Brink sê oor Tshwane se finansies

(Foto: Mayor Cilliers Brink/Twitter)

“Kritiek, maar herstelbaar.”

Só bestempel Tshwane se burgemeester, Cilliers Brink, die sukkelende metro se finansiële situasie presies 21 dae nadat hy tot dié amp verkies is.

Brink het Maandag verduidelik hoe Tshwane hom in die eerste plek in die benarde finansiële situasie beland het en hoe die metro hom daaruit gaan wikkel.

Die kort en die lank daarvan is egter dat die Covid-19-pandemie die metro groot skade berokken het, maar dat administrateurs die situasie vir eie gewin vererger het.

Tshwane se geldsake kon boonop nie ná die tydperk van Maart tot Oktober 2020 herstel nie.

“Twee dinge het in daardie sewe maande gebeur,” sê Brink.

“In die eerste plek is die stadsraad ontbind nadat verskeie opeenvolgende raadsvergaderings verhinder is om plaas te vind omdat daar nie ’n kworum vir die vergaderings was nie. Die veelparty-koalisie het nie destyds ʼn meerderheid gehad nie, en daarom het die opkomende ANC-en-EFF-koalisie dit as ʼn geleentheid gebruik om die stad onregeerbaar te maak.

“’n Verkiesing moes boonop in daardie stadium binne 90 dae plaasvind, maar dit het nooit gebeur nie weens die aankondiging oor die algehele inperking. Dít dae nadat die metro onder administrasie geplaas is.

“Die metro is toe tydens die alghele afsondering in die sorg geplaas van administrasies waarvan die ampstermyne in alle opsigte rampspoedig was,” aldus Brink.

Die nuwe burgemeester sê inkomste-invordering het steeds nie herstel tot die vlak waarop dit voor die pandemie was nie. Dít terwyl uitgawes toegeneem het.

Brink verduidelik dat die administrateurs destyds eindelik met behulp van ’n hofbevel verwyder is, maar omdat die veelpartykoalisie nie in daardie stadium ’n meerderheid gehad het nie, kon die stadsbestuurder, wat deur die administrateurs in dié amp geplaas was, nie vervang word nie.

Dit het beteken dat Tshwane tussen 2019 en 2022 nie ’n permanente stadsbestuurder gehad het nie.

Volgens Brink het die Stad Tshwane destyds die tydperk van administrasie met ʼn begrotingsoorskot binnegegaan. “Ná die administrateurs uitgegooi is, het burgemeester Randall Williams ’n tekort van meer as R4 miljard ontdek.

“Die eenvoudige punt is dat hoewel Covid-19 groot skade aan alle munisipaliteite se finansies aangerig het, Tshwane ʼn voorbeeld is van wat gebeur as jy alle demokratiese beheer en toesig in die bestuur van groot stad vir ʼn lang tydperk verwyder,” sê Brink.

“Om alles te kroon was daar ook ’n toename in bedryfsuitgawes sedert Julie 2019. Dit sluit in onregmatige salarisverhogings wat deur die vorige stadsbestuurder toegestaan is en ‘n topbestuur wat hul eie salarisverhogings goedgekeur het.”

Wat nou?

Brink het dit Maandag duidelik gemaak dat ʼn verbetering van dienslewering eenvoudig nie moontlik is nie mits Tshwane sy finansiële posisie verbeter.

Die metro sal daarom geen salarisverhogings in die volgende finansiële jaar toestaan nie.

Die metro se TshwaneYaTima-invorderingsveldtog sal ook verskerp word en onnodige uitgawes sal eenvoudig gesny word.

“Alles wat nie verband hou met water, elektrisiteit, riool, afval, paaie, parke, openbare beligting en veiligheid nie moet heroorweeg word,” sê Brink.

“Bates wat die stad nie kan beveilig, in stand hou of produktief gebruik nie, sal verkoop moet word.”

Brink sê die stad sal ook elke moontlike opsie ondersoek om te vergoed vir die skade en verliese wat deur beurtkrag veroorsaak is. Dit sluit in die oorweging van die nasionale tesourie se aanbod om bystand te verleen aan munisipaliteite met agterstallige Eskom-skuld.

Brink het wel ernstige bedenkinge oor dié skema en voel steeds dat die metro uiteindelik energieonafhanklikheid moet bereik.

Die stad se energietaakspan, wat onder burgemeester Randall Williams aangestel is, sal daarom binnekort aanbevelings doen oor hoe die metro sy eie energiebates, insluitend Rooiwal en Pretoria-Wes, kan gebruik om die stad se elektrisiteitsrekening te verlaag, sê Brink.

“Ons kan nie die status quo voortsit en bloot van verbruikers verwag om meer as inflasie en kosteverwante stygings te betaal nie. Tshwane sal sy eie stel veranderinge moet aanbring om by veranderende omstandighede aan te pas.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Mallie ·

Sterkte mnr Brink. Ek hoop jy gaan die pyp rook en nie soos jou voorgangers gedwarsboom word nie. Ek wens jou alle voorspoed toe. Mag ons Liewe Vader al die pad met jou stap.

Jywilwat ·

Dis nie hoe nuus nie. Maar, dit bleik ‘n nugtere aanduiding te wees waar die Tshwane Admininstrasie hom bevind en duidelike stappe vorentoe. Wees ten minste dankbaar daarvoor.

Harley Davidson ·

Die eerste keer in jare wat n burgemeester sin maak en weet waarvan hy praat.

Suid-Afrika Eerste - Vrydenker Vlakvark ·

Ek was vanaf 1967 – 2019 = 52 jaar ‘n inwoner van Pretoria. Hartseer om hier in die buiteland kennis te neem hoe swaar kriminaliteit ook Pretoria (en Tshwane) getref het. Maar laat ons dit reguit stel: Die ANC-leierskap is verantwoordelik vir die vestiging van die kultuur van burgerlike ongehoorsaamheid, kriminaliteit en minagting van die kriminele regstelsel. Die Thabo Bester sage is ‘n spieëlbeeld van die korrupsie in Suid-Afrika. Geen dame en dogter is veilig in Suid-Afrika en Pretoria nie.

Neestemmer ·

As ‘n Pretoria inwoner vir meeste van my lewe moet mens daarmee deel dat daai mooi stad dood is 10 jaar terug al. Die ANC terroriste is verantwoordelik daarvoor en het nie eers die vermoe om enigiets te verander behalwe om soos ‘n parasiet alles waarmee dit in aanraking kom te verteer nie.

ES ·

Die probleem is die huidige mense wat vir die raad werk – daar is diegene wat aspris nie hul werk doen nie. Daardie mense moet summier verwyder word van hul poste. Dit is hoogtyd dat die metros mense bevorder – of van hulle ontslae raak – deur om hul verkverrigtinge na te gaaan en as hulle nie presteer nie moet hulle waai.

Kokerboom ·

U laat ons weer hoop kry mnr Brink. Bid jou baie sterkte en uithouvermoeë toe! Die ANC /EFF HAAT orde!

Neestemmer ·

Bly om te sien Mnr Brink kan darem erken daars groot fout. Maar of hy die ANC kriminele cartel gaan kan aanvat wat orals soos kanker ingeweef is bo en onder hom in alle strukture, voor hulle hom ook “De Ruyter” gaan , die verskil maak of nie.

Persoonlik dink ek ongelukkig nie dat enige party wat liberaal is soos die DA regtig die rugraat het om met die ANC mafia te deel nie. Laasgenoemde speel nie volgens enige reels nie en mens deel eintlik met daai soort in die een taal wat hulle wel verstaan en dit behels toerusting soos guillotines, galgtoue en vuurpeletons,…..

Tino ·

n Man met met ‘n plan!

Ek stel voor dat daar ernstig opgetree word teen die kriminele as deel van die plan

Anonymouse ·

Ek het dit tot hiertoe gehad met die DA (en ja, die ANC is erger, maar dit is nie die maatstaf wat gebruik moet word nie). Ek was al uitgeskel deur DA verteenwoordigers oor my kritiek, en sleg gese deur DA lede. Maar ek begin weer luister na wat die nuwe burgermeester te se het. Vir een dink ek dat om openlik oor die probleme te praat en mense ingelig te hou, is iets wat al die partye kan begin doen. Dis ons geld wat hulle in beheer is oor, wat ons oorbetaal sodat ons dienste kan ontvang, en ons wil weet waar daai geld heen gaan. En watter hindernisse daar is. En dit geld vir alle vlakte van die regering.

Vettiemaragartos ·

Mnr Brink baie dankie dat jy bereid is om te sê wat ons almal vermoed. Vergrype is die grootste oorsaak van die raad se situasie.

Baie sterkte met jou werk voorentoe!!!!! Glo jy gaan ons almal se ondersteuning nodig hê!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.