Broer praat ná sakeman se vlammedood

Albert Ras. Foto: Janie Monsieur.

Eduard Ras (44), die sakeman van Pretoria-Noord wat vroeër vandeesmaand in Limpopo dood is ná hy in Pretoria gekaap is, se familie het steeds nie regtig antwoorde oor sy dood nie.

“Christel (Eduard se vrou) sukkel om die polisie in die hande te kry; ek sal op die ou end maar weer moet ry,” sê Albert Ras (54), Eduard se broer, in ʼn onderhoud met Maroela Media.

Albert vertel die familie het op 11 Mei amptelik gehoor dat Eduard aan brandwonde beswyk het.

“Die polisie beweer hy het petrol oor homself uitgegooi en homself aan die brand gesteek omdat hulle blykbaar ʼn ooggetuie het. Hulle het die toneel vernietig en wou hê ons moes byna dadelik die bakkie terugsleep Pretoria toe.”

Hy wys vir ons Eduard se onbeskadigde selfoon, een van sy besittings wat saam met sy beursie by die polisie aangetref is.

“Ruik hier aan hierdie selfoon, dis nie gebrand nie. Sy skoene is ook nie gebrand nie en jy kan sien daar is sleepmerke op. Eduard rook ook nie en daar is stompies op die toneel aangetref.”

Eduard Ras. Foto: Verskaf.

Volgens Albert het Eduard sowat R5 000 kontant by hom gehad wat ook van die toneel verdwyn het.

Hy het dié kontant glo die oggend ná 07:00 toe hy klaar by die gimnasium geoefen het, onttrek.

Om 10:00 het hy volgens die familie nog met ʼn kollega gepraat oor ʼn taak wat hulle saam moes verrig. “Om 11:00 skree hy vir die kollega oor die selfoon ‘hulle het my’.”

Eduard se laaste oproep was om 11:21 waar die kollega net ʼn geskree en bakleiery oor die telefoon hoor. Die kollega het daarna Christel laat weet en alarm gemaak.

Volgens Albert verwerk die familie dié tragedie verskillend.

“Sommige is kwáád,” sê hy.

“Christel hanteer dit tot dusver baie klinies en baie sterk, maar ons is bang vir die dag dat die proppie wat die bottel toehou, gaan afskiet. Sunette, sy matriekdogter, en hy was baie na aan mekaar. Dis vir haar en haar broer, Eduard (14), baie swaar.”

Albert sê hulle gaan nog ʼn behoorlike begrafnis hou vir Eduard.

Volgens hom het hy “’n proses gereed om antwoorde” te kry. “Daardie proses en die polisie se ondersoek moet nou hul gang gaan.”

Albert Ras. Foto: Janie Monsieur.

Maroela Media het vroeër berig Eduard is op 2 Mei as vermis aangemeld. Lt.kol. Moatshe Ngoepe, woordvoerder van die polisie, het vroeër bevestig dat Eduard in Pretoria gekaap is.

“Hy is in die Dennilton-omgewing [in Limpopo] gevind,” lui ʼn verklaring wat vroeër deur die familie uitgereik is. “Hy is in die Philadelphia-hospitaal in ʼn kritieke toestand aangetref waarna hy aan sy brandwonde beswyk het.”

Volgens die familie is Eduard se uitgebrande voertuig in die nabye omgewing opgespoor. Nadat die nuus bekend geraak het, was daar volgens die familie talle “ongegronde” bespiegelinge wat op sosiale media versprei is.

Die inskrywings op sosiale media het onder meer beweer dat hy in sy motor aan die brand gesteek is terwyl sy hande en voete vasgebind was.

Ngoepe het aan Maroela Media bevestig die polisie se ondersoek na die saak duur voort en dat die polisie steeds met ʼn geregtelike doodsondersoek besig is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Anoniem ·

Dis so hartseer !!! Sterkte aan die familie so is daar baie onopgeloste sake

Oom Kalahari ·

Hier is versteekte agendas en ruik ‘n rot. As dir getuie besig is om valse verklarings te maak kla hom aan vir meineed en stel ‘n eis in. Daar is sovele punte wat Albert Ras aanhaal en uitwys wat ander optredes aandui. Waarom sal hy dan na ander onbekende omgewing ry en petrol oor homself gooi en aan die brand steek???? Hy is gekaap, aangerand en beroof en toe vermoor, dit is duidelik soos daglig.

Selfbeskikking ·

Ja. Ons kan nie meer in die land met die ANC beheerde polisie en kriminele saamleef nie. Ons moet onderhandel vir selfbeskikking, die verhouding werk nie en hoe vinniger ons skei hoe beter.

pieter ·

Die polisie het van n onbevoegde klomp gegaan na ons nr 1 vyand

Johan. H. ·

Daar is seker 10 of 11 wat nog goeie werk doen maar die meerderheid is maar bietjie dof,,Proof ME Wrong,,, Sien daar is n pol betrokke met transito,,,,Dink hulle regtig hulle kan nog met vandag se tegnologie wegkom met bollie,,,

Waarheid ·

Sterkte vorentoe vir almal betrokke, vernaam die naby geliefdes, omarm mekaar vernaam die kinders en onthou wees lief vir mekaar dit hou die hart in stand en alle swaarkry draaglik. Geregtigheid seëvier altyd.

Pikkewyn ·

Baie sterkte aan sy vrou,kinders en familie.
Ek ruik ook n rot.Di polisie ht bevestig eers dat hy wel GEKAAP is en nou ht hy hom kammig self aan di brand gesteek.Dit is belaglik om di minste te se.Plaas dat hul eerder daai kamtige ooggetuie behoorlik bymekaar maak om agter di WAARHEID te kom .Hou aan baklei vir di waarheid oor wat met hom gebeur ht

Charmaine Marx ·

Ek hoop julle kry antwoorde. My boetie is 2.5 jaar gelede vermoor, en daars niks aan gedoen nie. Saps stel nie velang om wittes se moorde op te los nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.