Britse egpaar in Knysna aangeval

Argieffoto

Argieffoto

ʼn 65-jarige vrou is dood en haar 67-jarige man in ʼn ernstige toestand in die hospitaal nadat hulle die naweek in ʼn huis in Knysna in die Wes-Kaap aangeval is.

Kapt. Bernadine Steyn, polisiewoordvoerder, het Maandag aan Maroela Media gesê die slagoffers is Britse burgers en die polisie spoor nog hul naasbestaandes op. Hul name mag nog nie bekend gemaak word nie.

“Die polisie is Sondag omstreeks 10:30 na die huis in Lindsaystraat ontbied. ʼn Vriendin van die egpaar het hul hondjie in die straat sien rondloop en op hulle afgekom toe sy die hondjie teruggevat het,” het Steyn gesê.

Die polisie het die vrou se liggaam op die vloer van die sitkamer aangetref. Sy het ʼn oop wond aan haar nek gehad en ook kopbeserings opgedoen. Haar man is in die motorhuis aangetref. Hy het oop wonde aan sy lyf opgedoen en is glo ook met ʼn stomp voorwerp oor die kop geslaan.

“Die aanvaller of aanvallers het met die egpaar se bakkie, ʼn groen Isuzu Wizard met die registrasienommer CAW 80489, van die toneel gevlug. Daar word vermoed dat ʼn televisiestel, twee skootrekenaars en ʼn tabletrekenaar ook gesteel is.”

Die man is na ʼn hospitaal in George geneem vir mediese behandeling.

Die Knysna-polisie ondersoek ʼn saak van moord, poging tot moord en huisroof. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

“Omstandighede rondom die aanval is nog onduidelik en word ondersoek,” het Steyn bygevoeg.

Sy het ʼn beroep op die publiek gedoen om met inligting na vore te kom wat die polisie in hul ondersoek kan help. Mense met inligting kan ao. Reginus Quine by 044 302 6608 bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Ben ·

Die ongekeerde wettelosheid en die slaparm getik van straf wat boosdoeners nie afskrik om voort te gaan en te maak soos hulle wil, gaan nog ons land knak. Daar gaan naderhand geen investering of toerisme wees om SA te laat groei nie. Dit gaan nog word soos die ou Kongo was tensy die huidige ANC wetmakers die huidige anargie kan stopsit deur middel van regte afskrik metodes weer in plek te sit an te gebruik as werklike afskrik en straf. Word wakker my land!

Francis Linstrom ·

Nou is dit nie net meer die blanke boere nie, maar ook buitelanders. Wanneer gaan die wereld wakker skrik en besef wat in hierdie land aangaan. Mooi praatjies en beloftes om nie te praat van al die ander misdade van die hogere amptenare nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.