British Airways, Kulula se vlerke tydelik geknip

(Foto: kulula.com)

Die Burgerlugvaartowerheid (BLO) het Comair, wat British Airways en Kulula.com in Suid-Afrika bedryf, se lugvaartbedryfsertifikaat opgeskort.

Volgens die BLO is die besluit geneem na aanleiding van ’n ondersoek na die onlangse vlaag veiligheidsvoorvalle by die lugdiensgroep.

“Dit is ’n voorkomende opskorting vir ’n tydperk van 24 uur waarbinne die operateur aan die reguleerder moet bewys dat die risiko- en veiligheidsbestuurstelsels doeltreffend is in die bestuur van potensiële gevare.”

Net in die afgelope maand was daar volgens die BLO talle voorvalle, onder andere enjin‑ en onderstelfoute.

“In die belang van veiligheid het die BLO die operateur besoek om ondersoek in te stel en te bepaal of Comair aan toepaslike burgerlugvaartregulasies voldoen. Die inspeksie was ook daarop gemik om Comair se gehaltebeheer‑ en veiligheidsbestuurstelsels te hersien om voldoening te bepaal wat verband hou met verslagdoening, ontleding en opvolg van voorvalle, en regstellende aksieplanne om herhaling daarvan te voorkom.”

Die ondersoeke het drie vlak 1-bevindinge en een vlak 2-bevinding opgelewer. “’n Vlak 1-bevinding wat ’n onmiddellike risiko inhou, moet onmiddellik gesluit word en ’n vlak 2-bevinding moet binne sewe dae gesluit word. Versuim van die operateur om bevredigende bewyse aan die reguleerder te lewer, het gelei tot die besluit om ’n voorkomende opskorting van die bedrywighede in te stel ten einde die operateur ’n geleentheid te gee om te bewys dat hul stelsels in staat is om veiligheidsgevare te voorkom.”

(Foto: pixabay)

Comair is tot Sondagoggend gegee om aan die vereistes van die reguleerder te voldoen en indien hy dit nie kan doen nie, sal die goedkeuring onbepaald opgeskort word, hangende die bevredigende afsluiting van die bevindings.

Kulula.com het in ’n kort verklaring bevestig dat sy vlugte vir 24 uur opgeskort is en dat dit British Airways ook raak.

“Ons uitvoerende bestuur skakel op ’n dringende grondslag met die BLO. Alle passasiers wat vir Saterdag vlugte bespreek het, word aangeraai om nie na die lughawe te reis nie, tensy jy ’n bespreking by ’n alternatiewe lugredery kan maak.

“Comair betreur die ongerief wat veroorsaak is en ons doen ons bes om ons bedrywighede so gou moontlik te herstel. Alle opdaterings sal op ons sosialemediakanale geplaas word sodra dit beskikbaar word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.