Buffelspoort-slagoffer se dood ‘onnodig’

Johannes en Linda Brits (Foto: Verskaf)

Die familie van Johannes Brits (68) wat Donderdag by die ATKV-Buffelspoort buite Rustenburg doodgeskiet is, sal hom onthou as ʼn man met ʼn sagte en eerlike hart. Terwyl hulle oorweldigend hartseer voel oor sy skielike heengaan, is hulle ook kwaad oor die grusame manier waarop hy van hulle weggeneem is.

“Wat gebeur het, was heeltemal onnodig. En dat só iets verskrikliks met só ʼn wonderlike man moes gebeur, sal ʼn mens nooit verstaan nie,” sê Natasha Brits, Johannes se skoondogter.

Johannes en sy vrou, Linda, het saam met sy sibbe en hul gades by ATKV-Buffelspoort gaan vakansie hou vir Johannes se verjaarsdag. Johannes het Maandag – op Valentynsdag – verjaar.

Niël Brits, Johannes se broerskind, sê dit is die eerste keer sedert die sibbe getrou het, dat hulle saam met vakansie weggegaan het.

Johannes, sy vrou, Linda, sy broer, Nick (79), en dié se vrou, Emma (Niël se ouers), en hul suster, Enna, en haar man, Hans Botha, het Sondag by die oord aangekom vir hul langverwagte vakansie.

Drie gewapende mans het Donderdag omstreeks 00:50 die chalet betree waar dié sibbe tuisgegaan het.

“Enna het wakker geword om pille uit haar kas te gaan haal. Dit is toe dat sy ʼn beweging agter die slaapkamergordyn gewaar. Die volgende oomblik storm daar twee mans deur die venster in die kamer in,” vertel Niël. “Ons vermoed die derde verdagte het buitekant gestaan en wag.”

Die mans het Hans op die grond platgedruk terwyl Enna uit die kamer gehardloop het na Johannes en Linda se kamer.

Die mans het dié kamer binnegekom en Enna gestamp dat sy tussen die kas en bed waar Johannes geslaap het, val. “Johannes het wakker geword en uit die bed geklim. Net toe hy opstaan, het die mans hom geskiet. Hy het op Enna geval.”

Niël se pa het van die lawaai wakker geword en gaan ondersoek instel. Hy het op die mans in die kamer afgekom. “Hulle het twee skote op my pa afgevuur, maar hy is genadiglik nie getref nie.”

Nick het daarna in ʼn vuisgeveg met die mans betrokke geraak. “My pa se arm is tydens dié onderonsie beseer.”

Die mans het drie selfone gegryp en op die vlug geslaan.

Volgens Niël het die oord se bestuurder omtrent ʼn uur later daar aangekom en ondersteuning gebied. “Die oord was baie ondersteunend en het my pa-hulle dadelik na ʼn nuwe chalet geskuif.”

Volgens kol. Adele Myburgh, polisiewoordvoerder, is nog niemand in verband met die moord vasgetrek nie.

Die ander sibbe is steeds in skok oor wat gebeur het. Niël se ouers het reeds sy broer in Oktober weens Covid-19 aan die dood afgestaan en dié verlies is nou ʼn dubbele slag vir hulle.

“Mens verstaan nie waarom dit gebeur het nie. Waarom die rowers ou, weerlose mense sou teiken en sommer net skiet nie. En dan net drie selfone steel.”

Natasha sê die familie hoop dat die mans vinnig vasgetrek word sodat geregtigheid kan geskied.

Johannes het drie jaar gelede uit die departement van landbou getree. Hy het tot voor sy dood met eksotiese voëls en bye geboer.

Johannes en Linda woon al die afgelope 30 jaar in Potchefstroom.

Hy het as jong man saam met sy pa in Lindley, Vrystaat, geboer en was nog altyd lief vir die boerdery.

Johannes word oorleef deur sy vrou, drie kinders, Sarel (38), Monique (36) en Jaco (34), hul gades en vier kleinkinders.

Die kinders moet Vrydag sy liggaam in Brits gaan uitken.

Familieman

Johannes se kinders sê hul pa het en wou altyd sy gesin en familie beskerm en dit was dan ook die laaste wat hy probeer doen het voordat hy gesterf het.

Natasha sê Johannes se dood is ʼn reuseverlies vir die familie.

“Ek moes my dogtertjie vanoggend in haar kleuterskooljuffrou se arms druk, want sy het onophoudelik gehuil oor haar oupa,” vertel Natasha.

“Sy kinders en kleinkinders was baie lief vir hom. Hy was die beste pa en oupa en het die beste vir sy kinders gegee. Ek is bevoorreg om hom die afgelope 16 jaar Pappa te kon noem.”

Natasha sê Johannes was die sout van die aarde wat altyd die beste raad gehad het. “Hy was ʼn staatmaker, ʼn wonderlike man.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

19 Kommentare

jongste oudste gewildste
casper

Tragies !!
SA word totaal onregeerbaar en wetteloos !!

Kokerboom

Kan ons kwalik geneem word as ons diep woedend word? Hoekom verdra ons die gemors regering?

Genis

Die rede hoekom weerlose mense aanrand en skiet word, is om hulle lafaarts is.. “Our people” kan ongelukkig nie n dag se eerlikke dagtaak verrig nie… Ek se almal nie, maar die meerderheid (kom ons haal EFF aan).
My innige simpatie vir julle, mag God julle vertroos en lei in die hartseer tyd..
Oordbestuurder n uur later eers daar aankom, dit lug n bietjie die wenkbroue? Dit gebeur nou te gereeld by oorde…maak mens eindelik bang.. Op jou geruste is jy eindelik n teiken…

Henri

Dis ontsaglik tragies.

Hoekom móét daar geskiet word? Die teiken is reeds “sag” en weerloos. Ouer mense wat slaap en 00:50 beroof word, kan mos eenvoudig oorrompel word? Waarom skiet?

Misky

Innige simpatie vir die familie en naasbestaandes. Vermoor vir drie selfone is absoluut skokkend.