Broers sterf kort ná hulle matriekuitslae kry

Argieffoto: Kent Williamson

ʼn Oos-Kaapse burgemeester het albei haar seuns in ʼn motorongeluk verloor kort nadat hulle hul matriekuitslae ontvang het.

Die OR Tambo-distriksmunisipaliteit, waarvan Mthatha die setel is, sê hulle het “met skok en groot hartseer” verneem van die heengaan van die twee seuns van die distrik se uitvoerende burgemeester, Nomakhosazana Meth.

Volgens die beskikbare inligting was die jong mans, Bradley Meth (18) en Ndiphelele Diko (22), Vrydag in die vroeë oggendure in ʼn motorongeluk in die omgewing van Mthatha betrokke.

Die provinsiale polisie kon nog nie die ongeluk bevestig nie, maar het onderneem om so gou moontlik op Maroela Media se navrae te reageer. Ayongezwa Lungisa, woordvoerder van die burgemeester, het by navraag gesê die broers, wat saam op skool in Mthatha was, was saam met ʼn neef en ʼn vriend onderweg, maar hy kon nog nie nadere besonderhede verstrek nie.

“Dis ʼn reuseverlies, nie net vir die uitvoerende burgemeester en die Meth-familie nie; ook vir die hele distrik aangesien dié jong mans pas hul matriekuitslae ontvang het,” sê die distriksmunisipaliteit in ʼn verklaring.

Die munisipaliteit het sy meegevoel met die familie betuig. “Dit moes eintlik die tyd gewees het waarin die groot werk van die burgemeester om matriekuitslae te verbeter, gevier moes word omdat sy die ambassadeur is vir onderwys in die streek.”

Die ANC in die Oos-Kaap sê in ʼn verklaring: “Dis inderdaad ʼn groot verlies vir die familie om twee volwasse kinders te verloor pas nadat hulle matriek voltooi het en ʼn bron van inspirasie sou gewees het vir die familie en die land.

“Woorde skiet te kort om die pyn te beskryf om sulke jong naasbestaandes te verloor. Ons bid raadslid Meth sterkte toe.”

Hul begrafnis sal waarskynlik op 18 Januarie in Mthatha gehou word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Ander Annie ·

Dit is tragies. Innige simpatie aan die ouers, familie en vriende. My gebede is met julle. Hoe oneindig seer om twee kinders af te staan in die fleur van hulle lewens. Ek huil saam met julle. R I V

Ouvrou ·

Hoe ongelooflik hartseer. Hoe kom. ‘n ouer ooit oor so ‘n tragedie. Innige simpatie.

Sophia ·

O hoe hartseer! My innige simpatie met die ouers, naasbestaandes en familie. RIP

Anoniem ·

Hoe absoluut stukkend is daardie ma se hart nie vandag nie… innige simpatie.

Kapenaar ·

Innige simpatie. Ons is daardeur, ‘n ouer is nie gemaak om ‘n kind te begrawe nie. Dis ‘n eina wat net nooit weggaan nie.

Penellope Jones ·

Een van die soort berigte wat my sprakeloos laat . . . .

SK ·

Ai Jan. Jou kommentaar is onvanpas. Duidelik het jy seker nog nie n kind aan die dood afgestaan nie.

Steve Smit ·

Jan ek is n boer maar jou kommentaar is TOTAAL onvanpas!!!! Skaam jou!!! Ons simpatie aan die familie

Margaret ·

Daar is geen troos woorde vir die verskriklike tragedie en hartseer nie. Bid julle krag toe. Sterkte!…..

Miekie ·

Genade dit is baie erg. Om twee kinders op een slag te verloor na baie goeie nuus van die matriekuitslae en ‘n nuwe toekoms wat wink. Baie sterkte aan die familie en aan Raadslid Meth. Mag God julle in julle hartseer bystaan

madels ·

Dit moet verskriklik wees, kan nie eers dink wat hierdie familie nou deurgaan nie :-(

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.