Broers daag mekaar uit voor een verdrink

Foto: Pixabay

Die polisie het ʼn ondersoek van stapel gestuur nadat ʼn 25-jarige man Sondag in ʼn dam in die Heidelberg-omgewing in Gauteng verdrink het.

Kapt. Thivhulawi Tshilate, woordvoerder van die polisie, sê die man, sy broer en ʼn groep vriende het mekaar glo uitgedaag oor “wie kan swem” en “wie die verste kan swem”.

Tshilate sê ʼn voorlopige ondersoek het vasgestel die oorledene het gesê dat hy glo van die een punt van die dam tot by die ander én terug kan swem, waarna hy in die dam gespring het. Hy het nie weer na die oppervlak gekom nie.

Die voorval het glo by die Comet-slaghuis-landbougebied in Heidelberg, die broers se werkgewer, plaasgevind.

“Nadat sy broer besef het dat hy nie uit die water kom nie, het hy na hul werkgewer gehardloop om hulp te ontbied waarna hulle die polisie gebel het,” sê hy.

Polisieduikers het die man se liggaam Sondagmiddag uit die dam gehaal.

Kol. Amanda Dorothy Viljoen, stasiebevelvoerder, het haar medelye aan die oorledene se naasbestaandes en familie betoon. Viljoen het gesê mense moet uiters waaksaam vir oop waters wees as hulle geensins of nié goed kan swem nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Gebeure ·

Gebeure, en die aanloop daartoe, het altyd ‘n geskiedenis.
Sterkte aan die betrokkenes. Mag andere hieruit leer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.