Britse burgemeester sterf in SA

Nigel Gawthrope was burgemeester van die stad Cambridge. Foto: Facebook

Die Britse stad Cambridge het bevestig die man wat Vrydag in KwaZulu-Natal vermoedelik aan ʼn hartaanval dood is kort nadat hy geskubaduik het, was hul burgemeester.

Nigel Gawthrope (61) en sy vrou, Jenny, was met vakansie in Suid-Afrika en sou van hier in Mosambiek gaan duik het, sê die stadsraad in ʼn verklaring. Hy was ʼn ervare skubaduiker en onderwaterfotograaf.

Shawn Herbst, Netcare 911-woordvoerder, het vroeër gesê paramedici is Vrydag omstreeks 12:25 na die toneel by Umkomaas aan die KwaZulu-Natalse Suidkus ontbied. Volgens getuies het Gawthrope ná ʼn duiksessie na die oppervlak gekom en oomblikke later tekens van ʼn hartaanval getoon.

“Mededuikers het mond-tot-mond-asemhaling toegepas terwyl die boot terug na die strand gejaag het. By hul aankoms het paramedici die lewensondersteuningspogings oorgeneem,” sê Herbst. “Ondanks hul pogings om [sy] lewe te red, is hy op die toneel dood verklaar.”

Gawthrope, ʼn lid van die Arbeidersparty, was sewe jaar lank stadsraadslid van Cambridge, wat bekend is as die tuiste van die wêreld se vierde oudste bestaande universiteite en die naasoudste universiteit in die Engelssprekende wêreld.

Hy is in Mei 2018 eenparig tot burgemeester verkies en sou in dié amp gedien het tot Mei vanjaar. “Hy was lewenslank ʼn toegewyde vakbondman,” skryf die stadsraad in ʼn verklaring, “en het medewerkers in die drukkersbedryf meer as 30 jaar lank verteenwoordig.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Alida ·

Ag dit is baie tragies. Mens wil amper se dankie dat hy aan natuurlike oorsake dood is en nie vermoor is nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.