Broers by slaghuis doodgeskiet: Name bekend

Die Blou Bul Vleis- en Vismark in Pretoria. Foto: ANA

Die Blou Bul Vleis- en Vismark in Pretoria. Foto: ANA

Pedro de Abreu het sy twee broers en vennote, Joao en Jose, Maandag tydens ʼn rooftog by hul Blou Bul Vleis- en Vismark in Paul Krugerstraat in Pretoria aan die dood afgestaan.

Joao en Jose is noodlottig gewond toe ʼn groep van minstens vyf mans die besige slaghuis en supermark betree het, onder voorwendsel dat hulle klante is. Hulle het daarna voor geskokte personeellede op die sakemanne losgebrand.

Pedro beweer dit is dieselfde bende wat sy familie vroeër geteister het. “Hulle het die winkel op 31 Desember ook aangeval. Ons het terugbaklei en hulle het begin skiet. Hulle het later weggehardloop sonder enige geld. Dit is dieselfde groep wat vandag teruggekom het,” het hy byna ontroosbaar aan die African News Agency (ANA) gesê.

“Twee weke ná die voorval op 31 Desember het ek weer ʼn onderonsie met hulle gehad. Hulle was die keer soos polisiebeamptes aangetrek. Hulle het my op die R21 voorgekeer. Hulle het in my motor geklim en met my rondgery. Hulle kon nie enige geld kry nie. Ek het nie geld gehad nie, so hulle het my laat gaan.”

Pedro was nie in die winkel toe die groep Maandag toegeslaan het nie. Hy het gesê die res van die gesin sukkel om tot verhaal te kom ná die nuus van die moorde. “Ons is al 30 jaar lank saam in besigheid. Ons familie sukkel om dit te verwerk. Dit pyn is ondraaglik. Dit was my twee broers,” het hy gesê, en gesukkel om die trane te keer.

ʼn Veiligheidswag het aan ANA gesê die rowers het met ʼn onbekende bedrag geld gevlug nadat hulle die twee broers geskiet het. Hy het na ʼn nabygeleë polisiestasie by die Bosman-bushalte en -treinstasie gehardloop.

“Ek was uitasem van die hardloop. Ek het vir hulle gesê ons is beroof en een polisiebeampte in ʼn wit hemp, wat soos ʼn senior beampte gelyk het, het aan drie beamptes opdrag gegee om saam met my te kom. Ek was verbaas toe hulle gesê het rooftogte is nie hulle werk nie. Hulle het aangevoer ek moet na Pretoria-sentraal-polisiestasie toe gaan,” het hy gesê. “Ek was verward. Hoe kan polisiebeamptes my wegstuur wanneer ek hulle roep om misdadigers te jaag? Ek het geweet mense is doodgemaak. Die polisie het gesê ek moet 10111 bel. Ek het die beamptes by Pretoria-sentraal gekontak en hulle het dadelik gekom.”

Hy het gesê ʼn pistool is tydens die rooftog teen sy kop gedruk.

“Nadat [Joao] die winkel oopgemaak het, het hy gevra ek moet die klein trappies by die ingang installeer vir die klante. Die kassier het kort daarna begin skree en gesê ek moet na die ingang toe kyk. ʼn Gewapende man het my gegryp en my geskop. Ek het geval. Hy het gesê hy sal my doodmaak as ek probeer opstaan. Hy het ʼn vuurwapen op my gerig,” het die veiligheidswag bygevoeg. “Kort daarna was daar skote in die winkel. Die hele voorval het ongeveer vyf minute lank geduur. Toe die rowers weg is, het ek na die Bosman-polisiestasie gehaas.”

Kapt. Augustinah Selepe, woordvoerder van die polisie, het gesê die bewerings word ondersoek. “Ons is nie bewus van die bewerings dat die veiligheidswag weggewys is deur die polisie nie. Toe ek by die toneel aangekom het, was al die rolspelers, insluitend beamptes van Bosman-stasie, teenwoordig. Ons stel ondersoek in.”

Selepe het vroeër gesê die winkeliers is doodgeskiet voor ʼn onbekende bedrag geld gesteel is by die besige winkel op die hoek van Paul Kruger- en Scheidingstraat.

Maroela Media het vroeër berig die verdagtes met ʼn boks vol kontant gevlug. “Op die beeldmateriaal van veiligheidskameras kan gesien word hoe die verdagtes in ʼn silwer-grys Mercedes Benz en ʼn wit Mercedes-Benz vlug,” het Selepe bygevoeg.

Die winkel is Maandag gesluit. Lede van ʼn niewinsgewende-organisasie, die Portugese Forum, was in die winkel saam met van die familielede en sake-eienaars.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Jean ·

Skokkend! Baie simpatie en sterkte vir die familie! Dis omdat die polisie en regering nie misdaad ernstig opneem nie, veral nie as die slagoffers wit is nie! Hulle neem nie eers meer vingerafdrukke by ‘n inbraak/roof nie! Roof is n lekker verskoning en geen oortreding meer nie, sake word net oop gemaak om vd versekering te eis! Dieselfde rowers van vandag word more moordenaars! As die polisie die poging tot roof die 31ste ernstig opgeneem het was die mans se lewens gespaar! So moenie weer simpatie by my soek vir polisiemanne nie!

Kevin ·

Jammer om te hoor wat gebeur het en sterkte aan die familie. Net ook hoor of enige iemand wat is die registrasie van die mercedes, daar was al twee woensdae agter mekaar wat n silwer-grys mercedes ek en my verloofde en ons vriendin agtervolg waar ookal ons gan is die mercedes daar en gan verby ons woonstel blok op en af, wil net weet of dit dieselfde kar is of nie.

andrea van vuren ·

Swakkelinge. Gemors. Kom altyd in groepe van vier of vyf. Hoekom nooit alleen nie. Te lamsakkig!

LB S ·

Julle moes dit LANKAL by die polisie gaan aangee. As hulle niks wil doen nie, kry ‘n Speurder. Dit is wat EK sou doen, dit klink baie verdag.

EvW ·

Dit so onnodig! Misdaad is besig om handuit te ruk regoor die land en die wat iets daaraan kan doen sit terug en kyk net en doen niks Maar as dit hulle familie was dan seker ń spesiale ondersoek span v dit gekry!

AL ·

Die groepe gewapende rowers/moordenaars wie so toeslaan op besighede, plase en huise en mense terroriseer, daar moet druk op die polisie geplaas word. Is daar ooit taakspanne in plek om die nuwe vlaag anargiste vas te vat?

Linda Green ·

Polisie gee nie meer om nie. Ek was in Rustenburg eenmaal beroof van my selfoon. Ek kon die dief nog sien hardloop. Toe ek die polisieman wat daar loop vra om my te help, was sy reaksie : I am on a shift change. I can’t help you.

Scalla ·

Tragies, onnodig, inside job en inligting, ons eens mooi land is vinnig besig om te sneuwel

SARIE VAN HEERDEN ·

Waarom sou die slaghuis se werker lieg oor die polisie by Bosmanstraat wat geweier het om na die beroofde slaghuis te gaan? En dan het die polisie die vermetelheid om eers ondersoek in te stel alvorens iemand “verhoor” of vervolg word in hul organisasie!

SARIE VAN HEERDEN ·

IN ANTWOORD OP KEVIN 13 UUR GELEDE SE INSKRYWING. Los dit om die Mercedes wat jul agtervolg se registrasienommer te kry want dit is definitief vervals. As hul weer naby jul kom, ry stadiger sodat hul langs jul motor is en neem dan ‘n foto van die bestuurder. Jy kan nie ‘n saak maak nie, maar jy kan dit aanmeld by enige polisiestasie en dan ook vra vir ‘n bewys van die aanmelding. STERKTE.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.