Brussel-lughawe gereed om te heropen

Reddingswerkers buite die metrotreinstasie in Brussel ná 'n ontploffing op 22 Maart 2016 (APTN via AP)

Reddingswerkers buite die metrotreinstasie in Brussel ná ‘n ontploffing op 22 Maart 2016 (APTN via AP)

Die Brussel internasionale lughawe is gereed om te heropen na die selfmoord-bomaanvalle in die Belgiese hoofstad, waarin meer as 30 mense verlede week gesterf het.

Die operateur van die lughawe kon egter nog nie teen Donderdag bevestig wanneer vlugte van en na die lughawe hervat sal word nie.

Twee aanvallers het hulself op 22 Maart in die vertreksaal van die Brussel Zaventem-lughawe opgeblaas, terwyl ʼn derde ontploffing by ʼn treinstasie naby die hoofkantoor van die Europese Unie afgegaan het. Nog ʼn bom het later op die lughawe ontplof toe bomkenners op die toneel was. Niemand is in hierdie laaste ontploffing beseer nie.

Die Belgiese polisie is sedert die ontploffings op die spoor van ʼn aanvaller wat van die toneel gevlug het. Na die aanvalle is ʼn tydelik inboek-gebied by die lughawe ingerig en uitgebreide veiligheidstoetse en passasiersimulasies is vandeesweek gedoen.

Die brandweerdienste en Belgiese burgerlike lugvaartowerheid het laat Woensdag toestemming gegee om die lughawe te heropen. “Die lughawe is dus tegnies gereed om weer passasiervlugte te ontvang in die tydelike infrastruktuur wat vir inboekdoeleindes gebruik sal word,” het die lughawe-operateur in ʼn verklaring gesê.

Die voorlopige infrastruktuur kan slegs 20% van die lughawe se normale volume hanteer, wat sowat 800 vertrek-passasiers per uur beteken. Niks sal verander vir aankoms-passasiers nie, aangesien die bagasie-ontvangs en aankomsareas slegs gering beskadig en reeds herstel is.

Die operateur het gesê hy wag nou op politieke goedkeuring om te heropen en het gesê geen vlugte sal voor Vrydagaand hervat word nie.

Lees alle vorige stories oor die Brussel-aanvalle op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Pieter.v ·

En so is daar baie mense lewnens verwoes en groot finansiele verlies vir die land, en dit omdat daar oorbetaalde politici is wat hulle nie aan die waarskuwings gesteur het nie, en glo dat hulle radikale islam in hul land kan toelaat en die nie n gevaar vir Belgiese gemeenskap inhou nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.