Bronkhorstspruit-aanval: Man veg steeds om lewe

Waldi en Cynthia van Zyl (Foto: Verskaf)

Waldi van Zyl (64) wat einde verlede maand saam met sy vrou, Cynthia (53), op hul plaas digby Bronkhorstspruit in Gauteng deur aanvallers oorval en erg aangerand is, veg steeds om sy lewe in ’n hospitaal in Alberton.

Die egpaar is op 27 September op hul plaas Spitskop deur ses aanvallers aangehou en gemartel.

Vasti Mills, koördineerder van die Bronkhorstspruit-veiligheidinligtingsnetwerk (BVIN), is in verbinding met die Van Zyl-egpaar se familie en sê Waldi is steeds in ’n kritieke toestand in die hospitaal.

Hy het onder meer gesig- en skedelfrakture, asook wonde aan sy been opgedoen en moes die aand van die aanval ʼn noodoperasie ondergaan. Dokters moes twee dae ná die aanval sy milt verwyder nadat dit tydens die aanranding erg beskadig is.

“Hy het ’n week gelede ʼn prosedure ondergaan om die beskadigde weefsel op sy arm te verwyder sowel as ʼn operasie aan die wond aan sy been. Hy het ook gesigrekonstruksie ondergaan om sy oogkaste en kakebeen te herstel,” sê Mills.

Waldi was nadat hy in die hospitaal opgeneem is geruime tyd onder verdowing en nie by sy volle bewussyn nie. Dit was omdat sy brein baie geswel was en hy in geweldige pyn verkeer.

Cynthia is twee weke gelede uit ’n hospitaal in eMalahleni (Witbank) ontslaan en sterk tans by die huis aan. Sy is steeds baie getraumatiseerd.

Sy het ʼn kopwond opgedoen en het kneusplekke oor haar hele lyf en snye aan haar bene gehad.

Vrydag het talle mense vroegdag reeds voor die landdroshof op Bronkhorstspruit byeengekom waar ʼn verdagte, Nelson Gwambe (28), vlugtig verskyn het.

Hulle voor die aanvang van die hofverrigtinge vir die spoedige herstel van die Van Zyl-egpaar gebid en daarna die “Onse Vader” gesing.

Die groep boere staan en bid (Foto: Facebook)

Die gemeenskap is veral geruk deur die wreedheid van die plaasaanval en hoe die Van Zyl-egpaar gemartel is.

Gwambe sal na verwagting weer op 15 Oktober in die hof verskyn vir ʼn borgtogaansoek.

Die polisie het ook reeds identikits uitgereik vir die oorblywende vyf verdagtes wat nog op vrye voet is.

Waldi was die aand in sy werkswinkel op die plaas doenig toe ses mans hom oorrompel het.

Ten minste een van hulle was met ʼn vuurwapen gewapen.

Hy het om hulp geroep en Cynthia het ondersoek gaan instel en op die aanvallers afgekom terwyl hulle besig was om haar man aan te rand. Sy is daarna ook aangeval.

Die egpaar is glo met houtplanke en pype geslaan. Een van Waldi se bene is glo met ʼn hoekslyper gesny en Cynthia is met ʼn skroefbek aangerand.

Die aanvallers het ʼn groot bedrag geld geëis.

Die aanvallers is met twee vuurwapens, juwele, selfone, ʼn klein bedraggie geld asook huisware vort.

Hulle het hul buit op Waldi se wit Toyota Hilux-bakkie gelaai en in die rigting van die R104 gevlug. Van daar is hulle moontlik in die rigting van Bronkhorstspruit of Emalahleni.

Dié bakkie waarmee die verdagtes gevlug het, word nog gesoek. Die registrasienommer is YSH 728 GP.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Zandra ·

ek en ‘n hele spul ander maroela mense bid vir julle, gou gou gesond word ♥♥

Rose ·

Ek hoop die hospitaal rekening word deur die regering betaal.

Anel ·

Wou nou dieselfde sê. Tussen Ramaposa en Cele behoort hulle dit te doen.

Einstein ·

Kom ons hoop dieselfde lot tref hulle op ‘n dag. Geweld roep geweld

Dries ·

Het Bekkie al die slagoffer in die hospitaal gaan besoek?? Ek vra maar net!

Gemaskerde Sopbeen ·

Bid vir julle.
Ek wag ademloos op die Goewerment en die agbare Ramaphosa se sinvolle reaksie.

Nick ·

So hartseer maar nogsteeds wil ons boere, bid, braai en onderhandel!!!!!!

Jakes ·

Hoe dan dat Gwambe nie sy maters se wegkruipplek openbaar nie? Gebruik n hoekslyper, miskien sal hy dan praat.

Noels244 ·

Mag hulle lot hulle gou inhaal en laat hulle daardie bitter beker oor en oor drink

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.