Broers vas wat glo polisiebeampte skiet

Argieffoto

Twee broers, Nkwebe Seatile (24) en Katiso Seatile (23) van Phase 4 in Mangaung, Bloemfontein, het Maandag in die Bloemfonteinse landdroshof verskyn op aanklag van poging tot moord en die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen.

“Die mans is op 29 Junie 2018 in hegtenis geneem ná sers. Moeletsi Mamatele (43), van die polisie in Bloemfontein, by die ChesaNyama-kitskosrestaurant in Phahameng geskiet is,” het kol. Thandi Mbambo, woordvoerder van die polisie, gesê.

Drie mans het na bewering die beampte omstreeks 20:00 oorval en tydens die konfrontasie het een van hulle ʼn vuurwapen te voorskyn gebring. “Die beampte is in sy maag geskiet. Hy is na ʼn plaaslike hospitaal geneem en is in ʼn kritieke, maar stabiele toestand.” Die aanvallers het in ʼn groen Toyota Corolla van die toneel gevlug.

Mbambo het gesê Mangaung-polisiebeamptes was omstreeks 20:10 op pad na die toneel toe hulle ʼn man met ʼn vuurwapen in Ngalostraat opgemerk het. “Hulle het hom genader en hy het die vuurwapen op die grond gegooi voor hy weggehardloop het. Die beamptes het hom agternagesit en hom in hegtenis geneem. Die beamptes het ook beslag gelê op die vuurwapen en ammunisie.”

Kort ná die man se inhegtenisneming is ʼn omvattende ondersoek van stapel gestuur en die man se broer is ook in hegtenis geneem. Beamptes het ook die wegkomvoertuig, die groen Toyota Corolla, gevind.

“Die ondersoek duur voort om nog twee verdagtes, insluitend ʼn graad 8-leerling, aan te keer.”

Die mans moet op 13 Julie weer in die hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

PATSY ·

Ek is seker die beampte was in privaat hoedanigheid by die kits-kosrestaurant maar nou laat die opskrif mens dink hy was aandiens toe hy aangeval is. Hy is maar net ‘n slagoffer soos baie van ons ook maar is. Niks meer vreemd nie en niemand is veilig nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.