Buchan praat oor Covid-19-diagnose in eerste aanlyn samekoms

Angus Buchan op die verhoog by die It’s Time-gebedsbyeenkoms (27 Oktober 2018). (Foto: Reint Dykema)

Die prediker Angus Buchan het Saterdag tydens sy eerste aanlyn Mighty Men-konferensie op die wêreldwye Covid-19-pandemie gefokus.

Buchan het gesê hy en sy vrou, Jill, is nou albei van die koronavirus (Covid-19) genees. Dit het in Maart vanjaar aan die lig gekom dat Buchan en sy vrou positief vir die koronavirus getoets het.

Volgens Buchan het hy en Jill 67 dae in selfisolasie deurgebring en is hulle ná vyf koronavirustoetse uiteindelik gesond verklaar.

“Ek voel soos ʼn leeu wat uit ʼn hok gekom het, want ons is uiteindelik negatief na vyf toetse,” het hy tydens die konferensie gesê.

Buchan het deurentyd beklemtoon dat hy spesifiek met die mans van die wêreld praat.

“Mense praat gereeld oor wanneer dinge weer normaal gaan wees.  Ek sê jou nou, dinge gaan nooit weer normaal wees nie.  Die Here het jou geroep vir ʼn tyd soos hierdie.  Hierdie is jou tyd om jou ingesteldheid teenoor die wêreld te verander,” het Buchan gesê.

“Ons gaan vorentoe, ons kyk nie terug nie.  Maak nie saak wat hulle sê nie, ek sê jou nou dat God hierin is.  God het nie die koronavirus veroorsaak nie, maar God gebruik die koronavirus sodat ons met julle reg oor die wêreld kan praat en saam kan kom op een plek op dieselfde tyd.

“Ons moet bid vir diegene wat siek is en selfs meer vir diegene wat rou oor hulle geliefdes wat gesterf het,” het hy bygevoeg.

Die konferensie is geopen en afgesluit met lofprysing en kan steeds deur Facebook, TruthTV en YouTube gekyk word.  Die konferensie het teen Maandagoggend reeds byna 133 000 kykbeurte op YouTube gekry.

Jannie Moolman en Jurianne Schreuder van Suid-Afrika, Aristeu Liuz Bertozzi van Brasilië, Danny Everingham van Australië, David Harper van Brittanje, Allen Jackson van die VSA, Jeff Zak van Kanada, Peter Mutale van Zambië en Martin Swan van Nieu-Seeland was onder meer by dié wêreldwye konferensie betrokke.

Dit is die eerste keer dat dié konferensie, wat sedert 2004 jaarliks derduisende mans lok, aanlyn en dus wêreldwyd aangebied is.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Althes ·

God is groot. Absoluut amazing dat Agnes en sy vrou Jill genees het.
Niks kan die Here stuit nie – trots op die Mighty Men aanlyn

Herman ·

Amen Oom Angus, ons is bly julle is altwee genees van die virus. Ons mensdom is op n hewige afdraende. Ons moet besef ons het n Ware God wie ons aanbid. En Hy sal ons deur enige krisis help, ons moet net bid en vra. Ons moet terugkeer na ons voorvaders se waardes toe, ek inkluis, en ons godsdiens weer eerste stel. Ons het Hom nou nodiger as ooit. Die aanslae kom uit alle rigtings uit.

Grassie ·

Ek is dankbaar vir ‘n man soos oom Angus. Hy verkondig die Evangelie op die wyse wat Christus vir ons voorgeskryf het. Ek is ook bly dat hy met ons manne praat. Dit gee ons so bietjie van ons selfrespek terug. Ons word mos deesdae wyd en syd uitgekryt, onder andere deur Ramaphosa, as vroueslaners en kindermolesteerders.

Adam ·

Indien ek die situasie reg lees, is dit ‘n tragiese dag as menxe begin dink dat die pad na God deur Angus Buchan loop.

Nico ·

Lukas 20:45-47, Sê die volgende, “En terwyl die hele volk luister,sê Hy vir sy dissipels. Pasop vir die skrifgeleerdes wat graag in lang witklere rondloop en van die begroetinge op die markte hou en van die voorste banke in die sinagoges en die voorste plekke by die maaltye. Hulle eet die huise van die weduwees op en doen vir die skyn lang gebedde. Hulle sal ‘n swaarder oordeel ontvang”.

Yvonne ·

Niks maar niks kan die Here stuit nie. ….. Hy bly in beheer van Sy Skepping…Amen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.