Brood, melk weer volop ná onluste

Ntshavheni Khumbudzo, waarnemende minister in die presidensie. (Foto: Siyabulela Duda/GCIS)

Khumbudzo Ntshavheni, waarnemende minister in die presidensie, het Woensdag tydens ’n media-inligtingsessie gesê die beskikbaarheid van voedselvoorrade het weer gestabiliseer ná die onluste verlede week in KwaZulu-Natal en Gauteng.

Ntshavheni het tydens die inligtingsessie ’n opdatering gegee oor die ingrypings van die regering om die ekonomie te herbou ná die gewelddadige betogings en plundervoorvalle wat langer as ʼn week geduur het, tot lewensverlies gelei het en ekonomiese aktiwiteite onderbreek het.

Sy het die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsagentskap (SAOG) gerusgestel dat die situasie in Suid-Afrika besig is om te stabiliseer. Dit volg nadat kommer uitgespreek is deur die buurlande wat afhanklik is van Suid-Afrika vir noodsaaklike voedselvoorsiening.

“Ons wil die SAOG-streek verseker dat wetstoepassingsagentskappe bykomende sekuriteitspersoneel langs die hoofroetes ontplooi het om die deurgang van vragmotors en die spoornetwerk te verseker,” het Ntshavheni gesê.

Volgens Ntshavheni het die regering voedselverwerkers en -verskaffers, boere en landbou-ondernemings betrek om die stabiliteit van die voedselvoorsieningsketting te verseker.

“Bakkerye is weer oop en brood, wat sedert die onluste skaars was, is sedert die naweek weer volop. Melkvoorraad is ook weer beskikbaar en suikermeulens is sedert Saterdag weer in aksie.”

Verdagtes in hof; dodetal styg

Vier van die sleutelverdagtes wat in hegtenis geneem is in verband met die onluste het Woensdag in die hof verskyn.

Ntshavheni het die identiteit van die vier bekend gemaak. Hulle is Bruce Nimmerhoudt, Sibusiso Mavuso, Ngizwe Mchunu en Clarence Tabane. Hulle het in die hof verskyn op aanklag van aanhitsing tot geweld.

“Een van die verdagtes is op borgtog vrygelaat terwyl die ander steeds in aanhouding in Gauteng bly.”

Die onluste het tot op hede reeds 276 lewens geëis en 168 moordsake word reeds ondersoek.

In KwaZulu-Natal is ʼn totaal van 234 sterftes wat met die onluste verband hou, aangemeld. Tot dusver ondersoek die polisie 151 sake van moord en is 83 geregtelike doodsondersoeke geopen. ’n Totaal van 15 inhegtenisnemings wat verband hou met moord is ook gemaak.

In Gauteng is tot dusver 42 sterftes in verband met die onluste aangemeld. Die polisie ondersoek altesaam 17 sake van moord en 25 geregtelike doodsondersoeke is begin. Daar is nog geen inhegtenisnemings gemaak wat verband hou met die moordsake nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

25 Kommentare

jongste oudste gewildste
melaney

Dit klink goed. Verlede week het ‘n man die laaste vyf bokse melk van die rak afgeneem het. Ons ander klante het hom gevra of ons net een boks kon kry maar hy het botweg geweier

Kokerboom

In terugskouing: wat het die klomp boewe, aanstigtigters, plunderaars en Zuma meelopers nou bereik? Ongelukkig het hul geen gewete, skuldgevoel, emosie en enige aanspreeklikheid!Die mier en springkaan storie hier so toepaslik . Weereens tekenend van ‘n staat wat totaal sy mandaat versaak

Chris dupreez

Wat van die inhegtenis neming van Zuma se kinders en Carl Niehaus wat die onluste openlik gepropegeer het.

Snowball

Belangrike sinnetjie daar – “boere en landbou-ondernemings betrek om die stabiliteit van die voedselvoorsieningketting te verseker” – julle in die regering mooi dink oor onteiening van plase en die destabilisering van daai einste voedselvoorsieningketting. ‘n Leë maag gaan nie omgee of die ANC se kripvreters in plek bly nie.

DIABLO

Dankie aan al die Boere daarbuite wat saamgespan het om kos weer op ons tafels te sit.
Dankie aan fabrieke wat saamgespan het om kos op ons tafels te sit en produksie in die algemeen weer te laat hardloop.
Dankie aan al die burgers wat saamgespan het om op te ruim en supply chain te help.

DIT is wat jy moes gesê het, Me Khumbudzo!