‘BSV’ se Francois laat tonge klap ná aanrandingsklag aan lig kom

Francois Fourie van ‘Boer soek ‘n vrou’. (Foto: kykNET)

Francois Fourie maak opslae sedert die begin van die 15de seisoen van Boer soek ʼn vrou, een van kykNET se gewildste programme.

Eers het een van die vroue wat hy gekies het om saam met hom plaas toe te gaan, op die plaas aangekom en dadelik aangekondig dat sy weer die plaas gaan verlaat.

Daarna het Lorinda, wat saam met die donkerkop Vanessa op die plaas gekuier het, ook besluit om haar tasse te pak voordat Francois sy finale keuse tussen die twee vroue kon bekendmaak.

Boer Francois (51), die oudste boere-deelnemer aan vanjaar se seisoen, is nou vir ʼn ander rede in die spervuur nadat dit aan die lig gekom het dat hy in Desember 2013 aangekla is van aanranding.

Luidens ʼn Huisgenoot-berig het dié volstruisboer van Oudtshoorn in die Wes-Kaap en ʼn vrou, wie se identiteit nie bekend is nie, in 2013 tydens ʼn argument handgemeen geraak.

Francois het gevolglik ʼn boete van R200 betaal. Volgens Francois het hy eers twee dae ná die onderonsie uitgevind dat daar ʼn aanrandingsklag teen hom gemaak is.

Hy het glo ook nie geweet dat die boetebetaling met ʼn skulderkenning gepaard gaan nie.

kykNET, die kanaal wat die reeks vervaardig, het in ʼn verklaring gesê dat die deelnemers aan die program se persoonlike besonderhede eers deeglik nagegaan word voor die aanvang van elke produksie.

Lorinda, Francois en Vanessa. (Foto: kykNET)

Die deelnemers word ook verplig om enige kriminele klagte wat teen hulle gelê is, aan die vervaardigers bekend te maak. Die korrektheid van die inligting wat deur die deelnemers verskaf word, word ook deeglik deur ʼn onafhanklike assesseringsmaatskappy nagegaan.

“Gedurende die werwingsproses vir Boer soek ʼn vrou in 2022, is daar geen kriminele rekord of enige betaling of ʼn boete wat geld as ʼn skulderkenning vir mnr. Fourie gevind nie,” lui kykNET se verklaring.

Francois het, benewens die feit dat die onafhanklike assesseringsmaatskappy geen rekords kon vind nie, ook in 2015 ʼn visum om na die VSA te reis gekry. ʼn Polisieklaringsertifikaat is egter ʼn vereiste om so ʼn visum te bekom – ʼn dokument wat Francois wel kon verskaf.

“Die onafhanklike maatskappy wat die persoonlike besonderhede van al die deelnemers aan ons onderskeie werklikheidsreekse nagaan, is in die proses om te bepaal waarom die kwessie nie in 2022 opgetel is nie,” sê kykNET.

Francois en Vanessa kuier heerlik saam. (Foto: kykNET)

“kykNET stel die belange en veiligheid van die publiek en ons kykers asook ons medewerkers hoog op die prys. Dit sluit al ons televisieprogramme in. Geslagsgeweld het geen plek in die samelewing nie en ons veroordeel enige vorm van geweld ten sterkste.”

Boer Francois en Vanessa het in die tussentyd in verlede week se episode van dié reeks laat blyk dat hulle smoorverlief is.

In die tweede laaste episode van Boer soek ʼn vrou gaan die boere en hulle gekose pasmaats almal saam met vakansie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

George ·

Dis nogal rof dat jy n vrouslaner “sensasie” noem. Of hy haar nou een keer of 100 keer geslaan het, hy bly n vrouslaner.

Vonny ·

Ai ai suid afrikaners hou op skinder….!
Gun vir Francois liefde en geluk.
Die man is onskuldig!

George ·

Hy ontken nie dat hy haar geslaan het nie, hy ontken net die saak.

Suzette ·

Sal maar lugtig wees vir so man. As hy dit een keer kon doen, kan hy dit maklik weer doen……

Casper ·

As hy en Vanessa liefde kan vind gun hulle dit of gaan hy nou gediskwalifiseer word.As hy die geleentheid gekry het om ‘n boete te betaal was die aanranding nie ernstig nie.Hoekoqm dit nou weer opper.

Blits ·

R200 boete? Dis mos nie ‘n straf nie. Ek wonder dan hoe erg die aanranding was

Roek ·

Betaal ‘n boete volgens hulle maar is dit inderwaarheid skuld erkenning , , so lok hul jou in die koelte om jou dan seviel by te kom , oudste triek in die boek .

bolletjie blom ·

En nou net omdat hy op televisie veskyn wil mense hom stenig. Los die goed van die verlede in die verlede. Niemand weet ook wat regtig gebeur het nie. ‘n Wors het mos twee punte en ons almal bly in huise van glas

Lize-marie ·

Ek copy en past die volgende “Indien jy ʼn kriminele rekord kry a.g.v. die betaling van ʼn skulderkenningsboete, sal hierdie rekord geldig wees vir 10 jaar” Die saak is 10 jaar oud en ongeldig. !!!! Regtig SA!! Ek glo daar is baie belangriker sake om oor te kla en skinder as om Francois se lewe hel te maak. Was julle daar daardie dag??? Ek is self ñ vrou en is erg teen geslag geweld, maar om 10 jaar terug se storie so teen hom te gebruik is net verkeerd! Wil jy vir my sê elkeen van julle wat so vuur spoeg het nog nooit iets verkeerd gedoen in jul lewe nie? Niks nie? Miskien sou dit ook hofsake wees – maar jy was net nie gevang of aangekla nie!? Skaam julle om die man so aan te val oor sosiale media as julle nie een self daar was nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.