Brown gaan Eskom-kontrakte vanaf beurtkrag-era ondersoek

Argieffoto: GCIS

Lynne Brown, minister van openbare ondernemings, het Donderdag gesê ʼn ondersoek is van stapel gestuur oor Eskom-kontrakte wat terugdateer tot 2007, en dit benadruk dat sy bewerings wil ondersoek oor korrupsie wat betref die kragvoorsiener se steenkoolkontrakte.

Brown het gesê sy sal die spesiale ondersoek-eenheid versoek om die bevindings van sewe ondersoeke te gebruik wat die afgelope paar jaar by Eskom gedoen is as basis vir ʼn volskaalse ondersoek. Die bevindings sal dan aan ʼn afgetrede regter oorhandig word.

“Daar is talle bewerings van korrupsie. Ek het gesê daar is sewe verslae wat deur die raad hanteer sal word. Ek wil ook sien dat die sewe verslae, onder andere deur PwC en Deloitte, gebruik word, en omdat die SOE die struktuur het van forensiese ouditeure en forensiese ondersoekbeamptes, het ek dink dit sal die beste wees,” het sy tydens ʼn perskonferensie voor haar begrotingstoespraak gesê.

“Dit sal ook toepaslik wees indien ʼn afgetrede regter gebruik kan word om die inligting te verwerk sodat ons ʼn duidelike aanbeveling kan hê wat om te doen. Ek wil regtig ʼn regter of ʼn afgetrede regter hê sodat ek glad nie hoef te twyfel oor die geloofwaardigheid van die ondersoek nie.”

Sy het gesê die departement stel nog die verwysings op, maar het bevestig dat die bevindings van die voormalige openbare beskermer, Thuli Madonsela, se sogenaamde staatskapingsverslag ook ingesluit sal word. Dié verslag het daarop gewys dat Eskom se uitvoerende hoof Brian Molefe moontlik uit sy pad gegaan het om ʼn steenkoolkontrak aan die Gupta-familie se Tegeta Exploration toe te ken.

Die PricewaterhouseCoopers-ondersoek waarna sy verwys, het die Tegeta-steenkoolkontrak ondersoek en het, kragtens die bevindings wat vandeesmaand deur die nasionale tesourie vrygestel is, bevind dat die behoorlike prosedures nie gevolg is nie.

“Dit is hoofsaaklik kwessies oor aanskaffing, dit wat in die publiek beskikbaar is. Ek wil hê die hele steenkoolproses moet ondersoek word.”

Sy het dié ondersoek aangekondig twee dae nadat sy deur die parlementêre komitee oor openbare ondernemings veroordeel is dat sy toegelaat het dat Molefe weer as uitvoerende hoof van Eskom aangestel word en die ANC het haar daarvan beskuldig dat sy vir LP’s gelieg het.

Die minister het aan die komitee gesê sy het in April uitgevind dat Molefe nie ná Madonsela se verslag in November bedank het nie, maar dat hy eintlik ʼn vervroegde aftrede versoek het en dat hy tot dusver op onbetaalde verlof was, ná hy vir ʼn kort tydperk as ANC-LP gedien het.

Sy wou nie direk op die ANC se kommentaar reageer nie, maar het dit benadruk dat sy nie gelieg het nie. “As die leierskap sê ek moet kom, sal ek myself daar verdedig,” het Brown bygevoeg. “Ek lieg nie vir die parlement nie.”

Sy het aanvanklik die besluit, om Molefe weer by Eskom aan te stel, verdedig en gesê hy is nie skuldig bevind aan enigiets sedert Madonsela se verslag bekend gemaak is nie, maar geen verdere ondersoek het plaasgevind nie. Die ANC het haar intussen versoek om sy aanstelling te herroep en sy het vandeesweek ʼn U-draai gemaak en aan LP’s gesê sy het besluit om nie die DA se hofaansoek, om sy aanstelling tersyde te stel, teen te staan nie.

Die vakbond Solidariteit het intussen ook by die aansoek aangesluit en na bewering hofdokumente ingedien wat beweer dat Brown in kennis gestel is oor die bepalings van Molefe se kontrak met Eskom.

Natasha Mazzone, woordvoerder van die DA, het gesê minister Brown se “reputasie ssal nooit weer na dié week se fiasko herstel nie”. Sy het Brown versoek om die Eskom-raad te skors en forensiese ondersoekbeamptes na die maatskappy se hoofkantoor te stuur om dokumente te konfiskeer, voordat dit dalk vernietig word.

Pravin Gordhan, voormalige minister van finansies, het gesê die tyd het aangebreek dat die Eskom-raad bedank of afgedank word. Hy het gesê Molefe en Eskom se finansiële hoof Anoj Singh moet nie net vir hul optrede by Eskom ondersoek word nie, maar ook by Transnet, waar hulle dieselfde poste beklee.

Brown het egter gesê die ondersoek sal net Eskom dek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Johannes van Rooyen ·

Dit gaan nie gebeur nie ZUMA EN ANC koop net tyd nou gaan gaan niemand iets wil sê nie die verskoning sal wees die saak word ondersoek hulle mag niks sê nie teen die tyd wat ondersoek klaar is is verkiesing verby en niemand worry meer nie en ANC gaan net aan en sekere mense word net nog ryker

Jakobus ·

Ek vra met trane in my oë, hoe kry die ANC dit reg dat die een na die ander onderneming of departement onder hulle beheer vou? Is dit die party, is dit die mense? Als kan mos nie net Zuma se skuld wees nie. Pre ANC was dit mos nou baie anders.

Jan ·

Intussen sit almal in hul poste en kry volle salaris, en as daar die dag teen hulle besluit word, dan word hulle net weer in ‘n ander pos oorgeplaas of bevorder. ‘n Ambassadeurspos in die buiteland is dan ook nie vergesog nie.

Henk ·

Waarom kry ek die gewaarwording dat hier ‘n grootskaalse toesmeerdery aan die gang is ? Lui die petalje van die Seiti kommissie dalk enige klokkies ?

Johann ·

Nog n verslag na nog n onderdoek nadat die perde horings kry en my ouma grootjie n surf kompetisie wen! Speel vir tyd met ap die handpoppe wst mooi saamspeel! KLUG!

Jopie de Beer ·

Soos ek saak verstaan wil Brown ‘n interministeriële komissie aanstel om die vorige verslae te versamel, op te som en aan ‘n afgetrede regter voor te lê om ‘n gevolgtrekking te maak. My gevoel is dat die arme regter ‘n “sanitized” weergawe gaan ontvang en gedwing sal word om ‘n rooskleurige prentjie vry te stel. Iewers is daar ‘n dooie rot. Waarom dan nie maar net ‘n geregtelike komissie aanstel om die saak van meet af te ondersoek nie?

Eugene ·

Pres Zuma en min Brown kook alle verslae. Indien hulle Molefe na die OB se ondersoek wil heraanstel soos die geval is wys dit net die stand van morele bangkrotskap van Zuma en kie ministers ingesluit.

Hendrik ·

die regering maak van ons bevolking n klomp poppe of wil dit probeer doen.
seker ook n doel waarom ons onderwysstelsel so verswak.

cor ·

Ons sal nie gou hoor van die uitslag oor die ondersoek nie daarvan kan ons seker wees. In die tussen tyd gaan Molefe en die raad volstoom aan met hulle bedrywighede . Hierdie sogenaamde ondersoek is maar net n rookskerm want daar is nog baie wat geskep moet word

marous ·

Me Brown weet goed dat die ondersoeke verotting gaan oopkrap . Sy weet nog beter dat daar geen gevolge sal wees nie. Die geld vir die ondersoek moet uit wie se sakke kom ?

Leon ·

Why the sudden change of heart. Is it perhaps that all the evidence was destroyed. Now nothing to point fingers.

al ·

Wat is die doel van ñ minister?! Moet daar eers druk van die publiek kom, voordat daar ondersoeke kom?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.