Brugbaba ‘kies’ agtersitplek van motor

Yolande Maritz, ‘n ervare vroedvrou, behartig die geboorte agterin die motor. (Foto: Facebook)

Sy het haar suster gehoor gil en besluit “lockdown of nie, ek is op pad”.

Só het Ronel Buys Woensdag vertel nadat haar suster, Petro Lötter (25), Dinsdag begin kraam het. Buys het vroegoggend ʼn oproep gekry dat die baba op pad is. Lötter woon by hulle ouers op ʼn kleinhoewe in die Pyramid-, Pretoria, maar hulle kon in daardie stadium nie ʼn ambulansdiens in die hande kry nie.

“Ek het ʼn botteltjie handreiniger gegryp, in my kar gespring en gery.”

Sy het haar suster omstreeks 07:30 opgelaai en was op pad na ʼn hospitaal, toe die klein pienkvoet besluit het sy het nou lank genoeg gewag – dis súlke tyd.

Daar word vir die geboorte voorberei.

Buys sê sy het intussen ʼn ambulansdiens in die hande gekry en die paramedici het haar aangeraai om so gou moontlik op ʼn veilige plek stil te hou. Lötter se kontraksies was opmekaar en die baba was op die punt om gebore te word.

Binne tien minute was Yolande Maritz, ʼn gesoute vroedvrou, en die span paramedici van Life Support 24/7, by die vulstasie waar hulle stilgehou het. Maritz, ʼn vrywilliger by dié nooddiens, sê Lötter was reeds heeltemal ontsluit en die baba het boonop voetjies eerste begin kom.

Buys vertel sy was doodbekommerd. “Ek het gesweet en was veral bekommerd omdat dit ʼn brugbaba is. Petro het vreeslik gegil, maar sy was baie sterk. Ek het nie self kinders nie en dit was die eerste keer dat ek só iets beleef het,” het Buys vertel.

Maritz, ʼn ervare en onafhanklike vroedvrou, het egter dadelik aan die werk gespring.

“Ek het my handskoene aangetrek en die baba gevang,” het Maritz gesê.

Om 09:12 is die dogtertjie gebore.

Maritz sê brugbabas word gewoonlik met behulp van ʼn keisersnee gebore. “Dit is nie die norm om normaal te kraam met ʼn brugbaba nie, beslis nie op die pad nie en allermins nie op die agtersitplek nie,” het sy vertel.

‘n Trotse ouma Martie Lötter, by haar dogter Petro en nuwe kleindogter kort na die baba se geboorte. Sy is agterin ‘n motor by ‘n vulstasie gebore.

“Normaalweg sou ʼn ambulans sy sirene aansit en jáág.”

Die babatjie het ʼn gesplete verhemelte en is met ʼn ambulans na die Steve Biko- Akademiese Hospitaal in Pretoria geneem, waar sy en haar ma steeds behandel word. By die hospitaal het streng maatreëls egter gegeld om die verspreiding van die nuwe koronavirus te bekamp. Buys moes mooipraat om toegelaat te word om klere vir haar suster en basiese benodigdhede vir die nuwe baba te gaan aflaai.

“Ons het níks ingepak nie, ons het net gerý,” sê sy.

Lötter en haar ouers is werkloos en Buys sê sy probeer help waar sy moontlik kan.

“Ek het vir Yolande [Maritz] gevra oor die koste verbonde aan hulle hulp, maar hulle het ons nie ʼn sent gevra nie. Hulle het dit uit die liefde van hulle hart gedoen.”

Die babadogtertjie is na haar geboorte saam met haar ma in ‘n hospitaal opgeneem.

Maritz, wat al tot 3 500 babas in die lewe gehelp bring het, sê dié werk is haar passie en sy doen dit om die gemeenskap te dien. Sy sê al hoe meer ouers kies deesdae tuisgeboortes – veral ook tydens die afsonderingstydperk weens vrees om die nuwe koronavirus op te doen, en ook omdat geen besoekers in dié tyd by pasiënte in hospitale toegelaat word nie.

“Ons is ten volle toegerus en werk omtrent presies soos by die hospitaal – maar by jou eie huis.”

Maritz bedryf haar eie praktyk, You & Me Birth, in Pretoria. Indien nodig, reis die span met ʼn toegeruste ambulans en hulle werk ook nou saam met ginekoloë indien ʼn ma of baba meer gespesialiseerde hulp tydens die geboorteproses benodig.

“Die wêreld het vroedvroue nou meer as ooit nodig. Mense is ook al hoe meer bewus van hulle opsies en ʼn laerisikogeval kan gemaklik by ʼn vroedvrou kraam,” sê sy.

Maritz sê dit is die vyfde baba wat sy in ʼn voertuig in die lewe help bring en “dit het ʼn baie gelukkige einde gehad”. Buys skerts dat sake agterin haar motor so professioneel verloop het, dat dit nie eens vuil is nie.

Sy sê hulle oorweeg in dié stadium Petronella Johanna Lötter as ʼn naam vir die nuwe aankomeling.

Ma en baba is gesond, maar die dogtertjie benodig weens haar gesplete lippie ekstra hulp met voeding. Buys sê hulle wag ook nog om te hoor of die baba dalk spesiale bottels gaan benodig om behoorlik melk te kan drink. Intussen maak sy bababenodigdhede bymekaar om te verseker die dogtertjie het minstens vir eers alles wat sy nodig het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Japsnoet ·

Wow baie bly alles het so goed afgeloop en geseend is jul met sulke barmhartige mense wat gehelp het sonder iets terug te verwag dit is mense met pasie vir wat hul doen. Mag die nuwe pienkvoetjie nog baie vreugde, en geluk vir jul familie besorg. Mag sy gesonde baba wees al het sy gesplete lippie bly hul n wonderwerkie kosbaar en spesiaal.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.