Brown ontvang Eskom-verslag oor Trillian

Argieffoto: GCIS

Lynne Brown, minister van openbare ondernemings, het Woensdag aan LP’s gesê sy het ʼn verslag van Eskom ontvang oor sy transaksies met Trillian en McKinsey.

Brown het die verslag van Eskom geëis nadat dit aan die lig gekom het dat die kragvoorsiener vir die parlement gelieg het, maar sy het dit duidelik gestel dat sy nie teen die bestuur van semi-staatsinstellings sal optree op grond van uitgelekte e-posse nie.

Brown het aan die parlement se portefeuljekomitee oor openbare ondernemings gesê sy het Eskom se verslag Dinsdagaand ontvang, ná verskeie vertragings toe die maatskappy versuim het om genoegsame duidelikheid te gee, en sy sal haar departement se regspan vra om dit te bestudeer. Sy het bygevoeg sy betreur Eskom se wanvoorstelling van sy betalings aan Trillian, ʼn maatskappy met bande met die omstrede Gupta-familie. “Ek sien Eskom se leuens as ʼn aanval op ons demokratiese stelsel,” het Brown gesê.

Die minister moes toe verskeie vrae van LP’s beantwoord, onder meer van voormalige minister van finansies, Pravin Gordhan, oor hoe die onafhanklikheid van die rade van semi-staatinstellings verseker kan word en oor die talle bewerings van staatsinstellings wat deur sakemanne met politieke bande geplunder word.

Gordhan het genoem in Eskom se geval is die bewerings nie beperk tot Trillian nie, wat na bewering R1,6 miljard van Eskom ontvang het om geen duidelike rede nie nadat die maatskappy deur McKinsey ingebring is as ʼn bemagtigingsvennoot op ʼn kontrak vir die kragvoorsiener.

“Gaan sy Eskom net so erg berispe oor Tegeta en die ander oortredings?” het hy gevra, en gesê hy gebruik “oortredings” as ʼn eufemisme. Gordhan het verwys na bevindings deur die voormalige openbare beskermer dat Eskom uit sy pad gegaan het om ʼn winsgewende steenkoolkontrak aan Tegeta Exploration, wat deur die Gupta-familie besit word, toe te ken.

Hy het gesê hy wil ook weet of Brown beplan om die uitvoerende en finansiële hoofde van Denel te berispe nadat hulle voortgestoom het met ʼn gesamentlike sakeonderneming met ʼn sakevennoot van die Guptas in weerwil van ʼn opdrag van die nasionale tesourie. Hy wou ook weet hoe Brown beplan om te verseker dat die nuwe Eskom-raad wat in November aangestel word onafhanklik gaan wees.

“Wat kan ons verwag van die minister? Watter prosedure word gevolg om die nuwe raad aan te stel? Die aanstelling van rade is besmet deur haar en haar voorganger,” het hy gesê. “Hoe skoon gaan hierdie nuwe raad wees?”

Brown het geantwoord sy is van voorneme om toekomstige raadslede so goed as moontlik te beoordeel, maar wat die huidige raad betref het sy slegs bewerings in die media gelees en nog geen bewyse van die bewerings gesien nie.

“Ek sal nie toegee aan diegene wat wil hê koppe moet rol gebaseer op uitgelekte e-posse nie. Dit is nie so eenvoudig soos ʼn bordspeletjie nie. Laas toe ek gekyk het word mense nog onskuldig geag totdat hulle skuldig bewys is,” het sy gesê.

Gordhan het gevra in die lig van omvattende staatskaping, hoe sal staatsentiteite, ander instansies, wetstoepassingsagentskappe en die regering tot die punt kom om persone wat by die bewerings betrek word aan te kla en skuldig te bevind. “Staatsinstellings het die voerbakke vir allerhande belange geword en miljarde rande verdwyn. Die departement kan sekerlik nie gelukkig wees daarmee nie,” het hy gesê.

Lynne Brown, minister van openbare ondernemings (Foto: ANA

Brown het geantwoord na haar mening is Eskom se grootste uitdaging die versuim om aan behoorlike bestuur gehoor te gee en sy hoop die ondersoek deur die spesiale ondersoekeenheid (SOE) na die kragvoorsiener se sakekontrakte sal antwoorde gee op die oorblywende vrae oor Eskom. Sy het gesê die ondersoekeenheid sal gevra word om sy ondersoek na die Trillian-McKinsey kontrak te bespoedig.

Mondli Gungubele, die waarnemende voorsitter van die komitee, het gesê optrede wyer as ʼn enkele ondersoek is nodig. “Dat [die ondersoek] slegs op die Spesiale Ondersoekeenheid staatmaak is opsigself ʼn probleem.”

Die DA se Natasha Mazzone het gesê sy verwag ʼn afskrif van Eskom se verslag van Brown aangesien die verslag die gevolg is van haar vraag aan Brown of Eskom gelieg het oor die betalings aan Trillian.

Eskom het in Augustus erken hy het gelieg oor die betaling van R1,6 miljard aan Trillian Capital Holdings toe hy beweer het ʼn ander konsultantemaatskappy, Oliver Wyman, het bevind dat alle betalings deur Eskom bo verdenking was. Eskom het later erken dat Oliver Wyman in werklikheid die betalings uitgewys en ʼn wetlike hersiening van die transaksies aanbeveel het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Hannez ·

Sy trek net so baie voordeel uit die semi staat instellings. Daarom sal sy nie optree nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.