Brown pak EFF in hof ná dreigemente

Karima Brown by die hooggeregshof in Johannesburg. Foto: Dimpho Maja/African News Agency (ANA)

Die EFF het Maandag aan die hooggeregshof in Johannesburg gesê die veteraanjoernalis Karima Brown het die party buite die aanvaarbare perke van joernalistiek aangeval.

“Hierdie is ʼn joernalis wat in werklikheid probeer om die EFF te deregistreer. ʼn Joernalis wat sê die EFF het nie die reg om as ʼn party in Suid-Afrika te staan nie,” het adv. Vuyani Ngalwana gesê.

Brown het vroeër die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) genader om te versoek dat die verkiesingsliggaam ingryp teen die EFF en sy leier, Julius Malema.

Die OVK het Malema en Brown na ʼn gewillige bemiddelingsproses genooi, maar dit was onsuksesvol. Brown het gevolglik die hof genader. Sy versoek dat die hof beslis Malema het die verkiesingskode oortree. Sy versoek ook dat die hof Malema formeel waarsku, hom ʼn boete van R100 000 oplê en hom en die EFF beveel om amptelik om verskoning te vra.

Ngalwana het aan die hof gesê die OVK kon geen bewyse vind dat die EFF en Malema die verkiesingskode oortree het nie.

“Die applikant [Brown] is nie gelukkig met daardie besluit nie en stuur bloot ʼn opvolgaanval van stapel deur na hierdie hof te kom,” het Ngalwana gesê. “Ons stel dit dat die applikant nie op objektiewe en regverdige wyse opgetree het soos vervat in die perskode nie.”

Die stryd tussen Brown en die EFF spruit uit ʼn voorval in Maart toe Malema haar op Twitter daarvan beskuldig het dat sy “spioene” na ʼn veldtogvergadering gestuur het wat die EFF met sy “oudstes” in Ekurhuleni se Wyk 6 gehou het. Brown wou inligting oor die geleentheid na kollegas by eNCA stuur, maar het dit per ongeluk na die EFF se WhatsApp-groep gestuur.

Malema het daarop gereageer deur Brown se selfoonnommer te publiseer, wat daartoe gelei het dat EFF-ondersteuners ʼn vlaag van verbale mishandeling, beledigings en dreigemente op haar losgelaat het. Sy is selfs met verkragting en aanvalle gedreig.

Brown het in reaksie hierop ʼn saak van intimidasie teen die EFF en sy leiers aanhangig gemaak.

Ngalwana het gesê daar is geen rasionele of redelike verbintenis tussen Malema wat Brown se nommer getwiet het en die boodskappe wat sy ontvang het nie. Hy het aangevoer die verband tussen die twee is bloot bespiegeling en word nie deur bewyse ondersteun nie.

Malema het Sondag tydens ʼn steunwerwingsgeleentheid van die EFF aan sy ondersteuners gesê hy het nie ʼn probleem met Brown nie en veroordeel diegene wat haar met geweld en verkragting gedreig het. “Terselfdertyd beteken dit nie Karima Brown is nie ʼn ANC-spioen of ANC-agent nie, dit is presies wat sy is,” het Malema gesê.

Die saak duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Gert van Wierdapark ·

Kan nie glo dat ‘n ervare joernalis soos Brown so n dom “vinger foutjie” gemaak het om dit vir die EFF se “Wats Op” groepie te stuur nie!!! Wat het “Ouboet in Orkney Snork nie” altyd vir kleinboet Wimpie gese? OK maar lekker stupid ne! Say no More!

Johan ·

Hiervan het ook niks gekom nie, en niks sal verder hiervan kom nie. Sommiges kan maak net wat hulle wil en onverklaarlik daarmee wegkom.

Manna ·

Die ondersteuners van EFF se optrede is walglik ongeag Brown se politieke verbintenis.

jaco ·

sy en haar familie het dan so aktief deelgeneem aan die struggle teen apartheid. dan is dit vreemd dat sy nou die wind so erg van voor kry. seker maar karma wat ook n rol speel…

fred ·

daar is nou “nuwe” generasie in die ANC wat jobs soek ,die BEE generasie soos byv. Gigaba en die “Struggle” generasie word minder invloedryk…

Adam ·

Fred, ek reken jy tref die kol met jou argument dat die invloed van die “struggle” generasie kwyn en die van die “opvreet” generasie drasties toeneem.

Sê net ·

Soos die spreekwoord lui, “Meng jou met die semels dan…”

Heinrich ·

Smaak my na die EFF en BLF sake moet ‘O’ in die ‘OVK’ maar verander word na ‘Onbekwame’ of ‘Onbeholpe’, want ‘Onafhanklik’ is hulle lankal nie meer nie; hulle het ook maar slawe geword van die Afrika rewolusie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.