Brits-aanval: Seun vertel van gru-nag

polisie-huisroof-crime

Argieffoto: SAPD/Facebook

“Ons het ʼn struweling in die kamer gehoor en hoe my pa skree om hulp. Toe ons hom kry, het hy op die grond gelê in ʼn plas bloed. Hy het nog gelewe.”

Só het Stephan Snyman (29) vertel van die gru-nag toe sy pa, Andries (59), die naweek op ʼn plaas buite Brits in Noordwes oorval en vermoor is.

Drie verdagtes het omstreeks 03:45 toegang tot die huis verkry, vermoedelik deur ʼn venster se stopverf uit te kerf en die raam geluidloos uit te haal. Stephan verduidelik hy en sy ma, Annetjie (52), het in dieselfde kamer geslaap omdat sy asma-aanvalle in die nag gekry het.

Hulle is in die vroeë oggendure deur twee verdagtes met vuurwapens wakker gemaak wat gedreig het om hulle dood te skiet indien hulle nie hul selfone en geld oorhandig nie, het Stephan gesê. “Ek het so uit die hoek van my oog gesien daar gaan ʼn derde rower by my pa se kamer in. Ons het ʼn struweling in die kamer gehoor, asook hoe my pa skree om hulp. Ek kon niks doen nie, want die rower het die vuurwapen teen my kop gedruk,” het hy gesê.

Hy vertel die rowers het, ná hulle die huis omgekeer het, op die vlug geslaan met slegs een selfoon. Stephan en Annetjie het na Andries se kamer gehardloop waar hulle hom op die grond aangetref het. “Toe ons hom kry, het hy op die grond gelê in ʼn plas bloed. Daar was bloed oral, op sy lyf, sy gesig, sy bene. Hy het nog gelewe, maar dit het gelyk asof hy met iets aangerand is. Ek het gewonder waar al die bloed vandaan kom, want dit kon nie wees van die aanranding nie,” het Stephan gesê.

Aangesien die gesin se enigste selfoon gesteel is, wou Stephan hardloop om te gaan hulp soek, maar Andries het sy seun gewaarsku om nie uit te gaan nie omdat die rowers nog buite die huis kon wees. “Hy het gesê ons moet eers wag dat dit lig word. My ma het hom solank gewas en skoon aangetrek terwyl ons gewag het. Dit is toe dat ons sien hy is drie keer in die bolyf gesteek, vermoedelik met ʼn mes,” het hy gesê.

Teen 06:15 het Annetjie na die kerkperseel reg langs die kleinhoewe gehardloop om hulp te soek. “Ek het by my pa gesit en hy het vir my gesê: ‘Ek is klaar, ek kan nie meer.’ Ek het vir hom gesê hy is nie klaar nie en hy gaan nog lank by ons wees. Toe my ma terugkom, het ek vir haar die deur gaan oopsluit. Toe ons terug in die kamer kom, was my pa dood,” het ’n emosionele Stephan vertel.

Volgens Stephan het die gesin slegs twee weke in die huis gewoon toe die aanval gebeur het. Daar was glo ook ʼn inbraak toe die vorige inwoners daar gewoon het. Stephan en Annetjie bly tydelik by familievriende.

“My pa was die liefdevolste mens wat nooit enigiemand sou seermaak nie. Hy sou nie eens ʼn vlieg seermaak nie. Hy het die mooiste hart gehad,” het Stephan gesê.

Maj. Pelonomi Makau, polisiewoordvoerder, het gesê geen verdagtes is nog in hegtenis geneem nie. ʼn Saak van moord word ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Ruan ·

Gee hierdie boosdoeners nie hulle reg op lewe vrywillig prys nie, vra maar net…?

Lappop ·

Mense, word wakker! Ons is uitverkoop om uitgemoor te word. Want dit is net die mense in die land wat in die pad staan van die geldmag om hier oor te vat. Enige droom op verandering, is ‘n hallusinasie. Vergeet dit, dit gaan nie gebeur nie. Ons wit vel is soos die “bullseye” op ‘n veerpyltjie bord.
Jer.8:15 Hulle wag op vrede, maar daar is niks goeds nie; op’n tyd van beterskap, maar kyk, daar is verskrikking.

Chantell ·

Snaaks genoeg, laas vrydag was ek amper beroof op daai grondpad tussen die kerk en daai winkeltjie om die draai deur 3 van hulle wat om my kar aangehardloop het om my te probeer strop. klink my of die boosdoeners permanent daar boer op naweke, sal nie verbaas wees as hulle deel is van die groepe wat so by daai winkel plak nie…

Gideon ·

Dit is ‘n vreeslike storie- maar terwyl ek so deur die berig lees, het daar sulke snaakse vrae deur my gedagtes gegaan!! Hoekom slaap die ma by die seun, en nie by haar man as sy asma kry? Dit is mos nie seun se plig om na ma te kyk, of gee die ma nie om om haar seun wakker te maak, as sy aanval kry.
Om te sien jou man en pa is geskiet en gesteek en dan wag mens vir ure voor jy gaan hulp soek!! en hoekom hardloop booswigte na man en skiet hom, maar ander twee kom niks oor nie, ek weet nie…

Jakoba ·

Gideon jy het ‘n “Potty Mind” Jy wil nou iets baie leliks maak uit ‘n wreedaardige moord. Al ooit daaraan gedink dat die pa dalk nie die nodige mediese behandeling kan toepas nie maar wel die seun/ of dat hy baie diep slaap en nie sommer wakker word nie. Ek self is ‘n asma lyer en dit is nie speletjies nie. As jy beter gelees het sou jy wel gesien het dat die seun wou gaan hulp soek maar dat sy pa nie wou he hy moes uitgaan nie omdat hy vermoed het hulle wag buite sodat iemand moet uitkom.. Skaam jy jou nie

Gideon ·

Julle kan my noem wat julle wil- ek het die afgelope tyd ook geleer om nie alles te glo nie- ons praat nie hier van ‘n seun van 10 jaar nie, nee ‘n uitgegroeide man van 29 wat uit die hoek van sy oog sien wat gebeur, seker omdat wapen teen sy kop was, kon hy nie mooi kyk nie. Wie het gehoor die pa sê, wag totdat dit veilig is, die ma en seun?? Ek kan nie glo mens sit met so erg gewonde en wag vir ure voordat mens hulp kry nie!!

Michiel ·

Gideon – dalk swak geformuleerde inligting aan nuusmense verskaf deur getraumatiseerde mense ne. Maar ek verstaan wat jy probeer sê…

Susan ·

Toemaar Gideon ek het presies dieselfde gedagte as jy gekry laat die mense hulle ma blind staar maar ons dink dieselfde net een selfoon ma slaap by seun te toevallig.

Nardus ·

Gideon toe ek dit lees het ek ook n rot geruik. Tyd sal leer of my en jou voorgevoel reg was.

Ek dink ·

Moet mens nie eers kyk of mens bloed kan stop of waar wonde is voor mens iemand net was en skoon aantrek nie – dis tog mens se eerste gedagte om te probeer kykwaar wonde is en of bloeding gou gestop kan word en of mens kan help. Ek weet darem nie…

Susan ·

Jy moet beslis eers kyk of jy nie die bloeding kan stop nie genade net was en aantrek o nee dis beslis nie waar nie. Nee kyk ons is nie kinders nie maar dit klink nie reg nie.

Anoniem ·

Ongelukkig dink ek alles moet deeglik ondersoek word en dan sal dit hopelik die waarheid wees. Sterkte vir gesin.

SI ·

Ai Ai Ai!! Niemand het julle gevra om die saak te ondersoek nie …. hou net op!!

marthilda fourie ·

Ek woon buite Brits. Ons praat hier van arm mense. Dat ek tussen die lyne lees van vuilspel. Asb hul oorleef met skenkings. Groot lewens polisse NEE help jy wat oordeel eerder met die brgrafnis kostes hul het NIKS. Ek nooi jou kom woon die begrafnis by. Fan praat ons weer

Poppie ·

Ek het dieselfde ”feeling” as Gideon gekry…. Iets klink nie heeltemal reg…

Alki ·

My Pa(87 jr) bly daar naby die Kerk (NG Kerk Dalunie) ek bid elke aand en aand vir hom

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.