Buffel, die see-olifant, kom weer

(Foto: Meredith Thornton/Facebook)

ʼn Seldsame besoeker het vandeesweek inwoners en toeriste by die Onrus-strand in die Wes-Kaap bekoor.

Buffel, ʼn suidelike olifantrob, is al ʼn paar keer vantevore langs die Suid-Afrikaanse kus gewaar en is terug vir sy jaarlikse vervelling in sonnige Suid-Afrika.

Maroela Media het vroeër berig olifantrobbe ondergaan dié proses jaarliks en verloor al hulle hare en naels. Hulle eet nie tydens die proses nie en verloor baie gewig terwyl hulle net op hul vetreserwes oorleef.

Luidens ʼn plasing op Facebook deur Meredith Thornton is Buffel voorheen by Duikereiland, Kaappunt en die Vishoek-strand gewaar. Volgens Animal Ocean se webwerf het Steve Kirkman Buffel in November 2014 in Buffelsbaai met die nommer 165 77 gemerk. Hy is ook al voorheen by Paternoster en by Hermanus gesien.

(Foto: Meredith Thornton/Facebook)

“Ons het ʼn ou bekende op ons Onrus-strand! Buffel, die suidelike olifantrob is geen vreemdeling vir die Suid-Afrikaanse kus nie,” lui die plasing.

Buffel word uitgeken aan die litteken bokant sy linkeroog – hy blyk blind in daardie oog te wees – en die geel merker op sy stertvin.

(Foto: Meredith Thornton/Facebook)

“Net die tyd sal leer of ons gelukkig genoeg is om hom vir ʼn lang tydperk op ons strand te hê en of hy gaan besluit om elders heen te gaan om sy jaarlikse vervellingproses te ondergaan.”

Thornton het mense gevra om afstand van die dier te handhaaf en te verseker dat hy ongesteurd en in vrede gelaat word.

“Respekteer asseblief die versperring, moenie hom terug in die see jaag of water op hom gooi nie. Hy is 100% in staat om vir homself te sorg.”

(Foto: Meredith Thornton/Facebook)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Karoo ·

Buffel ou perd…. ek wens jou ‘n veilige en rustige tyd op die strand toe.

OU SAAR ·

Aaaaaaawh.
Hoe cute is dit nou nie.
Hoop nou net die mense respekteer die ou se privaatheid en los hom uit…

Joan ·

Ai, dis nou so oulik! O ns in die binneland mis darem baie . . . . .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.