Britte spook nou vir vlugte na SA

Vlugbesprekings van Brittanje na Suid-Afrika het glo met 150% toegeneem nadat die land van Brittanje se rooilys verwyder is. (Foto: Verskaf / Maroela Media-argief)

Inwoners van Brittanje is klaarblyklik vuur en vlam om Suid-Afrika te besoek nadat dié land verlede week van die sogenaamde Britse rooilys verwyder is.

Luidens internasionale berigte het Virgin Atlantic ʼn toename van 150% in vlugbesprekings na Suid-Afrika oor die afgelope paar dae aangemeld.

Die dagblad Evening Standard berig dat toeriste “desperaat probeer om vlugte vir die komende Kerstyd te bevestig voordat kaartjiepryse styg”.

“Die meerderheid van die besprekings is vir passasiers uit die Verenigde Koninkryk (VK), maar ons sien ook ’n toename in reisigers uit Suid-Afrika. Die nuwe besprekings is veral vir reis in November en Desember vanjaar,” het ʼn woordvoerder van die lugredery aan dié publikasie gesê.

Die feit dat Suid-Afrika nou van die rooilys verwyder is beteken ook dat Suid-Afrikaners wat teen Covid-19 ingeënt is en na die VK reis, nie meer twee weke lank in verpligte kwarantyn – wat besoekers sowat R45 000 uit die sak sou jaag – hoef deur te bring nie.

Die VK het ook aangedui dat hy Suid-Afrika se sogenaamde inentingspaspoort sal aanvaar.

Business Insider berig dat daar ook die afgelope paar dae ʼn skerp toename op die soekenjin Google vir reise na Suid-Afrika uit die VK gemaak is.

Toeriste het in die verlede tradisioneel oor Desembermaande na Suid-Afrika gestroom om van die winterkoue van die VK weg te kom.

Die Covid-19-pandemie en Suid-Afrika se rooilysstatus het die toerismebedryf egter geknou.

Volgens die publikasie het meer as 430 000 Britse toeriste Suid-Afrika in 2019 besoek, wat byna 30% van alle Europese besoeke aan die land uitmaak.

Dié reise beteken ook miljarde rande se inkomste verdien uit toerisme vir Suid-Afrika.

Gedurende die eerste helfte van 2021 het slegs 11 000 mense egter van die VK na Suid-Afrika gereis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

8 Kommentare

jongste oudste gewildste
Kokerboom

En daar duik die wedergebore SAL weer in die hek!

Anoniem

Dit is goeie nuus – veral vir Suid-Afrika se toerismebedryf wat pal deur ń arrogante kader afgeknou is. Gelukkig is die moontlikheid dat hierdie vlug besprekings via SAL gemaak is, ń koel ronde ZERO …

Diline

Ek is bly vir die toerisme bedryf maar ook verbaas dat buitelanders SA nog wil kom besoek met al die moord, verkragtings en korrupsie wat hier aangaan.

Jakez

Nou wat is dan so lekker hier?

Andre

Gaan Beki hulle nou ook van die strande kom weg jaag want hy is te useless vir enige iets anders doen?