Broers vas oor vuurwapens, menslike oorskot

Foto: SAPD

Twee broers het Donderdag in die Benoni-landdroshof verskyn op aanklagte van moord en die besit van onwettige vuurwapens en ammunisie.

Hulle is borgtog geweier en die saak is tot 13 Augustus uitgestel.

Volgens brig. Mathapelo Peters, Gautengse polisiewoordvoerder, hou die broers se inhegtenisneming verband met ʼn moordondersoek in Putfontein waartydens daar op 19 vuurwapens en menslike oorskot beslag gelê is.

“Daar is vasgestel dat nege van die vuurwapens gelisensieerd is, maar dit word nou vir ballistiese toetsing gestuur saam met die ander tien onwettige vuurwapens en ammunisie.”

Die polisie het in Mei ʼn geregtelike doodsondersoek begin nadat ʼn erg verbrande lyk van ʼn onbekende man met ʼn skietwond in Putfontein gevind is. ʼn Vermistepersoon-saak is in dieselfde tyd by die plaaslike polisiestasie aanhangig gemaak en deur verdere ondersoek is daar vasgestel dat die liggaam wat gekry is, dié van die vermiste persoon is. ʼn Saak van moord is aanhangig gemaak.

Foto: SAPD

“Verdere ondersoek het die polisie na die eienaar van ʼn kleinhoewe gelei by wie die oorledene gehuur het. Dit het aan die lig gekom dat die eienaar ook moontlik verbind kan word met ʼn moord in Junie 2019 waar ʼn slagoffer se kop afgekap en in ʼn septiese tenk op ʼn ander kleinhoewe in Putfontein van ontslae geraak is,” het Peters gesê.

Die eienaar is Sondag in hegtenis geneem nadat daar ʼn onwettige vuurwapen en ammunisie op sy eiendom gevind is. Die polisie het Dinsdag verdere leidrade opgevolg en in Benoni op onwettige vuurwapens en ammunisie beslag gelê. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Daar is op dieselfde dag ook op ʼn ander kleinhoewe in Putfontein toegeslaan. “Daar is nog ses vuurwapens en ammunisie gevind. Die polisie het tydens hul soektog op ʼn menskop in ʼn septiese tenk afgekom.” ʼn Saak van moord is aanhangig gemaak en die eerste verdagte se broer is intussen ook in hegtenis geneem.

Die polisie is ook Woensdag na drie verskillende eiendomme waar daar op nog vuurwapens en ammunisie beslag gelê is.

“Die polisie werk nou saam met die vervolgingsowerhede om moontlik al die sake te sentraliseer aangesien daar rede is om te glo dat die verdagtes by albei moorde betrokke kan wees. Terselfdertyd kan die moontlikheid dat die verdagtes met nog misdade verbind word, nie uitgesluit word hangende die uitslag van die ballistiese toetse nie.”

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

MrMagic ·

Sjoe, ‘n egte riller. DSTV gaan seker ‘n nuwe reeks daarvan maak.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.