Britte haal SA dán eers van rooilys

(Foto ter illustrasie: Unsplash)

Indien die aantal nuwe Covid-19-gevalle voortdurend afwaarts neig, sal die Britse regering oorweeg om Suid-Afrika van hul sogenaamde rooilys af te haal.

Só het die hoëkommissariaat van die Verenigde Koninkryk (VK) Maandag op Twitter gesê. Tot dan sal die land egter op dié lys bly, wat beteken dat reise na en van Suid-Afrika uiters beperk is.

Lande wat op die Britse rooilys geplaas word, word as ʼn hoë Covid-19-risiko beskou en die VK stel voor dat reise slegs in uitsonderlike gevalle na hierdie lande onderneem word. Daar is ook ʼn reeks vereistes waaraan mense wat verblyfreg in die VK het, moet voldoen indien hulle van een van die rooilyslande terugkeer.

Intussen het die DA Dinsdag daarop aangedring dat Lindiwe Sisulu, minister van toerisme, dringend antwoorde gee oor hoe die regering Suid-Afrika se rooilystatus gaan hanteer.

Die party pak die skuld dat die land steeds op dié lys is, onder meer op die regering se “lomp” manier waarop hulle [die regering] die entstofprogram uitgerol het. Die party het ook na reisbeperkings wat deur die VSA ingestel is, verwys.

“Lande soos die VK en die VSA, wat van die belangrikste lande vir toerisme en handel in Suid-Afrika is, het die gebrek aan sekerheid en doeltreffendheid deur die Suid-Afrikaanse regering raakgesien en die land gevolglik op die rooilys gehou.

“Dit het direkte gevolge vir toerisme en die talle werksgeleenthede wat moontlik verlore kan gaan indien Suid-Afrika op die rooilys bly,” sê Manny de Freitas, die DA se skaduminister van toerisme.

Die party meen Sisulu se stilswye oor die saak is onaanvaarbaar.

“Sisulu behoort as minister van toerisme die leiding te neem sodat Suid -Afrika van ’n rooilys verwyder word.” Volgens De Freitas sal die bykomende koste wat aan reise na veral die VK verbonde is, Suid-Afrikaners duur te staan kom. “Soos die situasie tans lyk, sal enige persoon wat van Suid -Afrika na die VK reis, aan baie Covid-19-toetse onderwerp word en tien dae in kwarantyn op eie onkoste moet deurbring. Dít sal Suid -Afrikaanse reisigers ongeveer R47 000 per volwassene en R29 000 vir kinders ouer as 11 jaar uit die sak jaag. Selfs kinders jonger as 11 jaar moet vir ongeveer R7 000 gehuisves word.  “Suid-Afrikaanse reisigers na die VSA sal soortgelyke koste dra.” De Freitas sê hierdie bykomende uitgawes sal sakeondernemings, sowel as handel tussen hierdie lande beïnvloed.

Maroela Media het vroeër berig dat ingeëntes wel van November af na die VSA sal kan reis, solank hulle ook Covid-19-toetse en kontaksporing ondergaan.

Amerikaners wat nie volledig ingeënt is nie, sal steeds die land kan binnegaan, mits hulle binne ’n dag ná hul reis negatief vir Covid-19 getoets het.

Maroela Media het onlangs berig dat ʼn plek op dié lys Suid-Afrika elke week miljoene rand kos.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Wynand ·

Dit het baie min met SA se hantering van Covid te make. Dit gaan meestal daaroor dat ‘n groot persentasie van Engeland met Astrazeneca ingeënt is wat nie bestand is teen die Beta (of SA) variant nie. Al is die Delta variant nou dominerend in SA is Engeland steeds lugtig vir Beta. Engeland het nou begin met Pfizer booster vir diegene wat Astrazeneca gehad het – so ek glo hulle sal SA van rooilys afhaal sodra hul booster program goed gevorder het.

Johann ·

Not so honorouble minister gee nie om nie? Of sy weet nie sys verandwoordelik vir TOERISME nie? Heeltemal te besig om kaders te ontplooi en kospakkies uit te deel.

Belinda ·

Maar sommiges klim net op n bootjie en arriveer daar, en word met ope arms verwelkom!

Lorraine ·

Moeg vir almal wat ‘n vrot eier lê. As ons voorouers SA oor berge en dale in gevaarlike toestande met net ossewa, kruieplante as medikasie, vyand en wildediere kon oorwin, kan ons darem sekerlik ‘n prik in die arm vat.
Komaan mense, ons voorouers het nie bang kinders groot gemaak nie, net groot kinders bang gemaak!!

A nee a!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.