Buit van bankroof in SA opgespoor

Argieffoto: Kent Williamson

Twee vroue sal Vrydag in die Eerstehoek-landdroshof in Mpumalanga op aanklagte van die besit van beweerde gesteelde kontant verskyn nadat hulle vroeër vandeesweek naby Badplaas in hegtenis geneem is.

Die geld wat in die vroue se besit gevind is, is na bewering verlede week tydens ʼn bankroof in Eswatini, voorheen bekend as Swaziland, gesteel.

Brig. Leonard Hlathi, woordvoerder van die polisie, het gesê die vroue, onderskeidelik 27 en 32 jaar oud, is Woensdag in Tjakastad in hegtenis geneem nadat hulle deur die polisie in Eswatini aan die bankroof verbind kon word. Die bankroof het op 8 Mei by ʼn bank in Matsapha in die buurland plaasgevind.

Volgens Hlathi het ʼn gewapende vrou haarself gedurende die voorval as ʼn man vermom, ʼn personeellid en ʼn sekuriteitswag kwansuis gyselaar geneem en toe met dié twee by die bank ingestorm. Sy het die twee gyselaars aangesê om kontant in ʼn groot sak te druk voordat sy met dié sak op die vlug geslaan het.

ʼn Voorlopige ondersoek dui egter daarop dat die personeellid en sekuriteitswag glo by die rooftog betrokke was en slegs saamgespeel het. Dié twee is sedertdien in Eswatini in hegtenis geneem, verduidelik Hlathi.

Die buit is oor die grens na Suid-Afrika gesmokkel waar dit tot onlangs by Elukwatini naby Badplaas weggesteek was sodat dit glo later onder die betrokkenes by die roof verdeel kon word. Die polisie het egter die plek waar die twee vroue hulle bevind, opgespoor en dit het tot hul inhegtenisneming gelei, het Hlathi verduidelik.

Dit is nie in die stadium duidelik hoe die tweede vrou by die voorval betrokke is nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

koos ·

Sjoe, ons kan rooftogte van Swaziland oplos, maar kan nie die koruptes in SA (met ‘n papiertrail) nie oplos nie en moet daarvoor kommisies stig wat blykbaar sonder tande is.

Dafer ·

Dit werk so Koos: Amateurs word gearresteer, want professionals kan miskien later van die idee gebruik maak. Professionals word in plek gelos, want hulle is mos polities verbind, en hulle kry dieselfde in elk geval reg sonder enige geweld.

Elna ·

Sjoe maar die televisie leer n mens slim ne? Hoe het hulle geweet om hulle te vermom voor die rowe gepleeg moet word? Wys jou nou net hoe lank is die arm van die gereg hy kom haal jou uit waar jy is.

Oujongvrou ·

Selfs die buurlande se skelms weet hier is jy tussen ewe groot skurke. Hoe kom jy oor n grens met sakke vol geld??? Maklik, daar is nie n grens nie!??

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.