Bruide spoeg vuur oor diensverskaffer se jakkalsdraaie

Tientalle bruide spoeg vuur oor ʼn Pretoriase grimeerkunstenaar en haarstilis wat hulle op die nippertjie in die steek gelaat het omdat sy kwansuis nie meer die afspraak kon nakom nie. (Argieffoto: Unsplash)

Tientalle bruide spoeg vuur oor ʼn Pretoriase grimeerkunstenaar en haarstilis wat hulle op die nippertjie in die steek gelaat het omdat sy kwansuis nie meer die afspraak kon nakom nie.

Die bruide is woedend omdat Karin Roode hulle so gruwelik op hul groot dag in die steek gelaat het, en talle van hulle sukkel boonop steeds om hul terugbetalings te ontvang.

Roode skuld boonop verskeie ander haar- en grimeerkunstenaars duisende rand nadat sy hulle op die laaste oomblik voor ʼn funksie kontak om die werk namens haar te doen. Dié kunstenaars stry dan weer ʼn opdraande stryd om die geld wat Roode reeds by die bruide gekry, vir die werk wat húlle eindelik gedoen het, betaal te word.

Marilise Hattingh is ʼn Pretoriase grimeerkunstenaar vir wie Roode R3 200 skuld nadat sy werk vir haar oorgeneem het. Hattingh sê sy het dikwels hulp nodig wanneer sy groot bruidsgevolge se hare en grimering doen en het só op Roode afgekom.

In een geval het Roode haar drie dae voor ʼn troue genader om die funksie oor te neem en in ʼn ander geval op die Vrydagaand voor ʼn troue.

“Ek kry die bruide só jammer. Om te dink jy moet daar voor die kansel staan en jy het niemand gehad om jou hare en grimering te doen nie, of jy sit met iemand wat dit aaklig doen; dit is vir my te erg. Sy bederf mense se groot dag.

“Ek plaas myself in daardie bruid se skoene en dan help ek, al is ek onseker of ek betaal gaan word. Die bruide huil só dat ek eerder help as ek kan en dan later my geld probeer terugeis. Jy kan nie mense so in die steek laat nie,” sê Hattingh.

ʼn Trommel vol verskonings

Een van die bruide met wie Maroela Media gesels het, sê Roode het haar die dag voor haar troue laat weet sy het ʼn familiekrisis en kan nie meer die hare en grimering behartig nie.

Die vrou sê sy moes Roode aanvanklik dadelik betaal om in aanmerking vir ʼn spesiale afslagprys te kom, maar het daarna lank gesukkel om een of ander vorm van ooreenkoms uit haar te kry. Toe dit kom by die proeflopie vir die hare en grimering, was daar weer talle uitstelle en verskonings voor Roode dit eindelik gedoen het. Die dag voor haar troue, het Roode laat weet sy kan nie meer help nie.

“Sy het baie erg gehuil en ek was baie simpatiek,” het die bruid gesê en gevra dat haar naam nie genoem word nie.

‘n Gedeelte uit die ooreenkoms vir Roode se dienste.

Die vrou sê kort voor haar troue het sy toevallig met ʼn kollega oor haar troureëlings gesels en dié het gesê sy is deur groot trauma nadat haar aanvanklike haar- en grimeerkunstenaar haar die dag voor haar troue in die steek gelaat het, glo oor ʼn familiekrisis.

“Ek het nog vir haar gesê dit is vreeslik.” Terwyl hulle gesels het, het dit aan die lig gekom dat Roode ook die kollega se grimering en hare sou doen.

Die vrou sê die kunstenaar wat vir Roode ingestaan het, het later aangedui dat sy wel vir dié troue betaal is, maar dat Roode haar nog geld skuld vir talle ander geleenthede wat sy oorgeneem het.

In Antoinette Swanepoel van Centurion se geval het Roode op die dag van Swanepoel se proeflopie aangevoer sy het die datum van die troue verkeerd gehad. Dít was twee dae voor die troue én nadat Swanepoel reeds herhaaldelik die troudatum bevestig het.

“Ek kan nie vir jou die gevoel beskryf nie …”

Swanepoel sê sy het die een salon na die ander gebel om ʼn plaasvervanger te kry en talle boodskappe op Facebook geplaas op soek na ʼn nuwe kunstenaar om haar te help. Sy sê toe sy die talle ander boodskappe van bruide oor Roode se diens sien, het sy besef Roode gebruik dieselfde verskonings oor en oor.

Antoinette sê ten spyte van die drama, het haar nuwe grimeerkunstenaar haar pragtig laat lyk en voel. (Foto: Facebook)

ʼn Grimeerkunstenaar na wie Roode haar verwys het, het eindelik ingestem om te help.

“Ek was so gelukkig om haar in die hande te kry. Ek dink dit was die Here se manier om my te beskerm, want ek het presies gelyk soos ek wou. Sy is uit die hemel gestuur.”

Swanepoel sê sy het besluit om nie verdere stappe teen Roode te doen nie omdat dit nie “my stresvlakke werd is nie”. Boonop het sy eindelik, danksy die nuwe grimeerkunstenaar, pragtig op haar troudag gelyk.

Nog ʼn bruid wat op voorwaarde van anonimiteit met Maroela Media gesels het, sê sy ken Roode deur gemeenskaplike vriende en omdat sy mooi grimering doen, het sy op haar besluit vir die groot dag. Dié bruid het R1 485 betaal vir die proeflopies vir haar hare en grimering, die stilering op haar troudag, haar ma se grimering en Roode se reiskoste. Sy het ʼn jaar vooruit betaal, maar die dag voor haar troue het Roode laat weet haar man was in aanraking met iemand wat Covid-19 gehad het, en dat sy nie meer die afspraak kan nakom nie.

Die nuwe haar- en grimeerkunstenaars was wildvreemdelinge wat geen idee gehad het wat sy gedoen wou hê nie. Die vrou sê teen daardie tyd was sy al so moedeloos, dat sy die hare en grimering net agter die rug wou kry.

Die tranerige boodskap wat sy die oggend voor haar troue ontvang het, is glo soortgelyk aan talle ander boodskappe wat Roode vir bruide stuur.

“Daar is verskriklik baie girls wat so ingedoen is. Dit is skrikwekkend.”

Op verskillende trougroepe op Facebook is nog tientalle soortgelyke plasings van bruide wat aanvoer Roode het hulle op die nipper in die steek gelaat, of van grimeerkunstenaars wat sê hulle wag nou nog dat Roode hulle betaal vir dienste gelewer.

“Dis haar verskoning die heeltyd. Ek het September getrou en presies dieselfde … aand voor die tyd gebel en gesê sy is op pad hospitaal toe,” lui een van die boodskappe.

“Dié is vir my erg. Sy skuld my ook nog geld vir ʼn troue wat ek vir haar gedoen in Augustus al … en altyd verskonings. Ergste is dat ʼn mens haar glo en jammer gekry het met die stories,” lui nog ʼn boodskap.

Gaan glo almal terugbetaal

Roode het vandeesweek aan Maroela Media gesê sy het “ʼn verskriklike klomp mense teen Vrydag al terugbetaal” en dat haar “intensie is om almal terug te betaal”.

Roode sê sy het nie vantevore geld gehad om dit te doen nie, maar het nou hulp ingeroep om afbetalingsreëlings met klante te tref. Sy sê sy aanvaar geen nuwe besprekings nie – maar sal die besprekings nakom wat reeds gedoen is. Sy het intussen ʼn voltydse betrekking aanvaar sodat sy in ʼn beter posisie is om die geld terug te betaal.

ʼn Emosionele Roode sê sy en haar man het albei reeds twee keer Covid-19 opgedoen en dat sy onder meer sukkel met ʼn bloeiende maagseer. “Die prokureur is besig met die uiteensetting van die paaiemente wat ek terugbetaal.

“Daar het baie dinge skeefgeloop vir my wat nie net ʼn invloed het op my nie, maar ook op my familie. Ek wil graag probeer herstel en regmaak. Daarom het ek hulp gekry,” sê sy.

Annemie Fourie, Roode se regsverteenwoordiger, sê Roode het aan haar ʼn “lysie gestuur van die paar mense vir wie sy iets skuld, met ʼn uiteensetting van hoe sy hulle kan betaal. Ek het nog nie deur die hele lysie gegaan nie, maar daar is nie ʼn situasie dat sy ontken dat sy hulle geld skuld nie.

“Ek verstaan mense se frustrasie,” sê Fourie.

Roode se man, Hendré, het vandeesweek ook bevestig dat verskeie van die mense aan wie Karin geld geskuld het, reeds terugbetaal is. Sy is volgens hom besig om die res so gou moontlik terug te betaal. Hendré Roode sê verskeie mense het reeds die afbetalingsooreenkomste aanvaar. “Sy gaan glad nie weghardloop met enigiemand se geld nie. Haar bedoeling is om almal te betaal.”

Hoe kies ek die regte grimeerkunstenaar of haarstilis?

Dit is belangrik dat ʼn voornemende klant behoorlike navorsing doen – en verder kyk as net ʼn Facebook-blad of ʼn kontaknommer op ʼn aanlyn soektog. (Argieffoto: Unsplash)

Tamaryn Pretorius is ʼn professionele grimeerkunstenaar en haarstileerder en sorg al byna twee dekades lank dat almal van bruide, tot die voorbladgesigte op bekende Suid-Afrikaanse tydskrifte op hul beste lyk.

Pretorius sê dit is belangrik dat ʼn voornemende klant behoorlike navorsing doen – en verder kyk as net ʼn Facebook-blad of ʼn kontaknommer op ʼn aanlyn soektog.

Sy stel voor dat bruide die venue waar hulle trou vra vir ʼn lys van voorkeurdiensverskaffers omdat dit gewoonlik betroubare beroepslui is wat baie sake met die venue doen.

Vra ook vir verwysings van ander bruide, maak seker ʼn Instagram-blad is al geruime tyd goed gevestig, of dat jou kunstenaar ʼn professionele webwerf het, is Pretorius se raad.

Pryse wat te goed klink om waar te wees, kan ook gevaarligte laat flikker.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Casper ·

Hoekom het sy nie die afsprake nagekom soos wat sy betaal is nie?Hoekom so kort voor die afsprake kop uittrek?As sy gekanselleer het het sy mos geweet sy moet die mense se geld terug betaal.Nee wat dit was ‘n slim set van haar om geld te maak vir geen dienste.

Mieke ·

Oneerlike manier van geld inwin sonder om daarvoor te werk!!

Eric ·

Dit was ‘n set gewees hoe kan jy werk aanvaar as jy weet dat jy dit nie kan of gaan maak nie. Betaal eers deposito en op die dag van afspraak die res

Natalien ·

Ongelukkig is ek 6 jaar gelede ook so gevang. Het my geld terug gekry. Sy was wel beslis nie so goedkoop soos nou nie. Sy het my per epos, 4 dae voor my troue in kennisgestel. Dit was aaklig!

Charlene ·

Karin Roode het my kleinsus ook gevang. Op die oggend van haar troue. Sy het begin vertel van haar huweliksprobleme. Die vrou se kop raas. Gelukkig kon ons vinnig spartel en het na ‘n salon gejaag om te help, wat wel ‘n halfuur weg van die venue was. Die troue was laat en ‘n gejaag te danke aan haar. My sussie was by Karin se huis vir haar proef en syt glo ‘n pragtige upperclass huis in Faerie Glen. Ek is geskok dat sy die streke sal trek as mense weet waar sy bly. Sy het n ordentlike Instagram page wat mense verlei. Vir meisies en vroue wat nie make up artists en die bedryf ken nie, gaan sy nog maklik vang as die waarskuwing hulle nie bereik nie.

melaney ·

Dalk sal sy nou end kry met haar leuens noudat sy bekend is vir haar skaamtelose gedrag.

Hasie ·

Tipies SA …want the money and do not want to do the work ….

Marius ·

Dit is baie moeilik vir ‘n bruidspaar as so iets gebeur maar daar is altyd iets wat skeef loop op ‘n huwelik. Die fotograaf, orrelis of dominie daag nie op nie ens. Dinge gebeur , dis hoe jy dit hanteer wat saakmaak. Dit kan wees dat sy werklik probleme het en daarom nie die situasie reg hanteer het nie. As jy so ‘n diens lewer moet jy gedissiplineerd, georganiseerd en stiptelik wees. Solank sy almal wat sy skuld terugbetaal.

Piet parys ·

Gladdebek en geslepe. As dit met een bruid gebeur het is dit verstaanbaar maar soveel is bedrieg

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.