British Airways vermeerder sy vlugte na Kaapstad

‘n Boeing 777 op die aanloopbaan by Gatwick-lughawe in Engeland. Foto: Verskaf.

British Airways sal sy vlugte tussen Londen en Kaapstad vanaf Januarie volgende jaar met twee vlugte per week uitbrei.

Die bykomende dienste sal vanaf die Gatwick-lughawe, wat in die suidooste van Engeland geleë is, met Boeing 777-200-vliegtuie ingestel word.

Dit bring die getal vlugte wat British Airways vanaf Gatwick na die Kaapstad‑ Internasionale Lughawe aanbied op vyf te staan en verhoog die getal vlugte tussen Londen en die Moederstad tot 19 per week.

Gedurende die Suid-Afrikaanse somer verdubbel British Airways ook sy skedule tussen Heathrow en Kaapstad, en bied daagliks twee vlugte met Boeing 747-vliegtuie aan.

“In totaal bied ons 36 vlugte per week tussen die Verenigde Koninkryk en Suid-Afrika aan. Buiten die 19 vlugte na Kaapstad is daar ook twee daaglikse vlugte na Johannesburg met van ons lugdiens se grootste vliegtuie, die A380. Ons vlieg ook drie keer per week direk tussen Londen en Durban,” sê Cristina Graham, British Airways se kommersiële bestuurder vir Suider-Afrika.

British Airways is die enigste lugdiens wat dwarsdeur die jaar direkte vlugte tussen Londen en die Moederstad aanbied.

Die aanpassing in die skedule kom na British Airways ʼn vyfjaarbeleggingsplan van £6,5 miljard geïmplementeer het. Die lugdiens het 73 nuwe vliegtuie aangeskaf en sal ook sy langafstandkajuite opknap sodat dit nuut lyk en voel. Dit sluit die Boeing 777-vloot by Gatwick in.

British Airways het sy wagkamer by die OR Tambo-lughawe herontwerp en aansienlik opgeknap sodat dit 247 mense met gemak kan huisves en ʼn boetiek-eetarea insluit.

Die bykomende vlugte tussen die Gatwick- en die Kaapstad-lughawe sal van 10 Januarie tot 24 Maart 2021 ingestel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Johanncb ·

SAL kan gerus by British Airways leer hóé om wát te doen!

Strandloper ·

Mmmm ek dink die woord “leer” is maar n moeilike een onder die knieg te kry…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.