Bruidegom vlak voor troue vas vir vermeende bedrog

George Vorster kort nadat die polisie by die venue aangekom het. (Foto: Verskaf)

ʼn Man teen wie verskeie aanklagte van bedrog aanhangig gemaak is, is Saterdag, kort voor sy troue by ʼn spoggerige venue in Cathedral Peak, KwaZulu-Natal, aangekeer.

George Vorster was reeds halfpad in sy troupak geklee terwyl sy bruid, ʼn dominee, se hare en grimering gedoen word, toe die polisie toegeslaan en hom in hegtenis geneem het.

Rhyno Lombaard, ʼn private ondersoeker van LieTech Investigations, sê hy het verlede jaar al opdrag van ʼn kliënt gekry om Vorster op te spoor nadat dié sy kliënt glo uit sowat R1,4 miljoen geswendel het.

Lombaard sê hy het Vorster eindelik in die omgewing van Mtubatuba opgespoor, maar die kliënt wou nie verdere stappe doen nadat hy vasgestel het waar Vorster hom bevind nie.

Lombaard sê toe ander mense hoor hy het Vorster intussen opgespoor, het talle mense hom gekontak en ook aangevoer dat hy hulle na bewering bedrieg het. Hy het besluit om op sy eie onkoste die sake teen Vorster verder te ondersoek nadat die ander bewerings teen die 32-jarige man aan die lig gekom het.

Hy het onder meer vasgestel dat sake by die Pinetown-, Sandton- en Durban-Noord-polisie teen Vorster aanhangig gemaak is. Volgens Lombaard kon Vorster nie by die adresse wat hy opgegee het opgespoor word nie, en hy kon ook nie telefonies bereik word nie.

Minstens een lasbrief vir sy inhegtenisneming is boonop reeds uitgereik.

Lombaard sê toe hy dus vasstel dat Vorster Saterdag trou en hy kon uitpluis waar die bruilof gehou gaan word, het die polisie ingestem om Vorster daar aan te keer. Hulle het gewerk met die aanname dat Vorster minstens vir sy eie bruilof sou opdaag.

Streng veiligheid, glo selfs met gewapende lyfwagte, het by die venue geheers en nadat veiligheidspersoneel hulle eers wou verhoed om die perseel binne te gaan, is daar vasgestel in watter chalet Vorster hom moontlik bevind. Lombaard, vergesel van die polisie, het in die rigting van Vorster se chalet gestap.

“Ek het die bruid deur ʼn venster gesien, almal lyk mos maar altyd pragtig op hul troudag – en hulle was besig om haar hare en grimering te doen,” sê Lombaard.

“Ek het vir haar gewaai en sy het teruggewaai en toe weet ek Vorster is nie in daardie chalet nie.”

Hy en die polisiebeamptes is na ʼn volgende chalet en het Vorster in sy trouklere op die trappe aangekeer.

Lombaard sê die dominee wat die paartjie sou trou – boonop die bruid se pa – was uiters vies omdat daar juis op dié tydstip besluit is om hom in hegtenis te neem.

“Ek het vir hom gesê die Here doen dalk vandag sy dogter ʼn guns.”

Lombaard sê daar was eintlik geen ander keuse as om Vorster by die trouvenue in hegtenis te neem nie.

Kol. Thembeka Mbele, polisiewoordvoerder in KwaZulu-Natal, het bevestig dat Vorster Maandag op ʼn aanklag van bedrog in die Pinetown-landdroshof verskyn het nadat ʼn lasbrief vir sy inhegtenisneming uitgereik is.

“Hy sal ook aangekla word van ander sake wat by Durban-Noord aanhangig gemaak is.”

Na verneem word bly Vorster in hierdie stadium agter tralies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

38 Kommentare

Daleen ·

Plaas die bruid se pa dankbaar wees dat sy dogter baie trane gespaar is….

Phillip ·

Wat n trou dag siestog beter so as om getruod tewees en hy sit in die tronk vir weet nie hoeveel jare nie . As jy bedrogpleeg kom haal dit jou een of andertyd

Pieter J ·

Ek dink hulle het hierdie bruid ń reuse guns gedoen om hierdie ou voor die troue te arresteer. Hopelik het sy genoeg verstand en insig om permanent vir hom koebaai te sê.

melaney ·

Dit was seker ‘n groot skok vir die vrou maar ek stem saam, eerder trane nou as later. Ek hoop tog hy kry nie borg nie, anders gaan hulle hom nie maklik weer kry nie.

Misky ·

Shame, ek voel so jammer vir die bruid en kan net dink hoe hartseer sy moes wees. Maar ek glo eendag sal sy dankbaar wees en Mnr Lombaard haar baie trane en verwyte gespaar

Stofdonkie ·

“Private ondersoeker” hoekom kan hoed se mense nie self hulle werk doen nie, nou word daar gesteun op private ondersoekers om Hoed en sy bende se werk vir hulle te doen. Hoed het seker nie die kundigheid in sy bende oor om iemand opgespoor te kry nie. Die private ondersoeker het seker sommer op facebook gesien waar die skelm homself bevind.

Anoniem ·

Ai sterkte aan die vrou, jammer vir haar vernedering maar eendag sal sy besef dit was seker die beste.

Genis ·

En daar word hy toe regtig vasgemaak… ja ou maat die gereg het jou opgevang….

Elmarie ·

Jinne net betyds! Wie wil met ‘n skelm trou? En sê nou sy het nie getrou op huweliksvoorwaarfes dan kon sy dalk later saam met hom in die sop kom! Ek hoop hulle het darem steeds lekker geëet ; D

Sêmanet ·

Ek bekommer ook my kop af wat van al daai eetgoed en goed geword het.? En die onkoste? Hulle het dit seker in ‘n Bachelorette partytjie verander?

Tia ·

Het dit al by een van jul opgekom dat hy dalk valslik vir ander se bedrog aangekla word?
Sal hy dieselfde nuus blootstelling kry as hy sy onskuld kan bewys?

Phillip ·

Tia lees die brug weer mooi deer het n hof brief teen hom so is skuldig. Vir iets die word net by gevoeg

Misky ·

Teveel sake en bewyse teen hom en hy kruip al te lank weg vir ‘n “onskuldige” man

Hendrik Marthinus ·

Nee hel Tia
Watter man trou met gewapende wagte, dit alleen se baie
Het dit dalk by jou op gekom dat die bruid nie iets geweet het nie
Glo nie Hulle Ken mekaar n Paar dae nie, so vir my trek klaar n rokie?
Dalk moet Sy lig slaap vir soos Baie van julle se ‘ hoed se mense’

Elinette ·

Dink net aan die spul geld wat nou verlore gaan …. die arme vrou – ja miskien is sy jare se hartseer en trane gespaar … Om te dink sy het uitgesien na haar troudag, alles haarfyn beplan en dalk self duisende rande uitgevurk om vir alles te betaal … net om te sien hoe haar verloofde enkele ure voor hul troue in hegtenis geneem word … AS DIE KLAGTES waar is, dit teen die man bewys kan word ens. Daar is mos darem nog iets soos “onskuldig-tot-skuldig-bewys”, is daar nie?

Toy ·

Die bruid en haar ouers moet dankbaar wees dit het gebeur voor die troue plaasgevind het. Die bruidegom is die een wat sy kop in ‘n gat moet druk, nie die bruid nie.

SjN ·

Jy het sommer skeisaak kostes vir haar gespaar,so draai die wiel.

Grens ·

Ja, daar is geen “word gou ryk schemes” nie, harde werk en deursettings vermoe, dan kan jy vir jou koop wat jy wil he.

Thereza ·

nou wonder ek wat as die man onskuldig bevind word? of as die privaat speuder n foutjie gemaak het?

Mystify ·

Arme vrou, dat haar spesiale dag so uitgedraai het, maar dit is genade dat dit liewers voor die troue gebeur het, siende dat sy ‘n dominee is, en dominee as -pa het. Dit sou haar lewe heel onherstelbaar opgeneuk het.

Annelize ·

Dis nou letterlik “Dodging the bullet” sover dit die bruid aangaan. Ek wonder of die bruid geweet het van haar aanstaande se “doings & screwings” siende dat die bruid se pa dan nou vies was omrede die bruidegom op die troudag gearresteer is.

Wees liewer dankbaar dit het so gebeur, as wat jou dogter met hom getroud is en sy DAN uitgevind het. Ek glo nie die skok en teleurstelling sou anders gewees het nie, maar om wettiglik dan tot hom verbind te gewees het, sou dinge net nog moeiliker gemaak het.

modiglianigirl ·

“Na verneem word bly Vorster in hierdie stadium agter tralies.”
Hahahaha! Wel ten minste weet hulle nou waar om hom te kry. Die wiel het pragtig gedraai op dié een.

B-Man ·

Ek onthou hoe duur was my troue waarvoor ek self moes opdok. Wil amper sê dat ek kan sien hoekom die bra so opgetree het.

Danie ·

As die dominee so houding het dan het hy mos geweet sy aanstaande skoonseun is /was besig met onheilige dinge en moes hom vermaan het dat hy besig is met sonde en eerder bg eleidenis te doen.

Raakvatter ·

Ek hoop hulle het darem die kos geëet. En party gehou (bruid uitgesluit natuurlik). Als is dan klaar betaal. Ek sê so want op my veronderstelde troudag moes ek ook maar al die voorafgekoopte wyn drink. Haha.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.