Daar is geen teken nie van ʼn Britse egpaar nadat hulle die afgelope naweek die laaste keer op ʼn plaas in KwaZulu-Natal, waar hulle woon, gesien is.
Gillian Kathleen Dinnis (78) en haar man, Anthony John (74), is Britte wat op die plaas Scottburgh in die Mooirivier-gebied in KwaZulu-Natal woon. Volgens ’n betroubare bron wat by die saak betrokke is, was daar drie maande gelede ’n plaasaanval op die einste plaas aangemeld.
Die bron het op voorwaarde van anonimiteit aan Maroela Media gesê die plaaseienaar, wat langs die egpaar op die plaas woon, kon hulle Sondag glad nie in die hande kry nie. Die eienaar het Dinsdag weer na die egpaar gaan soek, maar hulle was steeds skoonveld.
Die eienaar het ’n plaaslike veiligheidsmaatskappy genader en dié het die polisie ontbied.
Die polisie het Dinsdag, met toestemming van die huiseienaar, die egpaar se huis oopgebreek.
“Die egpaar was nie in die huis nie en die polisie het niks buitengewoons by die huis opgemerk nie. Daar was geen tekens van ’n struweling of gedwonge toegang tot die huis nie,” bevestig die bron.
“Die egpaar se voertuig is steeds op die plaas.”
Kol. Robert Netshiunda, polisiewoordvoerder, het bevestig die egpaar is as vermis by die polisie aangemeld en ’n soektog na hulle is aan die gang.
Volgens die polisie se inligting is daar tot dusver geen leidrade oor waar die egpaar hulself bevind nie.
“Enigiemand met meer inligting wat met die soektog kan help, kan die polisie by 033 263 1122 kontak of die Stop Misdaadnommer by 08600 10111 skakel,” sê Netshiunda.
Mens kry sommer sulke koue rillings terwyl mens die artikel lees en dit klink nie goed nie. Kom ons glo en bid hulle word ongedeerd gevind.
Mens kan net hoop en bid hierdie egpaar word nie deel van ons misdaadstatistiek nie.
Hoop die nuus gaan groot in Engeland.
Sjoe 2 weke gelede toe skiet hulle daai Britse dokter voor sy vrou en 2 jarige kind dood, net omdat hy die verkeerde afrit vanaf Kaapstad lughawe geneem het, en nou verdwyn 2 Britse burgers ook in Suid Afrika. Daar word nou meer Britte in SA vermoor en vermis, as in hul eie land in n hele jaar.
As mens ‘n tinfoeliehoedjie opsit, dan kan mens amper wonder hoekom? Noudat sekere mense en groepe oorsee begin geluide maak oor plaasmoorde. Ai, kom ons hoop en bid hulle is veilig en nie net nog ‘n statistiek in hierdie siek land nie.
Wie se hulle is vermoor of ontvoer? Het hulle dalk n Uber gebruik om by die lughawe te kom, en dalk kuier hulle iewers? Kom ons hoop dit is wst gebeur het.
Sou hul dan nie die plaaseienaar verwittig het nie? Hoop hul word ongedeerd gevind.