Broer en suster sterf saam in ongeluk: ‘Hoe gaan ʼn mens aan?’

Amoré en Francois Kuipers. Foto: Facebook

Amoré en Francois Kuipers. Foto: Facebook

ʼn Broer en suster van Welkom in die Vrystaat is ʼn paar kilometer van hul pa se huis in ʼn motorongeluk oorlede.

Francois (18) en Amoré (23) Kuipers was Saterdag op pad na hul pa, Arnold, se huis in Koffiefontein toe die ongeluk gebeur het. “Hulle het my gebel en gesê hulle is sopas verby die bordjie wat sê nog 40km tot by Koffiefontein. Hulle was amper by my,” het hy aan Maroela Media gesê.

Toe Francois en Amoré nie opdaag nie het Arnold hulle gebel, maar albei se selfone was af. “Ek het gedink hulle het dalk langs die pad gestaan met ʼn pap band of iets en ons het gery om hulle te gaan soek,” het hy gesê. “Ons het toe op die ongelukstoneel afgekom. Ek het dadelik die motor herken. Ek het dadelik geweet.”

Francois was steeds in die motor toe Arnold op die toneel aangekom het, maar hy is kort daarna dood verklaar. ʼn Ambulans was reeds met Amoré onderweg na ʼn hospitaal, maar sy het op pad daarheen aan haar beserings beswyk.

ʼn Ondersoek na die oorsaak van die ongeluk moet nog gedoen word, maar dit blyk dat een van die motor se bande gebars het en die voertuig die pad verlaat het. Dit is nie duidelik wie die motor bestuur het nie.

Arnold het gesê Francois en Amoré was besonder na aan mekaar en het baie tyd saam deurgebring. “Ek en my kinders se ma het na die ongeluk vir mekaar gesê, as net een van hulle dood was, sou die ander een dit nie kon hanteer nie. Dit is eintlik beter dat hulle saam weggeneem is.”

Francois was ʼn kranige sportman wat in verskeie sportsoorte uitgeblink het. Nadat hy lank in die hospitaal was vir nierversaking, moes hy sy matriekjaar staak sodat hy eers kon aansterk. Hy sou volgende jaar sy matriek aan die Hoërskool Hentie Cilliers voltooi het. Amoré het as ʼn tekenaar by Macsteel VRN in Welkom gewerk.

“Francois het die laaste paar jaar baie tyd aan sy godsdiens spandeer en ongelooflike werk by skole gedoen waar hy getuienis gelewer het. Hy het werklik sy lewe vir die Here gegee,” het Arnold gesê. Hy vertel dat Amoré die stiller een van sy twee kinders was, wat baie kunstig was en lief vir teken en skilder.

“Hoe gaan ʼn mens aan as albei jou kinders saam weggevat word? Ek het nie vir jou ʼn antwoord nie. Hulle sê daar is ʼn plan met alles. Ek kan dit nie sien nie,” het Arnold emosioneel gesê.

Amoré het op 1 Julie ʼn foto van haar en Francois op Facebook gedeel waarby sy geskryf het hoe trots sy op hom is. “When sister and brother stand shoulder to shoulder, who stands a chance against us? Dankie dat jy altyd daar is vir my, my geheime veilig hou en my elke keer optel wanneer ek val…. Jy is my beste vriend en ek is lief jou tot die einde van die wêreld, my boesman!”

ʼn Gedenkdiens vir Francois en Amoré sal Donderdag om 12:00 in die Koninkryk Bedieninge in Welkom gehou word. Hulle sal albei veras word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

26 Kommentare

WILMA ·

soos ek die berig lees rol die trane aan een… my innige meegevoel aan Arnold en sy vroutjie…. n mens wil graag weet hoekom, maar daar is nie antwoorde nie… ek vra na 14jaar nog steeds hoekom my pa?

Hannelie ·

My hart gaan uit na hierdie pa wat altwee sy kinders verloor het. Ek het my broer 9 jaar terug verloor en sukkel nogsteeds om te verstaan. Mens kom daardeur, maar nie daaroor. Baie sterkte aan die familie van twee pragtige jongmense wat so tragies weggeruk is.

pop ·

My hart huil saam met julle. Dis die seerste seer. Net iemand wat self deur hierdie vreeslike seer gegaan het weet waardeur julle gaan. Maar hoe julle op hierdie dag en al die jare hierna gaan voel, dit weet niemand. Ek sal net aanhou bid vir julle. Sterkte!!!

zina ·

Wat n verskriklike tragedie. So baie baie jammer. Baie sterkte

Theresa ·

Baie sterkte julle. Woorde ontbreek……………………………

Porchia ·

My hart gaan vandag yt na hierdie pa en ma wat twee pragtige kinders nog so jonk aan die dood moes afstaan. Vir my is dit so emosioneel. Ek wil vandag vir hulle ouers sê, God droë vandag julle trane af en Hy genees die seer dit neem tyd om oor dit te kom, maar glo dat Hy altyd met julle sal wees.

Sterkte.

Treurgrond ·

My hart is ook sommer seer ek huil hier binne vir die pa en ma wat al twee hulle kinners op een slag verloor het – ek het sommer trane in my oe. God hou asseblief U hand oor hulle my God.

Strussbob ·

Hierdie wêreld is ons woning nie. Hier waar tragedie en geloof mekaar ontmoet verstaan ek niks. Mag julle krag kry elke dag.

SNEL ·

Woorde ontbreek…..baie sterkte aan die ouers en familie, mag God julle krag gee en dra deur die tyd en op die pad vorentoe.

Christine ·

Sjoe dis hartseer onbeskryflik groot, maar ek weet die Here is naby diegene wat gebroke is van hart. Mag jul troos vind en dat die Here julle elke dag sal versterk en vertroos.

Jenny ·

Dit is die ergste seer wat n mens kan hê, ek het ook twee seuntjies aan die dood afgegee en dit was vir my n stukkie hel om deur te gaan, hulle is nie saam oorlede nie, kan net dink hoe erg moet dit vir die ouers moet wees van die twee pragtige kinders. Sterkte aan hulle.

Chantelle ·

My hart is stukken vir Arnold en sy vrou, daar is nie woorde nie, hulle is pratige twee kinder, ek wens julle sterkte toe met die swaar tyd van aleenheid wat voorle, mag die liewe Here vir julle krag gee en julle harte genees. STERKTE

Chantelle ·

My hart is stukkend vir Arnold en sy vrou, daar is nie woorde nie, hulle is pratige twee kinder, ek wens julle sterkte toe met die swaar tyd van aleenheid wat voorle, mag die liewe Here vir julle krag gee en julle harte genees. STERKTE

Susan Joubert ·

Arnold ek bid vir jou en jou vrou met jul groot verlies. Ag Here wees asb die ouerpaar genagig wat hul seun en dogter saam op een dag aan die dood afgestaan het.Hulle was albei nog so jonk. Here net U ken hul seer en net U kan hul troos. Hou hul styf in U styf vas asb Liewe Heer. Groete Susan Joubert.

Grotman ·

Mens het nie woorde vir so pyn nie maar vertroos julle dat alby u kinders nou voor God se voete staan en tot sy diens as engele staan. Gods genade en vrede. God het geroep en hulle het geantwoord…

tina ·

Woorde ontbreek. As mens, is jy stom en verslae.Dan vat hierdie tragedie ‘n mens terug na die Woord van God, in die boek, Job.
En dan, deur die lewens ervaringe van Job, – al verstaan ‘n mens nie alles – weet jy net dat in ‘n tyd soos die, word ‘n mens herinner aan die lewe van Job. Wil God deur hierdie boek vir ‘n mens se, dat Hy so teer bewus is van die hartseer en verlies van die heengaan van Sy kinders. Hy alleen kan troos, en eendag wanneer die storms wat woedend om ons slaan, bedaar het en ons bootjies in kalm waters vaar, sal daar weer ‘n tipe van ‘normaal’ terugkeer.
My innige simpatie. Sterkte aan julle as ouers en elkeen wat hierdeur geraak is en ek bid dat God jul in hierdie brose tyd op arendsvlerke sal dra.

Dave ·

Dit is hartseer om daarvan te lees – nie moontlik om te probeer indink wat daardie ouers beleef. Mag God julle troos. Mag Hy julle van krag voorsien. Moet net nie God verwyt en vra waarom dit gebeur het want God is nie aandadig daaraan nie. Mense word nie soos marionette of pionne hanteer maar het vrye wil om eie ding te doen. God sal egter troos en krag verskaf.

Marie ·

My hart gaan uit na julle! Ek is so jammer. Gister 11 jaar gelede het ek my seun in ongeluk verloor. Mens staan verslae.

Karin ·

My hart gaan uit na die ouers. Ek het self twee kinders verloor en daar is nie woorde wat mens kan vertroos nie. Dis die seerste seer wat jy vir geen een kan beskryf nie. Hou net vas aan God se liefde, dis al hoe mens krag kry om elke dag op te staan en aan te gaan. Hy sal julle vashou en vertroos.

Fransie ·

Martina, SIES vir jou onsmaaklike, onvanpaste woorde oor die koerant in hierdie hartseertyd. Absoluut ongevraagd en onnodig.

Jimmy Grundlingh ·

Baie sterkte in hierdie afgryslike tyd. Ons hoop en bid dat julle vrede en rustigheid sal vind.
Ons huil saam met julle.
Groete,
Jimmy Grundlingh

Chris ·

Hoe kan enige een wat ‘n kind aan die dood afstaan (as hy of sy alles in jou lewe was) nog enigsins glo dat daar iets soos ‘n god is ! Ek stel nie in die minste belang om iets of iemand te aanbid wat “toegelaat” het dat my enigste kind 2 jaat terug oorlede is nie – al die jare van sogenaamd christen wees het niks beteken nie ! As ‘ n nie gelowige nou sien ek nou eers die werklike lewe en hoef nie meer ‘n fiktiewe karakter aan te hang nie. Ten slotte, as jy nie ‘n kind verloor het nie, moenie eers probeer antwoord nie, jy sal nooit verstaan nie …..

tina ·

Chris,ek wil graag vir jou en elkeen wat ‘n geliefde aan die dood afgestaan het, my innige simpatie betuig. Dit is goed om mooi herinneringe van ons geliefdes te he.
Elke mens is geregtig daarop om te rou solank soos hy wil, maar daar kom ‘n tyd wat ‘n mens moet aangaan. Ek lees jy se dat jy nie ‘belangstel om iets of iemand te aanbid wat “toegelaat” dat jou enigste kind 2 jaar terug oorlede is’.
Niemand durf jou verwyt oor jou pyn nie, maar jy het nie nodig om ‘n gevangene van jou pyn te wees nie. Kinders en geliefdes is juis geskenke van God en word net aan ons en aan mekaar geleen. God het geen behae in die dood van ons kinders of geliefdes nie en dit is duiwel wat dood en verwoesting saai. Vandaar die gevoel van kwaad en om God die skuld te gee. God KEN jou pyn en Hy IS NIE KWAAD vir jou nie. Hy het ook nog NOOIT jou hand gelos nie. God het Jesus (ook Sy ENIGSTE ) gegee, om versoening te doen vir al die mense in die wereld, sodat niemand verlore mag gaan nie, daarom is Hy gekruisig(Jes.53 vers 4 en 5) , en daarvoor het Hy juis Jesus vir ons gestuur, om die dood wat ons van Hom sou skei, te vernietig, sodat ons verewig by Hom kan wees wanneer ons tyd op aarde verby is. Ongelukkig wil nie almal hierdie offer van GODDELIKE LIEFDE (Joh.3vers 16 : Want so lief het God die wereld gehad, dat Hy Sy eniggebore Seun gegee het, sodat die wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan he), aanneem nie. Klein en groot, oud en jonk word geraak deur die dood en dit is ‘n pad wat ons almal moet gaan, omdat ons in ‘n sondige wereld bly. Daar is egter ‘n dag bepaal wat ons moet sterf.
Ek bid vir jou vir krag,sterkte en vrede. Ek wil ‘n voorstel maak as ek mag?. Gaan op jou kniee en gee AL JOU PYN vir Hom. Hy wil SO GRAAG jou toevou en troos. Gaan lees die boek Job en psalms, so ook die evangelie van Johannes en ONTDEK Sy LIEFDE VIR JOU ♥

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.