Britse toeris verdrink by Plettenbergbaai

Britse toeris verdrink by Plettenbergbaai (7 Julie 2017) Foto: NSRI

ʼn Britse toeris het Vrydag by Plettenbergbaai verdrink nadat hy in ʼn sleurstroom beland het.

Marc Rodgers, stasiebevelvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) in Plettenbergbaai, het gesê die span is Vrydagoggend na die toneel by Solar Beach, Robberg, ontbied.

“Die 60-jarige man van Londen in Engeland is deur twee omstanders en ʼn lewensredder, wat nie aan diens was nie, uit die water gehaal,” het Rodgers gesê. Hulle het gesien die man word met ʼn sleurstroom dieper in die see ingetrek terwyl hy geswem het.

“Hulle het alarm gemaak toe hulle op die strand kom en ʼn dokter, wat toevallig op die strand was, het met KPR begin. NSRI-paramedici het by hom aangesluit toe hulle by die toneel opgedaag het,” het Rodgers verduidelik.

Die man is na ʼn hospitaal geneem terwyl hulle steeds KPR toegepas het en die dokters en verpleegsters in die hospitaal het ook alles in hul vermoë gedoen om die man by te bring, maar alle pogings was tevergeefs. “Hy is in die hospitaal dood verklaar.”

Die Britse konsulaat staan die familie oorsee by. Die man het alleen in Suid-Afrika gereis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.