Britse ‘rooilys’ kos SA toerisme miljoene

Suid-Afrika se voortgesette insluiting op die Britse rooilys kos die land miljoene. (Foto: Dept. van toerisme)

Suid-Afrika se voortgesette insluiting op die Britse regering se sogenaamde rooilys van lande is besig om die plaaslike toerismebedryf, wat reeds deur die afsonderingstydperk op sy knieë gedwing is, verdere hoofbrekens te besorg.

Die Britse regering maak gebruik van ʼn sogenaamde verkeersligstelsel om die Covid-19-risiko in verskillende lande en die moontlikheid dat variante vandaar na die Verenigde Koninkryk kan versprei, aan te dui.

Britte hou dié lys fyn dop omdat dit ʼn regstreekse uitwerking op hul reisplanne het, maar die uitwerking van die lys op ander lande is net so ingrypend.

Die Wêreld-reis-en-toerismeraad (WTTC) het reeds gewaarsku Suid-Afrika kan meer as R180 miljoen kwyt wees vir elke week wat hy op die rooilys bly.

Die WTTC sê gegrond op Britse besoekersgetalle van 2019 kan die insluiting verliese van meer as R790 miljoen per maand beloop, of sowat R26 miljoen per dag.

Syfers van dieselfde jaar wys Suid-Afrika is een van die gewildste bestemmings vir Britse besoekers en verteenwoordig sowat 7% van besoekersbesteding, oftewel sowat R7,9 miljard. Verlede jaar het internasionale besoekersbesteding tot R46 miljoen gedaal van die R134 miljard wat in 2019 bestee is.

Volgens die vereniging is sowat 470 000 werkgeleenthede reeds verlore weens min internasionale reise.

Virginia Messina, senior adjunkpresident van die WTTC, sê die Britse verkeersligstelsel berokken nie net die reis- en toerismebedryf skade nie, maar ook ekonomieë wêreldwyd.

Die VK het die lys vandeesweek bygewerk en sewe lande, waaronder Kanada, Denemarke, Finland, Switserland en Litoue is na die groenlys geskuif.

Suid-Afrika is egter steeds op die rooilys – lande met die grooste Covid-19-risiko – en die VK stel voor dat lande op dié lys net in uiterste gevalle besoek moet word.

Indien iemand ʼn land op die rooilys besoek het, kan hy net na die VK terugkeer as hy ʼn Britse of Ierse burger is of verblyfreg het. Sodanige reisiger moet ook bewys lewer dat hy of sy negatief vir Covid-19 getoets het en moet tien dae lank in ʼn staatsgoedgekeurde kwarantynhotel bly. Die koste hieraan verbonde beloop sowat R46 600 per volwassene vir die tien dae.

ʼn Petisie wat in Engeland van stapel gestuur is om Suid-Afrika van die rooilys te laat verwyder, het ten spyte van die byna 29 000 handtekeninge wat dit reeds gekry, nog nie hond haaraf gemaak nie.

Die Britse regering het vroeër gesê die besluit om Suid-Afrika op die rooilys te plaas is gedoen om verdere infeksies in die VK te verhoed. Sleutelfaktore wat in ag geneem word, sluit in die gevaar dat Covid-19 oorgedra kan word, genomiese waarnemingskapasiteit en sogenaamde variante van kommer.

Die kleurtoewysings word elke drie weke hersien, tensy bewyse vinniger optrede benodig om openbare gesondheid te beskerm.

“Ons sal nie toegewings maak met die vordering wat ons met ons entstofprogram gemaak het deur mense toe te laat om oorsee vryelik te meng en na die VK te reis of terug te keer sonder behoorlike kontrole en prosedures nie.”

David Frost, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Toerismedienstevereniging (Satsa), het vroeër gesê die Britse regering behandel diegene wat die petisie onderteken het met minagting en sê dit lyk of Suid-Afrika se insluiting op die rooilys ʼn afwyking is.

Die vereniging sê Suid-Afrika se infeksiekoers is veel laer as dié van die VK en verskeie Europese lande op die oranjelys. Duitsland, Frankryk, Nederland, Switserland, die VSA en China is onder die lande wat reeds weer hul deure vir reisigers vanuit Suid-Afrika oopgestel het.

Frost sê indien die Britse regering verskil van onlange wetenskaplike assesserings van Suid-Afrika se veiligheid, moet hy sê waarom.

“Meer as 1,5 miljoen Suid-Afrikaners maak op die toerismebedryf staat vir hul inkomste. Die Britse regering skuld mense ʼn beter verduideliking vir waarom hy reisbeperkings volhou wat by die dag meer lyk of dit diskrimineer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Blomme ·

Is die geweld en die onlangse stroping in die onluste nie dalk die afskrikmiddel vir die Britte nie?

Anton ·

Dankie Cyril, jy doen ‘n great job – your fellow South Africans :-)

Dries ·

Dalk mnr David Frost,het ons patetiese inentingsveldtog iets te doen met die Britte se houding.CAPICE

Grassie ·

Dit maak nie saak nie – die Britte is permanent op my rooilys weens die skade wat hulle ons volk aangedoen het in die verlede.

melaney ·

Wie wil sy geld mors in ‘n land waar wet en orde glad nie bestaan nie, wetend dat daar ‘n 99 persent kans is om jou lewe hier te verloor.

B-Man ·

Ricky Bobby sê ook dat dit ‘n feit is dat 96% van alle mense sterf. Jy en hy redeneer baie dieselfde.

Henry ·

Mnr Frost, die covid ding is net n rook skerm. Die VK beskerm eintlik net hulle burgers teen die geweldadige misdaad (die hoogste in Afrika). Gaan huil by die ANC regering.

Anel ·

Ons seun het ‘n pos gekry in engeland. Hy het ‘n britse paspoort, agv my geboortesertifikaat. Sy vrou kon ‘n visum kry vir 2 jaar. Hulle is Februarie weg. Desember wou hulle kom kuier, my pa se 90ste verjaarsdag bywoon en ‘n vriend se trou. Hulle kom nie meer nie, want hulle kan nie R 100 000.00 + net so vir die spul britte gee nie. Kyk, ek het geen ooghare vir hulle nie. Dis deels agv hulle wat ons land in so ‘n gemors is en nou was hulle hulle hande in onskuld.
Gelukkig glo ons die kinders gaan aan die einde van volgende terugkeer. Wou ook maar net gaan ondervinding op doen het. Die deurslaggewende faktor sal die weer wees. Vandat hulle daar aan gekom het, het hulle nog nie ‘n week gehad waar dit nie gereën het nie. En nou nog die beperking. Die spul is siek!!

Perdeby ·

Wie wil nou na ‘n land toe kom wat so geplunder word, en ‘n veer voel hoeveel mense daar buite rondgehardloop het sonder maskers! Nou betaal Kzn daarvoor met die meeste gevalle.

VaalDonkie ·

Miskien kan ons nou beter pryse by die restaurante en hotelle sien. Noudat hulle geforseer word om ons vuil “locals” te bedien.

Jack ·

Met die britte is daar altyd iets duisters aan die gang. Is die hele afrika weens sy spesifieke inwoners nie ook op die lys nie. Dan kan ek dit verstaan want weens instroming kan suid afrika nie die pandemie effektief bestuur nie. Dis net nie haalbaar nie. Vra wat die kriteria is vir die rooilys dan weet ons wat om te doen. Weet die regering van die lys en gee hulle om?

Linda ·

SA is op VK se rooilys, maar Indië is op hulle amber lys. Hoe verklaar jy dit? Die Delta variant het ontstaan in Indië, maar Suid Afrikaners kan dit versprei na VK.

JohanNL ·

Nederland het terloops NIE “hulle deure vir reisigers uit Suid Afrika oopgestel” soos die artikel beweer nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.