Bronkhorstspruit-plaasaanval: Verdagte hoor oor borgtog

Waldi en Cynthia van Zyl (Foto: Verskaf)

Nelson Gwambe is Vrydag in die Bronkhorstspruit-landdroshof borgtog geweier in verband met die aanval op die plaas van Waldi en Cynthia van Zyl.

Die 28-jarige Gwambe is kort ná die aanval in hegtenis geneem en is na bewering een van ses verdagtes wat betrokke was by die aanval op die Van Zyls op 27 September. Hy is in besit van een van die Van Zyls se selfone gevind.

Vasti Mills, koördineerder van die Bronkhorstspruit-veiligheidinligtingsnetwerk (BVIN), is in verbinding met die Van Zyl-egpaar se familie en sê die 64-jarige Waldi sterk steeds aan na die aanval. Cynthia (53) is reeds uit die hospitaal ontslaan en vorder goed onder omstandighede.

Die Van Zyls se wit Toyota Hilux-bakkie waarmee die verdagtes van die plaas gevlug het, word ook nog gesoek. Die registrasienommer is YSH 728 GP.

Die polisie het vroeër identikits uitgereik van die oorblywende vyf verdagtes wat nog op vrye voet is.

Enigiemand met meer inligting wat tot die verdagtes se inhegtenisneming kan lei, kan die Bronkhorstspruit-polisiestasie by 013 932 9222 of 031 932 9250 of die nommer 071 612 1937 skakel.

Die identikits (Foto: Verskaf)

Waldi was die aand in sy werkswinkel op die plaas besig toe hy skielik deur die ses mans oorrompel is. Ten minste een van hulle was met ʼn vuurwapen gewapen.

Hy het om hulp geroep en Cynthia het ondersoek gaan instel en op die aanvallers afgekom terwyl hulle besig was om haar man aan te rand. Sy is daarna ook aangeval.

Die egpaar is glo met houtplanke en pype geslaan. Een van Waldi se bene is glo met ʼn hoekslyper gesny en Cynthia is met ʼn skroefbek aangerand.

Die aanvallers het ʼn groot bedrag geld geëis.

Die aanvallers is met twee vuurwapens, juwele, selfone en ʼn klein bedraggie geld en ander huisware vort. Hulle het hul buit op Waldi se wit Toyota Hilux-bakkie gelaai en in die rigting van die R104 gevlug. Van daar is hulle moontlik in die rigting van Bronkhorstspruit of Witbank.

Die Van Zyls se seun het kort ná die aanval by die huis aangekom. Cynthia het haarself in daardie stadium reeds losgewikkel en hom geroep, waarna die nooddienste en die polisie ontbied is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Cecilia

Mooi so aan d Regter wat d moed het om hom borgrog te weier! Laat hy sit en wag vir sy saak. Hopelik duur dit ook 13jr vir d ondersoek soos in d geval met bedrogsake teen Staatsamptenare.
Sterkte aan d Van Zyl egpaar en n spoedige herstel

Nico

Geen borg vir plaas aanvallers en moordenaars, bring terug die doodstraf hulle moet op dieselfde manier gestraf word.