Broers in hof ná man voor vrou doodgeskiet word

Matthew en Sheldon Breet. Foto: Facebook

Twee broers het Maandag in die Wynberg-landdroshof verskyn in verband met die moord op Brian Wainstein wat ten aanskoue van sy vrou en kind in sy huis in Kaapstad doodgeskiet is.

Kapt. Lloyd Ramovha, woordvoerder van die Valke, het aan Maroela Media bevestig Matthew en Sheldon Breet het op aanklag van moord verskyn.

Wainstein is op 18 Augustus vanjaar in die vroeë oggendure in sy huis in Constantia doodgeskiet. Volgens Ramovha het Wainstein se vrou verduidelik dat twee mans haar man vroeër die aand by die huis besoek het. “Later het sy wakker geword van skote wat afgevuur word en sy het besef haar man is in sy bors geskiet,” het Ramovha gesê.

Die skieters het drie selfone in die huis gevat voordat hulle op die vlug geslaan het. Wainstein se vrou en kind is nie beseer nie. Wainstein is op die toneel dood verklaar.

Fabian Cupido (39) is in Oktober in hegtenis geneem vir sy beweerde betrokkenheid by Wainstein se moord. Dit kom nadat hy vroeër in polisieaanhouding was in verband met die beweerde aanval op Jerome “Donkie” Booysen, vermeende leier van die 26-bende en Sexy Boys, by ʼn Kaapstadse hospitaal.

Booysen is in die hospitaal behandel nadat hy buite die Kaapstad Internasionale Lughawe tydens ʼn skietery gewond is. Volgens mediaberigte het ʼn man, wat hom glo as ʼn vrouedokter vermom het, toegang tot die saal probeer verkry waar Booysen behandel word.

Cupido het sedert sy inhegtenisneming in verband met Wainstein se moord verskeie kere in die hof verskyn en is steeds in polisieaanhouding. Hy sal op 29 November weer in die hof verskyn.

Wainstein is vroeër deur Interpol gesoek nadat hy glo onwettige steroïede aan sportsterre wêreldwyd verskaf het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Andrea ·

Ja, want sulke mense moet uit die samelewing verwyder word…permanent.

Cherokee ·

Sug….. jan_alleman, in ‘n regstelsel wat die papegaai vrou met R150 000 beboet en die ouens wat ‘n beweerde koperdief skrik maak deur hom in ‘n doodskis te druk, met 15 jaar vonnis, wil jy die reg gee om die doodstraf toe te pas. Dit is die probleem met een-sin-kommentare; dink ook nie verder as een sin nie.

Pop ·

Ja jan alleman, en wie dink jy gaan doodstraf kry??? Ek gee jou 10 raaie. Iedergeval die berig hier bo klink vir my na n kookpot van dwelms en bendes. Dan gaan lyke begin opduik.

snoefie ·

jy is reg cherokee. n regstelsel wat glo beserings opgedoen as jy deur n venster spring verskil van beserings opgedoen as n persoon 35 jaar gelede daar uitgesmyt was sal glo net ligtevel mense is skuldig genoeg om die doidstraf opgelê te word. ek moet egter sê ou donkie is n wonderlike ding om bende leier van twee verskillende bendes te kan wees.

LMF ·

Ja nee hier is n baie groter prentjie as dit. Ek ruik iets en dit is nie n dooie rot nie

Kosie ·

Google net die naam Brian Wainstein .

jy saai somtyds meer as wat jy gesaai het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.