Bronkhorstspruit-‘liefdesdriehoek’ laat drie dood

Argieffoto (Foto: imgkid.com)

Argieffoto ter illustrasie (Foto: imgkid.com)

Drie mense, waaronder ʼn polisiebeampte, is Donderdag dood ná ʼn skietervoorval in Bronkhorstspruit, oos van Pretoria.

Robbie Raburabu, waarnemende woordvoerder van die Onafhanklike Polisieondersoekdirektoraat (Opod), het aan Maroela Media gesê ʼn konstabel verbonde aan die Bronkhorstspruit-polisiestasie het onlangs sy verhouding met sy 23-jarige vriendin beëindig.

“Die vriendin is omstreeks 12:00 na ʼn perseel in die omgewing waar verskeie huisies opgerig is wat uitverhuur word,” het Raburabu gesê. “Die vrou het ʼn vriend gaan besoek wat langs haar voormalige kêrel woon en het gehoor hy het ʼn nuwe 18-jarige vriendin.”

Die vrou is na bewering na die konstabel se huis, waarna sy teruggekeer het na haar vriend se woning.

“Die buurman en die vrou het kort daarna gehoor dat die polisiebeampte en sy nuwe vriendin baklei. ʼn Geweerskoot het afgegaan en die twee het gaan ondersoek instel. Toe hulle by die polisiebeampte se huis kom, het hy sy voormalige vriendin by die deur gegryp en in die bors geskiet, waarna hy homself met sy dienspistool in sy kop geskiet het.”

Die 18-jarige vrou is met ʼn geweerskootwond aan haar gesig aangetref. Al drie mense is op die toneel dood verklaar.

Die polisie ondersoek twee sake van moord en doen ʼn geregtelike doodsondersoek. Opod ondersoek ook die voorval.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Johann Marx ·

As jy nie oor die vermoë beskik om jou standpunt soos ‘n volwassene te stel, na ‘n ander se insette te luister, en met ‘n werkbare oplossing vorendag te kom nie……dan “val” jy terug na instink toe….en gryp ‘n vuurwapen want “geweld” is al wat jy verstaan. Dis so teleurtellend tragies..

HEVW ·

n Vuurwapen in die besit van n psigiese onvolwasse persoon se besit is n dodelike moordwapen.

HEVW ·

n Vuurwapen in die besit van n psigiese onvolwasse persoon is n dodelike moordwapen. Dit is n aspek waarna gekyk moet word met keuring van polisiebeamptes.

Cherokee ·

Volgens die berig was daar twee vuurwapens in sy beheer – ‘n geweer en sy dienspistool.

riki ·

As ‘n verhouding be-eindig word – DRAAI OM en LOOP WEG….
Daar is teveel moord – aanrandings en verkragtings!!!
Waar is die kinders se ouers? Praat hulle nie oor verhoudings nie, praat hulle nie oor weedersydse respek en liefde nie???
Ons kinders – die land se kinders kort hulp!!!!

Veritas ·

Riki, jy is doodreg, ons kinders kort hulp. Hulp in die vorm van voorbeelde. Kinders se lewens word grootliks gevorm deur dit wat hulle waarneem of ervaar. Indien ‘n kind, in sy vormingsjare, konstant blootgestel word aan geweld en misdaad is die kans goed dat hy/sy dit as normaal sal aanvaar en sy karakter word daardeur gevorm. Die probleem lê dus nie by die kinders nie maar by die volwassenes wat ‘n slegte voorbeeld stel.

Asjas ·

Dis hoekom keuring so belangrik is. As hy uit ‘n huis gekom het waar daar moontlik geweld was of emosioneel onstabiel is, moes hy afgekeur gewees het.

Asjas ·

Ek is destyds in 1992 by die Polisie afgekeur, dus weet ek keuring is of was baie streng. Wie deel deesdae vir die onvolwasse kinders wapens uit??

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.