Broer, suster sterf saam in familielid se huis

Deoné en Kyle Janse van Rensburg (Foto: Hoërskool Goudrif via Facebook)

’n Broer en suster is Sondagaand saam met hul tannie dood toe hulle klaarblyklik deur die petrolwalms van ’n kragopwekker oorweldig is en versmoor het.

Deoné (17) en Kyle Janse van Rensburg (22) het Sondagaand by hul 49-jarige tannie by haar huis in die Glenvista-omgewing in die suide van Johannesburg gekuier toe die voorval plaasgevind het. Die tannie se naam is nie bekend nie.

Bruce Lennox, voorsitter van Mondeor se gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), het Donderdag aan Maroela Media vertel dié sibbe en hul tannie se liggame is Maandagmiddag in die tannie se motorhuis gevind.

“Toe die huiswerker Maandagoggend by die huis aangeklop het vir werk, het niemand vir haar oopgemaak nie. Sy het dadelik onraad vermoed en ’n familielid gebel om te gaan kyk. Die familielid het ons geskakel en dit is toe dat ons die liggame in die motorhuis ontdek het,” vertel Lennox.

Lennox sê die drie is omstreeks 14:00 dood verklaar.

Lennox sê daar was Sondag ’n kragonderbreking in die omgewing en inwoners van Glenvista is ure lank sonder elektrisiteit gelaat. Die krag het glo eers Maandag weer aangekom.

“Ons vermoed hulle het versmoor toe hulle die petrolwalms van die kragopwekker wat deur die aand aan was, ingeasem het. Die polisie ondersoek nog die saak om die oorsaak definitief vas te stel,” sê Lennox.

Medelye het ingestroom vir Deoné en Kyle Janse van Rensburg (Foto: Hoërskool Goudrif via Facebook)

Volgens Kapt. Mavela Masondo, woordvoerder van die polisie, wag die polisie nog vir die nadoodse ondersoekverslae om die oorsaak van die drie se dood te bevestig.

Deoné was ’n gr. 11-leerder aan Hoërskool Goudrif in Germiston. Medelye met die broer en suster se ouers het op die skool se Facebook-blad ingestroom.

Die skool het ook vriende van die Janse van Rensburg-kinders en hul ouers genooi om eerskomende Saterdag blomme, kerse of foto’s voor die kinders se ouerhuis te gaan plaas.

“Deoné was een van my langste vriendinne. Ons ken mekaar nou al vir 12 jaar. Al waaraan ek kan dink, is al die goeie dae waar ons net kon sit en gesels en grappe maak,” het een van Deoné se vriendinne op die skool se Facebook-blad geskryf.

Deoné was ook sedert gr. 3 ’n lid van die Susan Badenhorst-Voortrekkers. Sy het haar voorslagkursus in 2016 voltooi.

“Susan Badenhorst Voortrekker Kommando [se] dagbestuur, offisiere, kinders en ouers wil graag ons innige simpatie en meegevoel toewens aan die familie met die afsterwe van Kyle en Deoné, ons voormalige drawwertjie. Ons dra julle in ons gebede op aan die Here en bid julle sterkte en liefde toe in hierdie hartseer tyd,” lui ʼn inskrywing op die Voortrekkers se Facebook-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Michael 1 ·

Baie tragies,en vreeslik hartseer ek hoop net dat die feit dat n kragopwekker betrokke is niks met moontlike beurtkrag te doen het nie?

MJ ·

Dis so hartseer. Hoe vinnig kan petroldampe mens dan so erg oorval? Hulle sou tog seker die kragopwekker aangesit het en teruggegaan het in die huis? Ek oordeel nie, ek vra net omdat ek regtig nie weet nie…

Vriendelike Frikkie ·

Wat waarskynlik gebeur het, en dit gebeur meer gereeld as wat ons besef, is dat een persoon deur die dampe oorval is, toe gaan die tweede persoon om te help en word ook oorval. Die derde persoon kom op die toneel en gaan ook in om die ander te help en word ook oorval. Dit gebeur gewoonlik in rioolputte waar daar ‘n groot kans op gifgas is.

johanf ·

Dankie, dit beantwoord my vraag, hoekom hulle in die motorhuis gevind is. Ai, dit is so tragies….
My simpatie aan die naasbestaandes.

Linq ·

Die trippel familie tragedie is hartverskeurend. Ons gaan julle so mis by die ringbal. My kinders gaan Deone so mis by die skool. Die vriendelike glimlagte, altyd bereid om te help. Heidi & Deon mag Jesus julle vertroos in hierdie moeilike tyd.

Pampoen ·

Baie jammer oor die mense en ook vir hulle naasbestaandes. Dis waarskynlik koolstof monoksied vergiftiging (uitlaat gas). Dis moes gebeur het toe hulle die kragopwekker gaan afsit het. Mens moet nooit ‘n kragopwekker of enige brandstof enjin in ‘n toe vertrek laat loop nie. Sit jou kragopwekker op die oop stoep.

Blikke ·

Mag die Here julle in hierdie moeilike tyd in Sy hande toevou en julle vertroos!!

Marius ·

Dit is bitter tragies , sterkte aan die familie . Kla Eskom aan vir moord , as daar krag was sou die kragopwekker nie nodig gewees het nie dan het niks hiervan plaas gevind nie . Dit is tyd dat die regering en hulle onderdane begin pa staan vir hulle optredes en swak manier van werk ens .

Petrus ·

Dis baié hartseer, maar stem saam met MJ. Het hulle dan in Garage gekuier? Mens sal nie weet, maar met die grootste respek, iets klink nie reg.

Mariaan ·

SKOKKEND! Ouers verdien nie so tragedie nie..agge nee man…my hart pyn vir die mense..ek verstaan NIE die doel hiervan nie..net verdriet! En moenie vir my se hulle is nou op n “beter” plek nie…NEE! Hul lewe begin nou eers..ek as mamma sal dit nie oorleef nie…baie sterkte vir julle

Marietjie ·

Ja Pampoen en as jy opstaan het jy nie meer n kragopwekker op die stoep nie en ook nie krag nie!

Sê Ook Maar Net ·

Baie hartseer en onnodig. Die feite maak nie lekker sin nie. Petroldampe kan jou ‘n hoofpyn gee . Ek stem halpad saam met Pampoen. Jy kan vergas word deur die uitlaatgas van die kragopwekker. Maar jy kan nie instap en en dan dadelik inmekaarsak nie soos Pampoen sê. Hulle moes die opwekker in die motorhuis laat loop het en in die huis die gas ingeasem het. Was al drie in die motorhuis? Maak glad nie sin nie. Sulke pragtige kinders.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.