Britse toeriste sluip oornag uit Switserse ski-oord

Polisiebeamptes patrolleer ‘n straat in Verbier in Switserland. (Foto: Fabrice Coffrini/AFP)

Honderde Britse toeriste wat gedwing is om by die Switserse ski-oord Verbier in kwarantyn te gaan, het oornag gevlug eerder as dat hul vakansies verder afdraand loop, het die plaaslike munisipaliteit gesê.

Nagenoeg 200 van die nagenoeg 420 geraakte Britse toeriste by die luukse oord het in die donker verdwyn, het die koerant SonntagsZeitung (SZ) berig.

Switserland se ski-oorde sou na verwagting uit hul nate bars danksy Britse toeriste wat na die sneeu stroom – maar ʼn vlugverbod weens die nuwe Covid-19-variant in Engeland het dié planne in die wiele gery.

Die ingrypende regulasies deur die Switserse regering het ook tien dae lange terugwerkende kwarantyn ingesluit vir enigeen wat sedert 14 Desember uit Brittanje in die land aangekom het. Die besluit het gekom ná die ontdekking van die nuwe variant van die virus wat volgens sommige kenners vinniger versprei.

Sommige van die toeriste in Verbier het dadelik vertrek, terwyl ander ʼn paar dae lank vasgebyt het voordat hulle ook die hoed vasgedruk het.

Die luukse ski-oord in Verbier, Switserland, is ‘n groot trekpleister vir veral Britse toeriste. (Foto: Fabrice Coffrini/AFP)

“Talle van hulle het ʼn paar dae lank in kwarantyn gebly voordat hulle ongesiens in die donker die pad gevat het,” het Jean-Marc Sandoz, ʼn woordvoerder vir die groter Bagnes-munisipaliteit, aan SZ gesê.

Sandoz het die situasie as die “ergste week wat ons gemeenskap nog ooit ervaar het” bestempel.

Altesaam 21% van Verbier se besoekers is Britse toeriste en die meeste begin gewoonlik kort na Kersfees instroom.

Verbier, wat die afgelope twee jaar as Switserland se beste ski-oord aangewys is, bemark hom as ʼn bestemming wat adrenaliengepakte avonture, eenvoudige genietinge en ʼn elegante leefstyl bied.

Die Verbier-toerismekantoor hou intussen daaglikse krisisvergaderings om met die voortdurend veranderende koronavirus-prentjie tred te hou.

Ontbyt onaangeraak

“Dit was toe hulle die onaangeraakte ete-skinkborde opmerk dat die hoteliers besef het die klante is vort,” het Sandoz aan die ATS-nuusagentskap gesê.

Volgens hom het ʼn opname wat Saterdag by die ski-oord se hotelle gedoen is, gewys dat minder as tien mense nog in kwarantyn sou wees. Die ander sou óf al vertrek het, óf hul kwarantyntydperk sou verstryk het.

‘n Toeris stap verby ‘n Kersboom in Verbier in Switserland. (Foto: Fabrice Coffrini/AFP)

“Ons kan hulle nie kwalik neem nie. In sommige gevalle was die kwarantyn onhoudbaar. Verbeel jou vier mense in ʼn hotelkamer van 20 m²,” het Sandoz gesê.

Hy sê die toeriste is weg terwyl “hulle ʼn bietjie vies vir Switserland is”, asook met ʼn gevoel dat hulle “gevang” is.

Vlugte tussen Switserland en Engeland is Maandag opgeskort, waarna vlugte van Zürich na Engeland Donderdag weer hervat is.

Twee gevalle van die nuwe Britse Covid-19-variant is in Switserland bevestig, asook een ʼn nabygeleë Lichtenstein, het die Switserse departement van gesondheid Sondag gesê.

Volgens die departement is twee gevalle van die nuwe Suid-Afrikaanse variant van Covid-19 ook bevestig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.