Britse banke teen ‘Zumas en Guptas’ gewaarsku

Foto: HSBC

Peter Hain, ʼn lid van die House of Lords in die Verenigde Koninkryk, het Woensdag versoek dat daar dringend ondersoek ingestel word na die bankrekeninge in Londen wat deur Suid-Afrikaanse staatsinstansies gehou word.

Hain, ʼn Suid-Afrikaans gebore anti-apartheidsaktivis, het in sy toespraak by die House of Lords verwys na bewyse wat voor die Suid-Afrikaanse parlement aan die lig gekom het tydens ʼn kommissie van ondersoek oor bewerings van staatskaping by Eskom.

Hain het gesê dié bewyse toon hoe Britse finansiële instellings soos HSBC Bank en Standard Chartered deur die berugte Gupta-familie gebruik word vir “geldwassery van miljoene ponde of miljarde rande, meestal deur Dubai en Hongkong”.

Hain het gesê Britse banke en finansiële instansies moet aanspreeklik gehou word vir hul bydrae tot geldwassery deur gebrekkige voorkomingsmaatreëls en prosesse en dat hulle ʼn blinde oog gekeer het op die hantering van korrupte geld. Hy meen daar is nie genoegsame of ernstige regulatoriese risiko’s wat sal veroorsaak dat Britse banke winsgewende besigheid sal wegwys nie en meen daarom dat die Verenigde Koninkryk se Finansiële Gedragsowerheid moet begin om banke te vervolg wat hulle hieraan skuldig maak.

Hain het verwys na die voormalige voorsitter van SAL, Dudu Myeni, wat volgens hom ʼn getroue bondgenoot van pres. Jacob Zuma is en die ma van een van sy kinders is. Hy noem in sy toespraak dat Nhlanhla Nene, toe hy nog die Suid-Afrikaanse minister van finansies was, geweier het om ʼn vloothernuwingsooreenkoms vir SAL te onderhandel omdat die ooreenkoms na bewering korrup was. Nene is dae later as minister van finansies afgedank.

Hy het ook gesê Myeni het in Maart 2015 “beveel dat drie top beamptes by Eskom onwettig afgedank word” en beweer pres. Zuma het Myeni gesteun en opdrag gegee dat hierdie afdankings wel moet gebeur.

Maroela Media het vroeër berig Zola Tsotsi, voormalige voorsitter van Eskom se raad, het in November voor die parlementêre ondersoekkomitee getuig hy het Myeni by geleentheid in 2015 by die president se ampswoning in Durban ontmoet. Sy het glo vir hom gesê ʼn ondersoek sal na Eskom gedoen word en dat drie uitvoerende beamptes, naamlik Tshediso Matona, Dan Marokane en Matshele Koko, geskors gaan word.

Myeni het glo vir Tsotsi gesê die beamptes sal nie van vuilspel beskuldig word nie, maar net opsy geskuif word sodat die ondersoek “sonder hul teenwoordigheid” kan voortgaan. Zuma het toe glo die vertrek binnegekom en vir Tsotsi gevra of hy weet wie die beamptes is wat geskors moet word.

Dudu Myeni, voormalige voorsitter van die SAL-raad. Foto: GCIS

Tsotsi het getuig hy was gedwing om beleggers en leners reg oor die wêreld te bel en te verduidelik hoekom die beamptes geskors is. “Ek het telefonies met ongeveer 52 mense gepraat om iets te verdedig wat eintlik nie verdedigbaar was nie.”

Aldus Hein het bewyse voor die Suid-Afrikaanse parlementêre kommissie van ondersoek getoon dat Myeni nie net die plundering deur die Zuma- en Gupta-families gefasiliteer het nie, maar ook gepoog het om die bedrywighede van nog ʼn staatsinstansie, Eskom, te beheer, voor te skryf en te manipuleer – ʼn instansie waaruit die Gupta-familie, deur ʼn ingewikkelde netwerk van maatskappye, miljarde rande, deur verskeie banke, na Londen-gebaseerde banke herlei het. “[En dit is] wat ek die Britse owerhede vra om te ondersoek.”

Hain het Woensdag ook vir die eerste keer Barclays en Santander genoem as beweerde medepligtiges in onwettige transaksies wat met die Gupta-familie verbind kan word.

“In die Verenigde Koninkryk moet Barclays Bank, wat ʼn aansienlike teenwoordigheid in Suid-Afrika en Afrika het, asook Santander, wat ʼn wêreldwye voetspoor het, ʼn rooivlag-waarskuwing gegee word om hul blootstelling aan Gupta-geldwassery te monitor – direk en indirek. Dit is noodsaaklik dat alle Britse banke weier om enigiets met die Guptas of Zumas te doen hê.”

Hain het gesê “goed-geplaaste Suid-Afrikaanse fluitjieblasers” het hom ingelig dat Britse banke en finansiële instansies gebruik word vir die “sistemiese transnasionale finansiële misdaadnetwerk wat deur die Gupta- en Zuma-families bedryf word”.

Hy het gesê nie net moet die Britse regering hierdie bedrywighede verhoed nie, maar die Londense polisie, metropolisie en finansiële regulatoriese owerhede moet ondersoek instel na al die bankrekeninge in Londen van enige Suid-Afrikaanse staatsinstansie. Hy het gesê weens Myeni se betrokkenheid by die Zumas en Guptas, moet die owerhede hul ondersoek by die lugredery begin, wat ook in Londen bank, om seker te maak die lugredery se bankrekeninge word nie vir onwettige geldwassery van finansiële misdaad in Suid-Afrika gebruik nie.

“Die Britse regering moet nie toelaat dat enige finansiële instelling in die Verenigde Koninkryk betrek word by die plundering van staatsbeheerde maatskappye in die buiteland nie, veral nie wanneer die plundering die armste van die armes raak nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Eish ·

Dis n verblydende wending van sake in die buiteland. Hopelik volg die hele Weste. Die publisiteit van die aangeleentheid is van onskatbare waarde.

marous ·

Peter Hain moet asseblief met ‘n sak geld en ‘n halwe skaap op sy rug in Khayalitsha gaan rondloop …..

Piet Snot ·

Ou Peter Hain is direk verantwoordelik vir die gemors waaroor hy nou kla. As gevolg van hom en sy vriende is die huidige regime aan bewind.
Ek vind sy ontsteltenis vreemd.

chris ·

Hulle sal voortaan ook moet kennis neem van Steinhoff (PSG?)en News24 se bedrywighede.As hulle so bietjie gaan ‘Google”oor Christo Wiese en Sars sal ‘n paar se nekhare rys.

Johan ·

Hulle doen altyd te laat, dan wil hulle dit nog steeds regverdig.

bgj van der westhuizen ·

as jy weet hoe om sars se wette ken te kan jy weg kom met baie maar die gewond man op die straat betaal maar net maar onthou die ryk man en besighied het mense wat hulle goed doen wat die sars wette en weet wat kan af getrek word daa is baie wat ons nie weet nie goed en staats bank oor see onder soek moet maar ook die ministers rekening ook onder soek wat oor see is

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.