Britse voortvlugtige in SA aangekeer

Raymond Nevitt

Raymond Nevitt

Raymond Andrew Nevitt (51), ʼn voortvlugtige van die Verenigde Koninkryk, het Vrydag in die Wynberg-landdroshof verskyn nadat hy ná nege jaar uiteindelik in Kaapstad aangekeer is.

“Hy kruip al die afgelope vyf jaar in Suid-Afrika weg,” het lt.genl. Solomon Makgale, woordvoerder van die polisie, in ʼn verklaring gesê. “Hy het in 2006 uit Engeland gevlug nadat hy skuldig bevind is aan bedrog en voordat hy sy tronkstraf kon uitdien.”

ʼn Span van die Suid-Afrikaanse Polisiediens, insluitend lede van misdaadintelligensie, Interpol en Wes-Kaapse speurders, het Nevitt op 13 Mei aangekeer.

Nevitt, oorspronklik van Manchester, bly in aanhouding tot 21 Mei wanneer hy weer in die hof moet verskyn in verband met uitleweringsverrigtinge.

“Hy is in 2008 in absentia skuldig bevind en tot drie jaar, nege maande tronkstraf gevonnis op vyf aanklagte van bedrog by die Ravelle-groep,” het Makgale verduidelik. Hy was een van vier direkteure by dié groep maatskappye. “Die maatskappy het tweedehandse rekenaaronderdele aan die rekenaarinstandhoudingsbedryf verkoop. Nevitt het homself in Oktober 2006 uit die voete gemaak ná ʼn skuldigbevinding in ʼn bedrogsaak.” Hy is in Oktober 2008 beveel om teen Mei 2009 ʼn beslagleggingsbevel van £1.6 miljoen te betaal of hy sal ʼn bykomende 10 jaar tronkstraf moet uitdien.

Nevitt is skuldig bevind op bedrogaanklagte van £3.5 miljoen wat verband hou met vervalste dokumente aan IBM en Barclays om verdere finansiering aan Ravelle te verskaf.

Volgens die SFO het Nevitt gereeld maatskappykredietkaarte vir persoonlike gebruik en reise aangewend. Hy het ʼn uitspattige leefstyl gehandhaaf en verskeie oorsese reise na Las Vegas, Monaco en Singapoer onderneem. Hy het ook ʼn aantal maatskappymotors gefinansier, insluitend ʼn Ferrari en drie BMW’s. Hy het die Ferrari afgeskryf.

Hy het eers na Spanje gevlug en daarna na Thailand en uiteindelik in 2010 na Suid-Afrika, met ʼn vervalste paspoort.

Nevitt, wat die alias Paul MaCann gebruik het, sal na verwagting binnekort aan die Verenigde Koninkryk uitgelewer word om sy tronkstraf uit te dien. “Hy is tydens sy inhegtenisneming met 28 selfone en ʼn groot hoeveelheid simkaarte in sy besit betrap. Hy het na bewering miljoene rand se bedrog gepleeg.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

alex ·

Raymond Nevitt klink na die ideale kandidaat vir die zuma regering.

CHRISTA ·

Ek stem! Hy het seker gesien hoe maklik dit is om hier weg te kom met bedrog!! Ek wonder hoekom het hulle hom gevang? Hy was ‘n ideale kandidaat vir die Zuma-regering (kon hulle dalk nog ‘n paar ‘tips’ gegee het)!!

HEVW ·

Wees tog maar baie versigtig. Moet tog nie nog iets in hul koppe sit nie. Dit is haalbaar want die vk koester nie juis n groot liefde vir die Boerevolk nie.

scalla ·

Al die skuim van die aarde kom kruip hier weg, hul weet wetgewing word nie toegepas nie agv onbevoegdheid van die regering

Dave ·

Sommiges veg om nie aan Suid Afrija uitgelewer te word. Ander veg om nie deur Suid Afrika uitgelewer te word. Sal nogal interessant wees om te weet hoe Paul MaCann uitgewys is as Raymond Nevitt.

Gielie - Namibië ·

Hierdie ou is maar net een van vele wat in SA wegkruip. Is baie maklik, so baie kry dit reg. Ek droom van ‘n plaas met ‘n korrupte baas….Suid-Afrika waar die skelms die hardste mag raas.

Uys ·

Wat beteken “absensia”
Hy was nie teenwoordig nie of in sy afweesigheid klink na beter Afrikaans om te gebruik Maroela.
Komaan mense gebruik beter Afrikaans as julle verslag doen.

Dave ·

Die korrekte spelling is ‘afwesigheid’, Uys. Ek sou jou ondersteun met die versoek om minder anglisisties te wees indien jy beter sou spel. Beter Afrikaans is tog waarvoor jy vra. Dan moet jy dit immers op self ook toepas.

Leon ·

Uys, “in absentia” is erkende taalgebruik. “Absensia” met ‘n “s” is nie erkende taalgebruik nie. Ook nie “afweesigheid” nie.

Tonginniekies ·

Leon, hulle sê mos jy moet eers die balk uit jou eie oog haal voor jy die splinter in ‘n ander se oog soek….

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.