke stappie! Wees verseker van volgehoue voorbidding.

DPJ ·

Dankie vir ‘n God vresende man wat sy gesin nog so kan bemoedig in God se naam.
Die Here sal julle ook hierdeur dra dat jul sterker ander kant sal uitkom. Amen!

wes kaap ·

Baie baie sterkte vir die Brink gesin!!!! Die Here SAL julle hier deur dra, baie van ons bid vir julle!!!!

mpumalanga ·

Baie baie sterkte en weet by God is alles moontlik! Mag Hy julle dra en krag gee en vertroos.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.