Brug stort ineen: M1-snelweg weer oop

Foto: Facebook

Foto: Facebook

Die M1-snelweg is weer oop vir verkeer nadat dit Woensdagmiddag gesluit is toe ʼn voetgangerburg wat steeds in aanbou was, ineengestort het.

Parks Tau, burgemeester van Johannesburg, het Donderdagmiddag bevestig dat die snelweg weer oopgestel is. “Die snelweg is opgeruim en ek dink alles is nou in orde. Ons laat nou weer verkeer hier toe,” het hy aan joernaliste gesê.

Drie mense is dood en 23 ander beseer toe die brug bo-op motors wat op die snelweg gery het, ineengestort het.

Ishmael Vadi, LUR van vervoer, het gesê geen ernstige skade is aan die pad aangerig nie. “Die snelweg is in ʼn veilige toestand. Tegniese mense het dit ondersoek en daar was geen strukturele skade nie, afgesien van geringe slaggate wat ontstaan het, maar weer herstel is.”

Henry Laas, die uitvoerende hoof van Murray & Roberts, die konstruksiemaatskappy wat die brug opgerig het, het gesê die maatskappy sal die slagoffers bystaan met enige mediese en begrafniskoste. “Ons is in verbinding met die families en sal die nodige ondersteuning ook aan hulle verleen,” het hy gesê.

Talle voertuie is onder die steierwerk en metaalstrukture vasgevang toe die brug inmekaargesak het. Minstens drie motors is onder die puin vasgekeer.

Tau het gesê ʼn ondersoek na die voorval word reeds gedoen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Peet Schabort ·

“Mediese- en begrafniskoste ?
Is dit al ? Geen ander eise ? Nee, ek wonder maar net . . .

Joa ·

My man het so rukkie gelede onder die brug deur gery en hy het toe gese die hele brug is skeef en het voorspel dat dit inmekaar sal val. Hy het ‘n ongelooflike oog vir reguit lyne.

sarie van heerden ·

Na die ineenstorting van die M1 brug het ek kommentaar gelewer oor die N1brug regoor die Waterkloof Hoerskool in Pretoria wat ook geruime tyd besig is om inmekaar te tuimel en wou toe ook weet WIE is verantwoordelik daarvoor want ‘n groot probleem is hier ons voorland. Enige kommentaar daaroor?

sarie van heerden ·

Wat van die brug op die N1 regoor Waterkloof Hoerskool in Pretoria wat geruime tyd beskadig is toe ‘n vragmotor daarin vasgery het en die brug nou besig is om pad te gee van die oorspronklike brug waaraan hy vasgemessel is. Daardie brug gaan binnekort inmekaarsak.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.