Brits-hof is bevoeg om Mooinooi-moordsaak aan te hoor

Joey en Anisha van Niekerk (Foto: Facebook)

Die Brits-landdroshof het die jurisdiksie om ʼn borgtogaansoek aan te hoor van ʼn moord wat in Mooinooi plaasgevind het, het ʼn landdroshof in Noordwes Dinsdag bevind.

Ofentse Raikane, verdedigingsprokureur, het aansoek gedoen dat die saak van die rol geskrap word, aangesien die Brits-hof nie jurisdiksie het nie. Brits is ongeveer 35 km van Mooinooi geleë.

Raikane voer aan die voorval het by Buffelsfontein naby Mooinooi plaasgevind, wat onder die polisiëringsgebied van Marikana val, en dat die Rustenburg-hof jurisdiksie oor sake van Marikana het. Hy wil ʼn sertifikaat van die direkteur van openbare vervolging bekom oor die jurisdiksie, en staatsaanklaer Christine Molautsi het ʼn sertifikaat van die direkteur van openbare vervolging ingedien wat bepaal dat die saak by die hooggeregshof in Pretoria aangehoor sal word.

Die staat voer aan dat agt persone, tussen 18 en 53 jaar oud, die 32-jarige Joey van Niekerk en 30-jarige Anisha van Niekerk van Mooinooi ontvoer, beroof en vermoor het. Die beskuldigdes staan tereg op twee aanklagte van sameswering tot moord, twee aanklagte van ontvoering, twee aanklagte van verkragting, roof met verswarende omstandighede en twee aanklagte van moord.

Die paartjie het op 10 Desember verdwyn toe hulle op pad was na ʼn begrafnis in Pretoria. Hulle het nooit by die begrafnis opgedaag nie. Hul uitgebrande motor is op 16 Desember in die Magaliesburg-gebied gevind. Die paartjie is vermoedelik verkrag en in ʼn vraghouer gehang op hul plaas in Mooinooi. Hul liggame is met suur verbrand en met petrol aan die brand gesteek. Hul oorskot is daarna in ʼn sak geplaas en by ʼn nabygeleë berg gestort.

Raikane hou vol die sertifikaat gee nie ʼn aanduiding oor jurisdiksie nie en hy het aan die hof gesê hy het ondersoek ingestel en bevind dat Buffelsfontein-sake in Rustenburg aangehoor word.

Molautsi het aan die hof gesê sy het Brits-polisie se bevelvoerder gekontak wat haar in kennis gestel het dat sommige dele van Buffelsfontein onder die Marikana-polisiëringsgebied val, en ander onder Mooinooi. “Die saak is onder Mooinooi,” het sy gesê.

Landdros Semakaleng Thamage het gesê die verdediging het nie die kwessie oor jurisdiksie aan die begin van die borgtogverhoor aangeroer nie. “Die saak is al lank op die rol, daar het al baie gebeur. Die borgtogverhoor het op 18 Januarie 2018 begin en die verdediging het nie beswaar aangeteken nie. As dit die beskuldigdes was, sou die hof die aansoek oorweeg het, maar hulle word verteenwoordig. Die aansoek deur mnr. Raikane word van die hand gewys.”

Raikane sal sy kruisverhoor van die ondersoekbeampte kol. Isaac Tlhapi voortsit.

Die verhoor duur voort.

Lees alle vorige berigte oor Joey en Anisha van Niekerk op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Wonder ·

Hulle sal nou met enige verskoning kom om die saak uit te rek. Ek hoop hulle kry wat hulle toekom.

Elvira Bothma ·

Laat reg en geregtigheid in hierdie saak geskied. Hierdie twee pragtige mense is so onnodig deur hierdie waansinnige moordenaars gemartel en vermoor. Kan my nie indink wat hulle verduur het nie. Mag die hele lot nooit weer die son sien skyn nie.

Estelle ·

Die SAPD en Brits-landros hof betrokke in hierdie aaklike misdaad doen na my waarneming goeie werk, die aangeklaagtes se verdediging sal dit wil kortwiek met enige twak argument van tegniese punte moontlik. Moet dit nie toelaat nie!!

Maggie ·

Hulle speel nou net vir tyd volgens my mening.Ek hoop v harte dat niemand hulle hulle sin gee ni dat di saak kan aangaan.Almal het al genoeg gely

poepies ·

Hulle probeer slim wees om die saak in Rustenburg te kry,volgens die Strydoms behoort Rustenburg SAPD aan hulle.

Alida ·

Brits Hof is bevoeg. Die saak sal mettertyd oorgeplaas word Hooggeregshof toe.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.