British Airways en Kulula vlieg weer

(Foto: kulula.com)

British Airways en Kulula sal Donderdagoggend weer hul vlugte hervat nadat die Burgerlugvaartowerheid (BLO) Comair se lugvaartbedryfsertifikaat heringestel het.

Dié sertifikaat is Woensdagaand heringestel ná ’n deeglike hersiening van Comair, wat British Airways en Kulula.com in Suid-Afrika bedryf, se dokumente.

Die lugdiensgroep se dienste is oor die naweek opgeskort na aanleiding van ’n ondersoek na die onlangse vlaag veiligheidsvoorvalle.

Die BLO het egter sy assessering van bewyse wat Comair gedurende ’n oudit aan hom voorgelê het, Woensdagaand afgehandel waarna die lugdiensgroep se lugvaartbedryfsertifikaat met onmiddellike inwerkingtreding heringestel is.

“Die reguleerder wou Comair se voldoening aan die toepaslike burgerlugvaartregulasies bevestig. Die inspeksie het ook ten doel gehad om Comair se veiligheid‑ en gehaltebeheerbestuurstelsels na te gaan om nakoming te bepaal,” lui ’n verklaring deur die BLO.

Glenn Orsmond, uitvoerende hoof van Comair, sê die lugdiensgroep het vyf dae en vyf nagte lank gespook en nou saam met die BLO gewerk om te verseker dat die dokumente hersien word.

“Comair is bly dat die situasie uiteindelik opgelos is. Ons fokus is nou om ons bedrywighede so vinnig as moontlik te hervat sodat ons ons klante verder kan bystaan.”

British Airways en Kulula se vlugte sal in ’n gefaseerde wyse hervat word en passasiers word deur die lugrederye aangeraai om die vliegskedules op hul webwerwe na te gaan voordat hulle lughawe toe gaan. “Klante met bestaande besprekings sal direk gekontak word.”

Volgens Comair het passasiers die afgelope paar dae bes moontlik op vlugte van ander lugrederye geholpe geraak, “maar met Comair wat 40% van die kapasiteit in die mark bedryf, was daar nie genoeg sitplekke vir almal wat geraak is nie”.

Eise-storm kom dalk

’n Regskenner het intussen gesê Comair moet hom ná die afgelope dae se opskorting van vlugte nie net staal vir die terugbetaling van passasiers nie, maar ook vir moontlike skadevergoedingseise.

Pieter Walters, ʼn prokureur van Barnard Incorporated Attorneys in Centurion, meen passasiers kan moontlik aanvoer dat hulle skade gely het weens die skielike opskorting van ʼn vlug indien dit beteken het dat hul bykomende koste moes aangaan om byvoorbeeld alternatiewe reisreëlings te tref.

Walters waarsku ook dat passasiers skade kon ly indien die opskorting van hul vlug tot ander geldelike verliese gelei het.

Die verlies aan inkomste van ʼn passasier wat weens ʼn opgeskorte vlug nie ’n geleentheid kon bywoon waarmee hulle ʼn inkomste sou kon genereer nie, is maar een voorbeeld van ʼn moontlike skadevergoedingseis, sê Walters.

Hy wys egter daarop dat skadevergoedingseise oor die algemeen op ʼn individuele grondslag beoordeel moet word aangesien “die feite met betrekking tot elke individuele saak ʼn impak sal hê op die lewensvatbaarheid en kwantum van so ʼn moontlike eis”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Henri ·

Dit is baie goeie nuus vir lugreisers.

Die tweede deel van die artikel oor skadevergoeding is egter jammerlik. Dit is amper asof mense wat ontwrig is deur die BLO se besluit ‘n aanmoediging kry om eise in te stel.

Genadiglik kon die vlieëniers rampe voorkom in die gevalle wat aanleiding gegee het tot die BLO se vorige besluit, wat net ‘n pluimpie is vir Comair/Kulula se kwaliteit vlieëniers.

Marius ·

Die ekonomie is maar vrot. Wonder hoe lank hul nog gaan oorleef ?

Bella ·

Ek dink die BLO moet gedagvaar word. Hulle is skuldig aan ekonomiese sabotasie sou ek sê.

Hennie ·

Klomp BLO narre! Die laaste noodlottige vlieg ongeluk in SA was ‘n BLO vliegtuig… Bwaahhh hahahaha.. Klomp useless idiote! Dis wat gebeur as handlangers probeer regeer!

Suzette ·

Daarom het ek besluit my laaste vliegrit was voor die lockdown. Sal maar eerder my kanse op die pad waag. Dis nie veiliger nie, maar tenminste nader aan moeder aarde

boerie ·

Ek vermoed die hele storie is net besin om die dooie SAL weer te help om aan die gang te kom, “Die reguleerder wou Comair se voldoening aan die toepaslike burgerlugvaartregulasies bevestig.” Dit moes hulle gedoen het voordat hul die diens kon opskort,wat beteken dat die lugdiens skuldig bevind is voor die ondersoek.

Hennie Biebouw ·

SAL se huidige vloot binnelandse vliegtuie bestaan uit drie Airbus A319 en 2 Airbus A320 vliegtuie.
Comair / Kulula het 19 Boeing 737’s tussen die twee van hulle. FlySafair het 21.
SAL is ‘n piepklein speler in die mark, en soos ek dit verstaan, het verbruikers so vertroue in hul verloor dat hul vliegtuie maar redelik leeg is desedae.
So daar is al die faktore…..
‘n Redelike mens kan egter met reg wenkbroue lig oor die BLO se trigger happy toepassing van sekere klousules en regulasies wanneer dit by almal anders as die SAL kom, en natuurlik is almal doodstil rondom die ZS-CAR ongeluk..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.