Broers tel stukke op ná modderstorting res van gesin eis

Die gesin se huis is met die modderstorting meegesleur. (Foto: Facebook)

Twee broers van KwaZulu-Natal tel stadigaan die stukke van hul lewe op nadat ʼn modderstorting verlede week die res van hul gesin uitgewis en hul huis verwoes het.

Danie (22) en Freddy (21) van den Heever het op 12 April gestaan voor wat nou lyk soos ʼn leë erf in Bealingsweg in Northdene naby Durban. Die realiteit het vinnig ingesink dat hulle nou wees en dakloos is.

Weldoeners het egter hul harte oopgemaak en duisende rande aan die broers geskenk om nie net basiese benodigdhede te koop nie, maar ook om hul ma, ouma en jonger suster ter ruste te lê.

Die broers se ma, Marinda Fourie (52), hul ouma Hester Grobler (70) en sussie, Mariché Fourie (10), is Dinsdag tussen 02:00 en 04:00 deur ʼn reusemodderstorting meegesleur wat ook talle ander huise verwoes het.

Danie het aan Maroela Media vertel dat hy daardie noodlottige oggend ʼn oproep van Freddy ontvang het dat hul huis en gesinslede meegesleur is. Danie het by sy vriendin se ouerhuis oorgeslaap en Freddy het nagskof gewerk.

Die verwoesting het hulle die volgende oggend begroet.

“Ek het vir hom gesê om nie sulke grappe met my te maak nie, maar ek het vinnig besef dat hy ernstig is – ons huis is weg.”

Die broers is saam na Bealingsweg waar die straat byna heeltemal onder puin en modder begrawe is.

“Ek het geskrik toe ek sien ons huis is weg. Ons het nie geweet wat om te doen nie,” sê Danie.

“Lede van die gemeenskap het op ons buurman se erf gesoek vir oorlewendes en ons het hulle gevra vir hulp. Ons het toe saam begin soek na ons gesin.”

Die polisie het kort daarna ook met die soektog begin help.

Mariché Fourie (10). (Foto: Verskaf)

“Ons het gedeeltes van ons huis al langs die rivier herken – my ma se eetkamertafel en die badkamerteëls.”

Marinda se liggaam is aan die anderkant van ʼn rivier gevind, terwyl Hester en Mariché se liggame sowat ʼn kilometer stroomaf gevind is.

“Ek het my ma herken aan haar naels en nagrok. Sy was baie lief vir juwele maak en van haar krale het naby haar gelê,” sê Danie.

Die broers moes op die toneel hul gesinslede uitken en hul identiteit aan owerhede bevestig.

“Al wat ek kon kry is ʼn handvol van my ma se kraletjies. Die res is weg.”

Die gesin se drie honde en drie katte is steeds spoorloos – vermoedelik deur die vloedwater meegesleur.

Helpende hand verleen

Danie sê hy en Freddy was die hele week besig om papierwerk af te handel sodat hul geliefdes veras kon word. Dit was ʼn opdraande stryd om die dokumentasie te probeer bekom.

“Dit was ʼn nagmerrie, ʼn week uit die hel,” sê hy.

Die verwoestende reën in die provinsie het die lewe van meer as 400 mense geëis en talle dakloos gelaat. Maar Suid-Afrikaners het oudergewoonte saamgestaan om slagoffers weer op hul voete te help.

Sumarie Greybe, medestigter van Naked Insurance, was een van diegene wat ingegryp en die broers finansieel gehelp het nadat ʼn familievriend van die gesin by JacarandaFM se Good Morning Angels-program om hulp gepleit het.

Greybe het R50 000 aan die broers geskenk, onder meer om hul gesin ter ruste te lê.

ʼn Begrafnisondernemer het reeds reëlings begin tref om Marinda, Hester en Mariché te veras en ʼn roudiens sal na verwagting op 29 April vir hulle gehou word.

“My vriendin se ouers het ná die voorval aangebied dat ek en my broer in hulle huis kom bly en ons is baie dankbaar daarvoor,” sê Danie.

“Ons het ook nie geweet watter rigting om te gaan met begrafnisreëlings nie, so hulle help nou beplan aan die roudiens.”

Mariché se skool, Die Gelofte Skool in Pinetown, het Vrydag ʼn roudiens vir haar gehou wat Danie en Freddy bygewoon het.

“Almal het ingespring en gehelp waar hulle kan. Ons waardeer alles so baie.”

Jules, Mariché en Marinda destyds. (Foto: Verskaf)

‘Dit sal nooit met my gebeur’

“ʼn Mens hoor gereeld van tragiese goed wat mense oorkom, maar jy dink dit gaan nooit met my gebeur nie – tot jy daardie oproep kry. Dit tref jou hard.”

Danie sê hy het nog nie eers begin om die gebeure van die afgelope week te verwerk nie.

“Ek is nog op auto-pilot en het nog nie al my emosies begin verwerk nie. Ek sukkel om te slaap en is kort-kort wakker met nagmerries – dit is uitputtend.”

Die broers se pa, Jules Fourie (55), is in Desember 2020 dood. Danie vertel hulle het daardie Sondagoggend nog lekker gegrap en Jules was later die middag besig om die swembad skoon te maak toe Marinda kliphard begin skreeu het.

“Ons het my pa se liggaam in die swembad gekry. Hy was ʼn epilepsielyer en het vooroor geval en verdrink.

“My en Freddy se eerste instink was om hom uit die swembad te haal en ek het mond-tot-mondasemhaling begin doen. Ek het vir ʼn lang tyd aangehou tot paramedici by my oorgeneem het. Hulle het hom kort daarna op die toneel dood verklaar.

“Ek is dankbaar dat die laaste keer dat ek met my pa gesels het, ek hom kon hoor lag.”

Elke oomblik gekoester

Hester Grobler (70). (Foto: Verskaf)

Ten spyte van die tragedie sê Danie hy sal die mooi herinneringe aan sy geliefdes ʼn leeftyd lank koester.

“My ma was ʼn regte huishen. Sy was mal oor juwele maak en Saterdae was haar ‘pajamadae’ wanneer niemand kom kuier het nie en almal heeldag in hul slaapklere was. Ek gaan daardie dae die meeste mis,” sê hy.

“My ouma was ʼn ‘fix-it-as-you-go’-soort mens. Sy kon enigiets met kleefband regmaak en was baie goed met haar hande. Sy het pragtige kunswerke gemaak en het gedurig stories vertel oor hoe sy in haar jonger dae allerhande motorwedrenne gedoen het.

“My sussie was versot op inkleur en een jaar het ons selfs getel hoeveel inkleurboeke sy in ʼn jaar volgemaak het – dit was 37. Sy het dit geniet om te teken en was vrygewig.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Swerwer ·

Harseer verby. Innige simpatie en meegevoel aan die 2 Broers. Daar is nie woorde nie, al wat ek weet tyd heel wonde maar dààrdie “tyd” kan niemand bepaal nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.