Twee broers van Limpopo wat skuldig bevind is aan verskeie aanklagte wat met renosterstropery verband hou, is swaar gestraf.
Gideon van Deventer (53) is tot effektief 10 jaar tronkstraf gevonnis, terwyl sy broer, Nicolaas (56), tot effektief 15 jaar tronkstraf gevonnis is.
Die broers het in die Giyani-streekhof skuldig gepleit op verskeie aanklagte, waaronder onwettige jag, die besit en verkoop van renosterhorings en betreding.
Die beskuldigdes is op 6 Januarie 2017 in hegtenis geneem vir misdrywe wat tussen Desember 2016 en Januarie 2017 gepleeg is. Op die dag van hul inhegtenisneming in die Vivo-gebied het die broers ʼn renosterhoring by die venster van die bakkie waarin hulle gery het, uitgegooi terwyl hulle deur die polisie agtervolg is.
Die broers is voorheen met renosterhoringsindikate verbind ná stropingsvoorvalle in die Hluhluwe-Imfolozi-park in KwaZulu-Natal en in Bela Bela in Limpopo.
Adv. Norman Makuvele, staatsaanklaer, het die hof versoek om die beskuldigdes lank tronk toe te stuur weens hul vorige veroordelings wat met renosterstropery verband hou.
Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het die vonnis verwelkom en die hoop uitgespreek dat dit voornemende oortreders sal afskrik.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
35 Kommentare
Pateties! Lewenslank is wat hulle moet kry. Hulle het geen gevoel vir hulle slagoffers waarom moet die hof enige gevoel vir hulle hê?
Absoluut skokkend!! Skaam my vir hulle.
Laat dit n les wees
Sukses. Al die wild stropers en wild diewe moet tronk toe, dan sal ons natuurlewe behoue bly.
Gooi weg die sleutel.